ADVERTISEMENT:

 

Verbruikers moet hulle daarop voorberei dat die prys van vleis en vleisprodukte drasties gaan verhoog. Foto: TLU SA.

Unie waarsku dat verbruikers die prys gaan betaal

 

Die TLU SA het verlede week gesê hulle is geskok oor die aankondiging dat lewende hawe veilings in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng en Noordwes tot verdere kennisgewing deur die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling opgeskort is. Dit volg ná die uitbreking van bek-en-klouseer in die Molemole-distrik (Dendron) van Limpopo.

“Dit is ‘n groot slag vir die vee- en wildboere in die land, wat alreeds deur knellende droogte op hulle knieë gedwing word,” het mnr. Henk van de Graaf, die streeksvoorsitter van TLU SA Noord, in ‘n verklaring gesê. Volgens hom was die verkoop van kuddes die enigste oorblywende oplossing vir boere wat nie meer voer vir hulle diere het nie. “…en nou word hierdie uitweg ook weggeruk,” het Van de Graaf gesê.

TLU SA het in hul verklaring gesê dat hulle besef dat ernstige optrede nou nodig is om die hoogs aansteeklike siekte te voorkom, maar glo nie dat die opskort van veilings die probleem gaan oplos nie. Volgens hulle moet die regering eerder seker maak dat die maatreëls wat oorspronklik ingestel is om bek-en-klouseer te verhoed, streng nagevolg en geïmplementeer moet word.

“Die verbod op veilings hou ook baie ernstige gevolge vir die verbruiker in, veral oor die feesseisoen wat om die draai lê,” het Van de Graaf gesê. Hy het gesê verbruikers moet hulle daarop voorberei dat die prys van vleis en vleisprodukte drasties gaan verhoog. “Vleis gaan ook baie skaars word," het Van de Graaf gesê.

TLU SA het ook in die verklaring aangekondig dat hulle ‘n databasis van kopers en verkopers van vleis gaan saamstel wat boere dan die geleentheid sal gee om steeds bek-en-klouseer-vrye vleis te verkoop. Hulle het gesê hulle ondersoek ook die moontlikheid om ‘n direkte verhandelingsplatform van skoon en veilige vleis in te span om boere te help. Enige kopers en verkopers van vleis, asook boere wat verliese ly as gevolg van bek-en-klouseer, is gevra om dringend met TLU SA in verbinding tree deur Wilma Prinsloo by 082 555 4553 te skakel of ‘n e-pos te stuur aan [email protected].

Intussen het die Demokratiese Alliansie (DA) in ‘n verklaring Maandag gesê hulle neem kennis van Minister Thoko Didiza’s se besluit om lewende hawe veilings op te skort in die vier provinsies. Die DA het gesê dat alhoewel Didiza se departement glo die opskorting van veilings is ‘n manier om die verspreiding van die siekte te stop, dit ‘n swak poging is om die simptome van die krisis aan te spreek, eerder as die siekte self.

Volgens die DA het die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, die Landbounavorsingsraad en Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) in hul mandaat misluk om lewende hawe boere se vee teen die siekte te beskerm. Die DA het spesifiek verwys na die R188 miljoen wat in 2010 aan die Landbounavorsingsraad bewillig is vir die bou van ‘n bek-en-klouseer fasiliteit wat veronderstel was om noodsaaklik entstof teen hierdie hoogs aansteeklike siekte te vervaardig. Tien jaar later is die fasiliteit steeds nie klaar nie. Die DA het verder gesê dat die feit dat dieselfde serotipe virus gevind is in die beeste in Molemole as dié van beeste in die Vhembe uitbreking in Januarie, bewys is dat die Departement nie genoeg doen om die verspreiding van die siekte te bekamp nie. Volgens die DA sal die ekonomie en voedselsekerheid ernstig skade lei as die OBP en Landbounavorsingsraad voortgaan op hulle huidige trajek.  

 

News - Date: 21 November 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: