ADVERTISEMENT:

 

‘n Lieflike gesig vir enige boer, veral in die droë Bosveld. Hierdie foto is geneem deur Louis Trichardt sakeman mnr. Johan Gilfillan van Alldays Safaris na goeie reën oor die naweek.

Lekker nat, maar steeds droog

 

Baie boere in die Soutpansberg begin so stadig maar seker ‘n sug van verligting slaak ná goeie reënneerslae oor die streek die afgelope drie weke.

Die afgelope naweek was dit die Alldays-omgewing wat goeie reën ontvang het. Een van die baie tevrede inwoners is Louis Trichardt sakeman en boer mnr. Johan Gilfillan van Alldays Safaris en eienaar van die Marula Mall op Alldays.

Volgens Gilfillan het tussen 80 mm en 100 mm reën Saterdagaand op sy plaas sowat 7 km vanaf Alldays uitgesak. Die reënmeter op sy plaas het oorgeloop. “Ons paaie het redelik sleg verspoel, maar die dankbaarheid vir die reën ná die droogte is baie meer as die herstelwerk aan die skade.  Ons het 'n hele paar gronddamme op die plaas wat gelukkig die stortreën oorleef het, en hulle is almal vol,” het Gilfillan gesê.

By die Mall op Alldays het Gilfillan gelukkig nie skade gekry nie. “Die hele groot parkeerarea was onder water wat net-net begin oorloop het op die winkelvloer toe die reën begin bedaar. Die stormwaterpype is vir 'n groot reën ontwerp, maar het amper nie voorgebly nie,” het Gilfillan gesê. Hy het bygevoeg dat hy nie weet hoeveel en hoe wyd dit gereën het nie, “maar ons is dankbaar vir elke bietjie wat ons kry”.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) se langtermyn voorspelling vir November tot Januarie 2020 is die El Niño Suidelike Ossillasie tans in ‘n neutrale fase en sal dit na alle waarskynlikheid neutraal bly vir die komende somer reënseisoen. Die SAWD het gesê dat, as gevolg van hierdie neutrale fase, dit baie moeilik is om enige voorspellings te maak.

Tog het die SAWD gesê dat ondergemiddelde reënval verwag word oor die oostelike gedeeltes van die land in die vroeë somer (November tot Januarie), met ‘n bogemiddelde reënvalvoorspelling vir die westelike en sentrale gedeelte van die land. Ondergemiddelde reënvaltoestande word ook voorspel vir die middel van die somer (Desember tot Februarie) met nog ‘n groter kans van ondergemiddelde reënval wat na die res van die land versprei in die laat somer (Januarie tot Maart). 

Wat temperature betref, het die SAWD gesê dat temperature meestal hoër as normaalweg sal wees, veral in die middel somerperiode.

Te midde van die reën, en alhoewel almal baie dankbaar is vir elke druppel, het die voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, mnr. Fanie Havinga, gesê dat die streek ten minste twee of drie goeie reënvalsiesoene nodig het om te kan sê die huidige droogtetoestand gebreek is. “Ek hanteer steeds die huidige situasie as ‘n droogte,” het Havinga gesê.

In Louis Trichardt het een of twee inwoners reeds gerapporteer dat hulle al amper 200 mm reën vir November gemeet het. Met die reën wat nie orals dieselfde uitgesak het nie, verskil reënvalsyfers oor die Soutpansberg ook dramaties. Tog wil dit voorkom  asof 100 mm reën in die algemeen oor die gebied uitgesak het sedert die begin van die maand. Dit is steeds ‘n druppel in die emmer van wat nodig is. Damvlakke in die area is ook traag om te styg, met die Albasinidam wat vanaf 18 tot 25 November maar vanaf 63,3% tot 63,8% gestyf het. Die Ebenezerdam het in die ooreenstemmende tydperk vanaf 31,9% na 30,9% gedaal, terwyl die Tzaneendam se watervlak krisisafmetings aanneem. Dié dam het die afgelope week vanaf 5,5% na 5,4% gedaal. Die enigste twee groot damme in die streek wat noemenswaardige stygings getoon het die afgelope week, was die Flag Boshielo-dam wat vanaf 49,7% na 52,7% gestyg het (soos op 25 November) en die Glen Alpinedam, wat vanaf 18,6% na 35,9% gestyg het. (Vir volledige damvlakke, sien kolom op bladsy 12).  

 

News - Date: 30 November 2019

Recent Articles

Search for a story:

 

Marula Mall op Alldays het byna begin oorstroom, nadat meer as 100mm reën Saterdagaand daar uitgesak het. Foto verskaf.

Te midde van die landswye droogtetoestande is meegaande ‘n rare gesig. Mnr. Johan Gilfillan het hierdie foto van sy reënmeter wat oorgeloop het die afgelope naweek op sy plaas in die Alldays-omgewing geneem.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: