ADVERTISEMENT:

 

In die Knott-familie se video kan gesien word hoe die familie met hul viertrekvoertuig bufferdiep deur die vloedwater ry ná Maandag se wolkbreuk. Foto verskaf.

Die hemel se sluise gaan oop in Soutpansberg

 

“Hierdie reën gaan ons oor die Kerstyd deurtrek en ons kan die nuwe jaar ingaan met bietjie meer van ‘n geruste hart.” Dankbare woorde van mnr. Fanie Havinga, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, nadat talle reënmeters die afgelope week in die Soutpansberg oorgeloop het.

“Dit het wyd gereën en ons is baie tevrede. Maasstroom se kant toe, waar dit werklik baie droog was en ons voer aangery het dat dit klap, het ook 100 mm die afgelope week gekry,” het Fanie Woensdagoggend gesê. Volgens hom dui alles daarop dat die streek ‘n goeie reënvalseisoen gaan hê. “Hierdie reën is goed. Die vog kom uit Angola waar ons reën vandaan moet kom. Dit is ‘n aanduiding van ‘n goeie reënseisoen,” het Fanie gesê.

Goeie reën het sedert Saterdag oor die hele Soutpansberg begin uitsak, met neerslae van meer as 200 mm reën wat in dié periode op plekke in die Levubu-omgewing aangeteken is. Die meeste reën is egter Maandag plek-plek gemeet met meer as 100 mm wat in 40 minute in die Waterpoort-omgewing geval het. In Tshipise se rigting was daar ook Maandag ‘n wolkbreuk gewees. Mense het video’s van strome water wat soos sterkvloeiende riviere deur die normaalweg dorre Bosveld vloei kort daarna op sosiale media begin deel.

Een van die video’s is geneem deur die Knott-familie van Greater Kuduland Safaris. Volgens mnr. Howard Knott het hulle sedert verlede Saterdag tot Woensdagoggend 180 mm op die plaas gemeet. Soortgelyke reën, wat tot gelokaliseerde vloede gely het, is op hul sitrusplaas in die Doreen-omgewing gemeet. “Ons het van ‘n hittegolf tot vloede gegaan in vyf dae,” het Knott se ma, Maureen, opgemerk.

Howard het gesê dat hulle normale reënval per jaar sowat 300 mm tot 350 mm is. Die afgelope week het hulle 180 mm in vier dae gemeet. “Dit is nie altyd goed nie. Die ideaal sou wees dat dit oor so twee weke val, maar ons vat dit hoe ons dit ook al kry. Hopelik sal daar nog goeie opvolgreën wees,” het Howard gesê. Hy het bygevoeg dat die afgelope week se reën vir hom effens vreemd is. “Dit is die eerste keer wat ek kan onthou dat ons soveel reën so vroeg in Desember kry. Normaalweg kom ons swaar reën eers in Januarie en Februarie,” het Howard gesê.

In die Knott-video kan gesien word hoe die familie met hul viertrekvoertuig bufferdiep deur die water ry. “Op plekke het die water opgedam en bo-oor wildwerende heinings gespoel,” het Howard gesê. Die swaar reën het noodwendig skade veroorsaak, maar volgens Howard pla dit hom glad nie. “Ek herstel eerder paaie en heinings as om diere te aanhou voer en sien hoe hulle doodgaan,” het Howard gesê. Weens die heersende droogte voer hy reeds die afgelope vyf jaar sy wild. “Die laaste keer wat ons so baie reën gesien het, was met die vloede van 2013/14. Sedertdien is dit ook die eerste keer dat damme oorloop,” het Howard gesê. Hy het bygevoeg dat hulle meer reën in die normaalweg droë area noord van die Soutpansberg ontvang het die afgelope week as by hul plaas in die Soutpansberg. “Een ding is verseker, hierdie reën gaan veral ons ondergrondse watertafels aanvul,” het Howard gesê.

Nader aan die huis het sommige inwoners van Louis Trichardt sedert begin Desember tot Woensdag al 130 mm gemeet. Dit volg op reënvalsyfers van net meer as 200 mm vir November. Vanaf 8 tot 11 Desember het daar elke dag ten minste 20 mm oor die dorp uitgesak. Soos Fanie gesê het, dui alles op ‘n goeie reënvalseisoen. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens se mees onlangse statistieke het Mara 115% van hulle gemiddelde reënval vir November gekry. Polokwane het 129% van hulle gemiddelde reën vir November ontvang, terwyl Pontdrif 110% gekry het. Waterpoort het 206% van hulle gemiddelde reënval vir November gekry.

 

News - Date: 12 December 2019

Recent Articles

Search for a story:

 

Riviere wat in jare nie geloop het nie het ná swaar reënneerslae die afgelope week weer begin loop. Hierdie foto is deur ‘n leser op ‘n plaas in die Pontdrif-omgewing geneem. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: