ADVERTISEMENT:

 

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANRAL) het toestemming gegee vir die oprigting van ‘n vierrigting-verkeerslig by die besige N1/Songozwistraat-kruising as deel van die uitbreidings by die Makhado Crossing-winkelsentrum. Sommige lesers sal onthou dat daar sowat 20 jaar gelede ook verkeersligte by dieselfde kruising was. Ná talle ongelukke in die kruising is die verkeersligte destyds eers verwyder ná die dood van die 53-jarige Connie Kruger in ‘n gru-motorongeluk in die kruising. Baie meen die aanbring van die verkeersligte sal weer lei tot lewensverlies. 

Verkeersligte laat rooi ligte flikker

 

Meeste inwoners het teen hierdie tyd al die nuwe vierrigting-verkeerslig (robot) by die N1-Songozwistraat-kruising in Louis Trichardt opgemerk wat die afgelope week daar aangebring is. Min mense sal egter onthou dat ‘n verkeerslig op hierdie spesifieke kruising byna tot op die dag 18 jaar gelede die lewe gekos het van die welbekende en beminde Connie Kruger.

“Dit bring vir my slegte herinneringe weer terug,” het Connie se man, Dopper, Woensdag aan die Zoutpansberger gesê.

 Die 53-jarige Connie is op 25 Oktober 2001 op slag dood toe ‘n wegholvragmotor haar motor getref het terwyl sy deur die besige kruising beweeg het. Sy het nie die vragmotor opgemerk nie, aangesien die verkeerslig vir haar groen gewys het en sy reg van weg gehad het.

Connie se dood was die laaste strooi in ‘n lang geveg deur inwoners teen die owerhede om die verkeerslig te verwyder. In die weke voor haar dood was daar ook ander noodlottige of byna noodlottige ongelukke in dieselfde kruising. Een van die groot kampvegters teen die aanbring van die verkeerslig was dr. Suwil Rudolph. Rudolph het hom destyds sterk uitgelaat oor die aanbring van die verkeerslig en gesê dit is niks anders as ‘n doodvonnis vir motoriste nie. “Ek voel nog presies dieselfde daaroor,” het Rudolph nou weer gesê. Hy het destyds aangevoer dat studies gewys het dat vierrigting-stopstrate baie veiliger is as verkeersligte, bloot weens die feit dat stopstrate motoriste vanuit alle rigtings forseer om te stop. Dit is nie die geval by verkeersligte nie, waar persone vir wie die lig groen is nie stadiger hoef te ry of te stop nie.

Minder as ‘n week ná Connie se dood het die destydse burgemeester, wyle rdl. Brighton Tlakula, gesê dat die verkeersligte onmiddellik verwyder sal word. Haar dood het ook direk gelei tot die aanbring van die vangput (arrestor bed) vir vragmotors net verby die Cloud’s End Hotel, suid teen die Soutpansbergpas af.

“Ek het dit gesien en vir my skoondogter gesê ná 18 jaar bring hulle nou weer die robotte terug … Nadat hulle die robotte verwyder het ná Connie se dood weet ek nie van enige ander noodlottige ongeluk wat daar plaasgevind het nie,” het Dopper gesê.

Mnr. Vusi Mona, nasionale woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANRAL), het Woensdag by navraag bevestig dat SANRAL toestemming gegee het vir die oprigting van die verkeersligte om verkeersvloei by hierdie besige kruising te vergemaklik as deel van die uitbreidings aan die Makhado Crossing winkelsentrum. Die goedkeuring, het hy gesê, het gekom op aanbeveling van Siyazi Limpopo (Pty) Ltd. (wat verkeersvloei en -patrone op die roete monitor) se Julie 2017 verslag. “Nadat ons gedetailleerde planne ontvang het vir die beplande opgraderings het ons in beginsel toestemming gegee in ‘n brief gedateer 24 April 2019. ‘n Ooreenkoms ten opsigte van die implementering van die nodige padkonstruksiewerk is op 1 Julie 2019 met die applikant onderteken,” het Mona gesê. Die applikant in hierdie geval is Khulemani Masingita Holdings, die ontwikkelaars van die winkelsentrum.

Mona het gesê dat aangesien SANRAL nie die aksie geïnisieer het vir die aanbring van die verkeersligte nie, hulle nie nodig gehad het om met die gemeenskap daaroor te konsulteer nie. “Die onus berus op die applikant, Khulemani Masingita Holdings, om te verseker daar is aan al die nodige konsultasievereistes voldoen,” het Mona gesê. Hy het ook genoem dat die Makhado Munisipaliteit op 9 Oktober vanjaar toestemming gegee het dat daar met die oprigting van die verkeersligte voortgegaan kan word.

Wat padveiligheid betref, het Mona gesê dit is belangrik om daarvan kennis te neem dat die spoedgrens op hierdie stuk van die N1 60 km/u is. “SANRAL is baie ernstig oor padveiligheid en glo dat ‘n verkeerslig veilig is vir hierdie kruising, gegewe die spoedgrens,” het Mona gesê en bygevoeg dat SANRAL staatmaak op plaaslike en provinsiale wetstoepassers om te verseker dat padreëls nagekom word.

Inwoners sal maar moet wag om te sien of die verkeersligte weer ‘n “doodsvonnis vir motoriste” gaan word. “Ek vermy maar nou weer hierdie kruising en ry ‘n ander pad,” het Dopper gesê.

 

News - Date: 10 November 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: