Search for a story:

Vlamme laat spoor van verwoesting

News - Date: 06 October 2019

Written by: Andries van Zyl / Viewed: 931

 

Miljoene rande se skade is Maandag deur ‘n reeks wegholveldbrande in die Soutpansberg veroorsaak en vir baie kon die skielike koue en nat weer van laat Maandagaand nie op ‘n beter tyd gekom het om die vlamme onder bedwang te help bring nie.

Levubu het die ergste deurgeloop. “Die toestande was perfek vir wegholveldbrande. Die veld is uiters droog, dit was warm en daar was ‘n sterk wind,” het Levubu-boer en voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, mnr. Fanie Havinga, gesê.

Juis weens hierdie gunstige toestande het Havinga inwoners gewaarsku op geensins oop vure te maak nie. “Die toestande is te gunstig vir ‘n vuur om buite beheer te raak. Dit is wat Maandag in Levubu gebeur het. ‘n Klein, onskuldige vuurtjie het buite beheer geraak en ander onskuldige mense het die prys daarvoor betaal,” het Havinga gesê.

Die vuur het baie vinnig saam met ‘n sterk wind deur nege plase op Levubu gebrand en ‘n pad van verwoesting agtergelaat. In die proses is ongeveer 45Ha gevestigde neut- en koejawellande vernietig en baie groot skade is by die plaaslike palmkwekery aangerig. “Die rand-waarde van die skade is berekenbaar en sal heel waarskynlik in die miljoene wees, maar die tyd en toekomstige inkomste wat verloor is, is onberekenbaar. Daar is wel ‘n saak van brandstigting by die polisie geopen en die saak sal ondersoek word,” het Havinga gesê.

Buiten die brand op Levubu is berig ook ontvang van wegholveldbrande by die Ben Lavin Natuurreservaat, asook op plase op die Witvlag-pad. “Die vuur hier by ons het Maandag so net voor 20:00 uitgebreek op die grens tussen twee plase. Gelukkig was my brandbane in plek en kon ons die vlamme net voor die boorde keer,” het boer Richardt Bouwer gesê.

Maandag se verwoestende brande in die Soutpansberg kom skaars twee weke ná die Zoutpansberger ‘n artikel geplaas het wat juis inwoners teen die gevare van oop vure gewaarsku het. Na aanleiding van Maandag se skade het Havinga weer vir grondeienaars gewys op die voorskrifte van die nasionale Veld- en Bosbrandwet, Wet 101 van 1998. “Die doel van die wet is om veld-, bos- en bergbrande dwarsdeur die Republiek te bestry. Die wet maak ook voorsiening vir ‘n verskeidenheid instellings, metodes en praktyke om dié doel te bereik,” het Havinga in ‘n verklaring aan die koerant gesê en bygevoeg dat veldbrande nie grense ken nie en dat alle boere kwesbaar is wanneer ‘n brand in ‘n gebied uitbreek.

Havinga het gesê dat alle boere, wit en swart, onder dieselfde wetgewing staan. “Dit is daarom onaanvaarbaar dat sommige boere skynbaar glad nie aan die brandwetgewing voldoen nie. Hulle skep nie alleen ‘n gevaar vir hulself nie, maar ook vir die omringende boere. Dit is nie aanvaarbaar nie,” het Havinga gesê.

Wat grondeienaars se verpligtinge betref, het Havinga verwys na Hoofstuk 4 van die wet, wat ‘n verpligting plaas op alle grondeienaars om brandstroke te maak en in stand te hou. “Elke eienaar op wie se grond ‘n veldbrand kan ontstaan of van wie se grond ‘n brand kan versprei moet aan sy of haar kant van die grond ‘n brandstrook maak,” het Havinga gesê.

Spesifieke voorskrifte geld wanneer grondeienaars besluit om brandstroke te maak. “Bure moet ingelig word en daar moet voldoende voorsorg getref word dat die brand nie buite beheer raak nie. Spesifieke voorskrifte geld vir brandstroke, soos dat brandstroke breed en lank genoeg moet wees om ‘n redelike kans te hê om te verhoed dat ‘n veldbrand na naburige grond versprei. Nog ‘n belangrike voorskrif is dat die brandstroke nie gronderosie mag veroorsaak nie,” het Havinga gesê. Hy het grondeienaars uitgenooi om die SDLU se kantoor te skakel indien hulle meer inligting benodig.

Maandag het weereens gewys hoe vinnig ‘n brand buite beheer kan raak. Die vraag by baie is: Wat maak jy? In dié verband het Havinga leiding gegee. “Enige grondeienaar (en die personeel) moet alle redelike stappe doen om aangrensende grondeienaars in kennis te stel van die brand en moet alles in sy vermoë doen om te verhoed dat die brand na aangrensende grond versprei. Enige persoon wat glo dat ‘n brand enige grond, lewe, eiendom of die omgewing in gevaar kan stel, kan tesame met ander persone onder sy/haar beheer die grond betree ten einde die brand te blus en te verhoed dat dit versprei,” het Havinga gesê. Die maklikste manier, het hy gesê, is om radiokommunikasie te hê, sodat almal in die omgewing onmiddellik ingelig kan word dat daar ‘n brand ontstaan het en waar die brand ontstaan het.

Wat laasgenoemde betref, was Havinga se waarskuwing baie duidelik. “Asseblief, ons is nog in ‘n droogte vasgevang. Wees versigtig! Die klein daad om ‘n klein vuurtjie dood te maak kan groot skades beperk,” het Havinga gesê.

 

 

Digte rookwolke het die Soutpansberg Maandag verswelg met verskeie vure wat in die area gewoed het. Foto verskaf.

 

Inwoners het hul hande volg gehad om die vlamme onder bedwang te bring. Foto verskaf.

Inwoners het hul hande volg gehad om die vlamme onder bedwang te bring. Foto verskaf.

Die vuur het ongeveer 45Ha gevestigde neut- en koejawellande vernietig en baie groot skade is by die plaaslike palmkwekery aangerig. Foto verskaf.

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: andries@zoutnet.co.za

Recent Articles