ADVERTISEMENT:

 

Wyle oom Tienie Viljoen (70). Foto verskaf.

Oom Tienie was ‘n hengellegende

 

Een van die Soutpansberg se groot hengellegendes, oom Tienie Viljoen, is Saterdagaand ná ‘n lang siekbed in die ouderdom van 70 jaar oorlede.

“Hy het so 'n week gelede sy dogter geskakel en gesê hy voel nie lekker nie. Hy is toe opgeneem in die Montana Hospitaal. Daar was hy in ICU gewees tot Vrydagaand toe, waarna hy oorgeplaas is na ‘n algemene saal, waar hy oorlede is,” het suster Petro Fourie Maandag aan die Zoutpansberger gesê.

Oom Tienie het al vir ‘n geruime tyd met sy gesondheid gesukkel. ‘n Paar jaar gelede moes sy linkerbeen afgesit word om mediese redes. Sy eggenote, tannie Annetjie, wat vir jare werksaam was by Shefeera Timbers, is in Februarie verlede jaar oorlede, waarna oom Tienie in April ‘n ernstige beroerte aanval gehad het. Dit het die familie genoop om oom Tienie ná meer as vier dekades op Louis Trichardt na Pretoria te bring vir mediese versorging. “Hy is direk van die hospitaal in die Twee Riviere Aftree-oord se eenheid vir verswakte inwoners oorgeplaas. Hy het 24 uur per dag mediese versorging nodig gehad. Ná sy beroerte het hy onder meer gesukkel om te sluk en eet,” het Petro gesê.

Oom Tienie, wat vir jare werksaam was by Mount Fuji Motors, sal veral onthou word vir sy “faam” as vanger van groot karpe. Van karpvang was daar min wat jy vir oom Tienie kon leer en sy rekordvangste het in die verlede ‘n paar maal in die Zoutpansberger gepronk. Wat visvang betref, was hy vir baie soos ‘n tweede pa. “Oom was soos ‘n pa vir my gewees! Ons het saam vis gevang … baie … soos ‘n pa en seun dit doen! Oom het baie vir my gepreek soos ‘n pa dit doen. Dankie vir al die raad en liefde. Ek gaan oom baie mis, maar nou is my oom in ‘n beter plek. Ek sal altyd vir oom lief wees want oom was my tweede pa,” het Fred Fritz op sy Facebook-blad geskryf.

“Rus in vrede, my liefste pappa. Ons gaan jou so baie mis. Jy was ‘n yster en ons was so trots op jou. Jy het ons goed grootgemaak en goeie waardes geleer. Dit was ‘n moeilike tyd na mamma se dood maar sy het jou by die ‘hekkie kom haal’. Lief jou vir altyd,” het dogter Louise gesê.

‘n Roudiens vir wyle oom Tienie sal eerskomende Donderdag, 10 Oktober, in Pretoria gehou word. Hy word oorleef deur dogters Louise (en skoonseun Gerrie) en Elize (en skoonseun Jaco Oosthuizen), broer Fanie, susters Petro Fourie en Heleen Smith, ses kleinkinders en drie agterkleinkinders. Die familie het hulle dank uitgespreek teenoor alle vriende, familie en kennisse vir hulle woorde van vertroosting en ondersteuning in hierdie moeilike tyd.

 

News - Date: 12 October 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: