ADVERTISEMENT:

 

Mnre. Richard Senyolo (links) en Mark Archer van Archer Paint Centre se wakker optrede het verlede week verhoed dat hulle die slagoffer geword het van ‘n man wat hulle uit sowat R30 000 se toerusting wou swendel.

Loop maar lig vir dié “klant” se skelmstreke

 

‘n Mens moet maar die heel tyd op die uitkyk wees vir mense se skelmstreke. Dit is die besef waartoe Louis Trichardt sakeman mnr. Mark Archer weereens gekom het nadat ‘n man hom verlede week uit sowat R30 000 se toerusting probeer verkul het.

Mark, van Archer Paint Centre in Louis Trichardt, het op 29 Oktober ‘n oproep van ene mnr. M. F. Senyolo van ‘n maatskappy met die naam Oscara Construction ontvang. Hy het ‘n kwotasie gevra op ‘n indrukwekkende hoeveelheid duur produkte wat onder meer ingesluit het ‘n 6.5 kW kragopwekker, ‘n 200-liter lugdrukkompressor, ‘n 1-perdekrag waterpomp en ‘n industriële hoekslyper. Alles tesaam het die bedrag op R27 859 te staan gekom.

Mark sê hy en sy verkoopsman, mnr. Richard Sibiya, het van die begin af besef iets is nie reg nie. “Hy kon blykbaar nie eers die kwotasie reg lees nie, want die volgende dag het hy vir my ‘n betalingsbewys per e-pos gestuur ten bedrae van R29 074. Nog voordat ek sy betalingsbewys op my rekenaar kon kry, het hy al gebel om te hoor of hy solank iemand kan stuur om die goedere op te laai. Ek het maar dom gespeel en gesê ek wil eers wag dat die geld in my rekening reflekteer,” het Mark gesê.

Om dom te speel was ‘n goeie skuif aan Mark se kant. By verdere ondersoek sou dit duidelik blyk dat die betalingsbewys vervals is. Volgens die bewys is die geld by Absa Bank by Mall of the North inbetaal. “Ons het gaan kyk na die takkode op die betalingsbewys. Daar bestaan nie so ‘n bank met so ‘n takkode nie. Mens kon ook duidelik sien dat die Barclays-logo op die betalingsbewys ‘n swak kopie was wat ingetrek is op die dokument,” het Mark gesê.

Die ene Senyolo, het Mark gesê, het aanhoudend geskakel en gevra of hy maar sy goed kan kom haal. Dieselfde dag nog (30 Oktober) het ‘n man met ‘n bakkie daar opgedaag om die goedere te kom oplaai. “Hy het gesê daar is klaar daarvoor betaal. Die man het baie gesweet en ek dink hy was in op die slenter. Ek het net geweier om die goed vir hom te gee,” het Richard gesê.

Die man met die bakkie het seker maar in ‘n stadium besef dat Mark-hulle nie die goed gaan gee nie. Senyolo het met elke oproep ook meer en meer ongeskik begin raak. “Later het hy ophou skakel. Hy het seker besef ons weet van sy skelmstreke,” het Mark gesê. Die nommer wat Senyolo gebruik het was 067 359 4699.

Op ‘n vraag of Mark die polisie se hulp ingeroep het, het hy gesê dat die algemene gevoel was dat die kool nie die sous werd is nie. “’n Regskenner het vir my gesê dat dit baie moeilik is vir die polisie om sulke swendelaars vas te trek. Die persoon bestaan nie regtig nie en as jy nou gaan kyk, bestaan die selfoonnommer en e-pos adres van dié Senyolo ook nie meer nie,” het Mark gesê. Derhalwe het hy die publiek gemaan om versigtig te wees wanneer mense sulke groot transaksies oor die foon probeer beklink. Sy raad is dat ondernemings maar eers bietjie hul huiswerk gaan doen wanneer hulle betalingsbewyse van vreemde mense ontvang. Dit is ‘n goeie idee vir mense om hul bank te skakel en te bevestig dat daar wel ‘n inbetaling was, voordat goedere oorhandig word.

Met die jaar wat einde se kant toe hardloop en Kersfees om die draai, blyk dit dat almal so vinnig as moontlik hulle Kersinkopies wil doen – die skelms ook. Nog ‘n gewilde skelmstreek is die sogenaamde “deposito slenter” waar ‘n persoon “aankope” sal doen by ‘n onderneming en dan “per ongeluk” te veel geld vir die transaksie in die onderneming se rekening sal “inbetaal” met ‘n vervalste depositostrokie. Die onderneming sal dan gevra word om so gou moontlik die probleem reg te stel deur die oortollige geld terug te betaal. Hierdie geld word dan dadelik deur die swendelaar uit die rekening getrek wanneer ‘n terugbetaling gemaak word.

 

News - Date: 08 November 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: