ADVERTISEMENT:

 

Wyle Wiann Bezuidenhout (30). Foto verskaf.

Hartseer na skielike dood van jong sakeman

 

Die nuus dat bekende jong Louis Trichardt sakeman Wiann Bezuidenhout (30) vroeg Maandagoggend sy eie lewe geneem het, het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

“Depressie is ‘n verskriklike ding,” het ‘n uiters bedroefde pa Bez Woensdagoggend aan die Zoutpansberger gesê. Die dood van sy en ma Karen se oudste seun het die ouerpaar totaal platgeslaan. Bez het gesê dat niks hulle vir die nuus kon voorberei nie. “Vrydagaand het ons nog saam gekuier. Hy was opgewek en opgewonde oor die nuwe jaar met die nuus dat hy twee groot kontrakte gekry het. Met sy besigheid het dit goed gegaan. Alles was goed en ons het nog vir die toekoms beplan. Nou is daar niks,” het Bez gesê.

Wiann is op 5 September 1989 in Pretoria gebore. Hy sou later sy hoërskoolloopbaan by Hoërskool Louis Trichardt voltooi waar hy in 2007 gematrikuleer het. Ná skool het hy sy eie baie suksesvolle konstruksiemaatskappy begin.

Van jongs af, sê sy ouers, was staal konstruksiewerk in sy bloed. “Hy sou ná skool en sportoefening in Standerd 8 tot laataand werk om watertenkstaanders en hekke in ons tuin te bou. Later het hy vir homself ‘n klein struktuur gebou om uit te werk,” het Karen gesê.

Ná skool het Wiann by Alert Staal begin werk, maar hy het steeds in sy vrye tyd eiehandig nog watertenkstaanders en hekke gebou. “Sy spasie op die plaas het egter te klein geraak en toe het hy begin om vir homself ‘n werkswinkel te bou. Elke steen, elke sink, elke lig het hy self alleen gebou ná werk en oor naweke. Nooit was daar net stilsit en niks doen nie,” het Karen gesê.

Stadig maar seker het Wiann vir homself begin naam maak en hy het by Alert Staal bedank nadat sy besigheid begin groei het. Buiten die watertenstaanders en hekke, het hy ook met die konstruksie van afdakke en kleiner strukture begin.

Steeds het Wiann se besigheid gegroei en hy het WB Construction begin. In ‘n redelik kort tydperk was Wiann se besigheid en sy werkspanne reeds by verskeie groot plaaslike projekte betrokke, insluitend by die nuwe Bridge Auto-vulstasie, Caltex, Premjee, Die Oval van Rampie Gilfillan en nog vele ander strukture in die dorp. Sy werk strek van Louis Trichardt, Alldays, Levubu, Waterpoort en Polokwane tot by Lebowagomo, Giyani, Tzaneen en oor die hele Limpopo en selfs tot in Mpumalanga. Ses jaar gelede het Wiann ook Palcor begin, waar hy ‘n palissade fabriek opgerig en palissades verskaf het aan die groothandel.

“Sy werk was van hoogstaande gehalte. Sy standaarde was ongelooflik hoog en hy was altyd ‘hands on’. Nooit was hy te bang om self te werk of saam met sy werkers te werk nie. Hy het geen lui haar op sy kop gehad nie,” het Karen gesê.

Wiann was een van die streek se gerespekteerde jong sakemanne en is in 2015 benoem as Klein Sakeman van die Jaar. “Soveel mense het met lof van hom gepraat. Hy was 'n mense mens wat almal gelyk en met respek behandel het, altyd vriendelik met almal. Ook het hy baie gedoen vir liefdadigheid en het hy gehelp waar hy kon,” het Karen gesê.

Vir Karen en Bez is daar baie vrae. “Hy het nog soveel drome en planne gehad, maar ongelukkig het depressie die oorhand gekry tot op ‘n punt waar hy net nie meer kon nie,” het Bez en Karen gesê.

Wyle Wiann word Dinsdag, 26 November, om 11:00 vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente (Haantjiekerk) begrawe. Hy word oorleef deur sy ouers, vrou Cornel, kinders Xante en Jayden en broer Vernon.

Die familie het hul dank uitgespreek teenoor die hele Soutpansberg-gemeenskap vir hulle woorde van vertroosting en ondersteuning in hierdie moeilike tyd en afgesluit met die woord: "We may never know what was inside that took him away from us, but he did the best he could, until he couldn't any longer. He never wanted to leave us; he just didn't know how to stay."

News - Date: 24 November 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: