ADVERTISEMENT:

 

Generic image.

Jongste uitbreking 'n geweldig terugslag vir vleisbedryf

 

Die regering het uit alle oorde onder skerp kritiek gekom ná ‘n tweede uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo hierdie jaar aangemeld is.

Veeartsenydienste is op 1 November in kennis gestel dat bek-en-klouseer positief in ‘n trop beeste in die Molemole distrik (Dendron area) geïdentifiseer is. Die uitbreking volg kort op die hakke van ‘n soortgelyke geval vroeër vanjaar toe die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye op 7 Januarie ‘n uitbreking van bek-en-klouseer in die Vhembe distrik bevestig het. Dit het daartoe gelei dat die Wêreld Organisasie vir Dieregesondheid (OIE) Suid-Afrika se bek-en-klouseer-vrye-sone status opgeskort het.

Ná verlede week se nuus dat bek-en-klouseer vir ‘n tweede keer dié jaar in Limpopo geïdentifiseer is, het die Nasionale Rooivleis Produsente Organisasie (RPO) in ‘n verklaring gesê die toedrag van sake is uiters kommerwekkend. “Dit het nie net ‘n negatiewe uitwerking op die rooivleisbedryf nie, maar ook op die landbou-sektor as geheel,” het die RPO gesê.

Volgens die RPO het hulle sedert die uitbreking in Januarie hard gewerk om Suid-Afrika se bek-en-klouseer-vrye-sone status te herstel. Sou daar nie weer ‘n uitbreking wees nie, kon Suid-Afrika teen Mei volgende jaar hulle bek-en-klouseer-vrye-sone status teruggekry het. “Dié jongste verwikkeling is ‘n ernstige terugslag,” het die RPO gesê.

Volgens die RPO is dit noodsaaklik dat die omvang van die probleem dringend bepaal word. “Daar moet ook nou ernstig besin word oor die kwessie van aanspreeklikheid. Bek-en-klouseer is ‘n beheerde siekte en is as sulks die primêre verantwoordelikheid van die nasionale en provinsiale departemente van landbou om dit te beheer,” het die RPO gesê, maar bygevoeg dat hulle begrip het vir die feit dat die owerhede tans onder kapasiteitsprobleme gebuk gaan. “…maar dit het waarskynlik tyd geword om te prioritiseer en op die kritieke aspekte te fokus in terme van beheermaatreëls van siektes soos bek-en-klouseer, wat ‘n implikasie op internasionale handel het,” het die RPO gesê.

Die RPO het gesê dat verlede week se uitbreking weereens die noodsaaklikheid van ‘n naspeurbaarheidstelsel in die lewendehawebedryf onderstreep het. Daar sal ook, het die RPO gesê, gefokus moet word op die daarstel van kompartemente in terme van dieresiektebeheer ten einde te voorkom dat internasionale handel tot ‘n groot mate gestaak word wanneer bek-en-klouseer slegs in ’n geïsoleerde gebied uitbreek.

Die RPO het hulself weereens bereidwillig verklaar om die owerhede by te staan met die proses. “Die RPO sal, soos in die verlede, deur middel van die provinsiale en nasionale dieregesondheidsforums sy volle ondersteuning gee om oplossings te help vind. Die opskerping van biosekurieteitsmaatreëls op plase is nou kritiek noodsaaklik en die beweging van vee in die gebied moet tot ’n minimum beperk word. Enige verdagte geval van die siekte in diere moet onmiddellik gerapporteer word aan die plaaslike staatsveearts,” het die RPO gesê.

Die Demokratiese Alliansie (DA) in die provinsie het ook skerp reageer ná die jongste uitbreking. Hulle het in ‘n verklaring Maandag gesê dat hulle die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, gevra het om ondersoek in te stel na die kroniese uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo. In dieselfde verklaring het die DA ook gesê hulle soek ook dringend terugvoer van die Landbounavorsingsraad oor die vordering in die bou van ‘n bek-en-klouseer fasiliteit wat veronderstel was om noodsaaklik entstof teen hierdie hoogs aansteeklike siekte te vervaardig. Die DA het gesê dat die Landbounavorsingsraad in 2010 ’n bedrag van R188 miljoen gekry het vir die bou van die fasiliteit, maar bykans 10 jaar later is die bouwerk steeds nie voltooi nie.

Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het ná verlede week se uitbreking gesê dat die betrokke plaas onder kwarantyn geplaas is en dat verdere kontak met die besmette diere en ander diere op die plaas verhoed word. Die department het gesê dat hulle ook met ‘n proses begin het om die oorsprong van die siekte te bepaal, asook gebiede waarna die siekte kon versprei het.

Intussen het Zimbabwe, Botswana en Swaziland reeds vleis-invoere uit Suid-Afrika opgeskort.

 

News - Date: 16 November 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: