ADVERTISEMENT:

 

Boere gemaan om paraatheid oor Kerstyd op te skerp

 

In ‘n gesamentlike verklaring het Agri SA en TLU SA Dinsdag gesê dat dit moeilik is om hulle lede tot kalmte te maan om nie onverantwoordelik op te tree nie, te midde van die voortslepende voorkoms van plaasaanvalle en die misdaadgolf wat die landbougemeenskap verswelg.

“Die 53 moorde wat deur die organisasies vanjaar aangeteken is, in vergelyking met die 54 wat verlede jaar voorgekom het, is onrusbarend en kan nog styg tot die einde van die jaar. Daar is reeds 383 plaasaanvalle vanjaar aangeteken, teenoor die 394 van 2018. Dit is aanduidend van die misdaadrisiko waaraan boere en plaaswerkers daagliks blootgestel is,” het die organisasies in die verklaring gesê.

Beide organisasies se veiligheidstrukture het ná afloop van ‘n onlangse gesprek hulle ten gunste daarvan uitgespreek om ‘n Landelike Beveiligingskoördineringsforum te vestig om samewerking en eenheid oor landelike veiligheid te bevorder binne die hersiene Landelike Beveiligingstrategie. “Die forum sal ook ‘n rol speel in die koördinering van ‘n eenvormige standpunt en/of beleid oor landelike veiligheid en samewerking tot op grondvlak bevorder. Aangesien veediefstal die grootste misdaadbedreiging vir veeboere is, sal die Veediefstalvoorkomingsforum deel van die Veiligheidskoördineringsforum wees,” het die organisasies gesê.

Mense in landelike gebiede is gemaan dat die naderende feestyd geleenthede aan misdadigers bied om toe te slaan op niksvermoedende mense. “Dit is daarom noodsaaklik dat die boerderygemeenskap hulle paraatheid sal opskerp en voortdurend waaksaam sal wees,” het die organisasies gesê. Beide organisasies het ook ‘n dringende beroep op die polisie gedoen om in hulle beplanning vir die feestyd ‘n verskerpte poging aan te wend om die landbougemeenskap te beskerm, deur verhoogde sigbare polisiëring en deur misdaadvoorkomingsoperasies.

Die twee organisasies het gesê dat die volgende goeie gewoontes ten opsigte van veiligheid gedurende die feestyd ernstig oorweeg moet word:

* Die grondeienaar moet die protokol vir plaastoegang toepas en op sy regte as eienaar van sy plaas staan. Pas effektiewe toegangsbeheer toe en wees altyd bewus van wie jou plaas besoek.

* Grondeienaars moet betrokke raak by hulle plaaslike georganiseerde landboustrukture en plaaswagte.

* Maak seker dat alternatiewe kommunikasiemiddele soos radio’s beskikbaar is vir noodkommunikasie tydens krag- en selfoononderbrekings.

* Vermy sover moontlik die verkoop van plaasprodukte direk van die plaas, veral noudat bek-en-klouseer sy kop uitgesteek het. Dit het die lewens van talle boere reeds gekos, soos die onlangse skietdood van die boer van Wolmaranstad, waar misdadigers onder die voorwendsel om skape te koop, die boer koelbloedig doodgeskiet het. In ‘n ander voorval is ‘n boer ernstig aangerand deur voornemende veekopers.

* Maak seker dat behoorlike kontrole uitgeoefen word oor landbou-insette en -toerusting en dat dit in die nag behoorlik toegesluit word.

* Maak seker van die beskikbaarheid van regsverteenwoordiging en watter staatsaanklaers beskikbaar is.

* Wees daarop bedag dat veediefstal in dié tyd mag toeneem, tel jou vee gereeld en wees bewus van waar jou vee wei.

* Wanneer jy op vakansie gaan, maak seker dat waardevolle besittings soos onder andere vuurwapens veilig geberg is.

* Maak besoekers deel van jou veiligheidsbeplanning, sodat hulle ten volle ingelig is hoe om in ‘n noodsituasie op te tree.

“Geen beskermingsmaatreëls is ‘n waarborg dat ‘n plaasaanval of misdaad nie sal plaasvind nie, maar dit kan ‘n aanval vertraag of bemoeilik en inwoners die geleentheid gee om alarm te maak. ‘n Beroep word op die landbougemeenskap gedoen om in dié tyd hulle vlakke van paraatheid en veiligheid te verhoog en die basiese beveiligingmaatreëls soos huis- en haardbeskerming streng toe te pas. Meld alle verdagte optrede en -persone by jou naaste polisiestasie aan en goeie kommunikasie met die plaaslike polisie is noodsaaklik en moet gehandhaaf word,” het die organisasies gesê.

 

News - Date: 09 December 2019

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: