ADVERTISEMENT:

 

Wyle Cornel van der Walt (31). Foto verskaf.

Jong ma oorlede

 

Vir die soveelste keer die afgelope paar weke is inwoners van die Soutpansberg verslae gelaat met die nuus van die dood van nog ‘n jong inwoner.

Die 31-jarige Cornel van der Walt, liefdevolle eggenoot van Thinus “Ore” van der Walt en ma van twee, is Sondag, 19 Januarie, in die Steve Biko Hospitaal in Pretoria oorlede.

“Ons het so twee jaar gelede uitgevind sy ly aan sweervormende dikdermontsteking (Ulcerative colitis). Dit veroorsaak dat haar dikderm perforeer. Dit is ‘n geneties-oordraagbare siekte waaraan haar ma ook ly. Met die tyd het haar [Cornel] se siekte net erger geword,” het Thinus Woensdag aan die Zoutpansberger gesê.

Die egpaar het die nuus van Cornel se siektetoestand ná hul huwelik in September 2017 ontvang. Dit is ‘n behandelbare siekte en aanvanklik het dit goed gegaan. “Hulle het haar vir twee jaar behandel. Na so ‘n jaar se behandeling het hulle die siekte onder beheer gekry. Maar die medisyne breek jou immuunstelsel af, want dit is ‘n  outo-immuunsiekte. Toe byt ‘n spinnekop haar begin verlede jaar en moes sy die medikasie los, sodat sy kon gesond word. Dit is wat haar die terugslag gegee het,” het Thinus gesê.

Volgens Thinus was dit deurlopend hul plan om die dikderm te verwyder, wat dan met ‘n sakkie vervang sou word. Hierdie operasie kan egter slegs uitgevoer word wanneer die pasiënt gesond en sterk genoeg is. “Sy was egter geensins sterk genoeg vir ‘n operasie nie,” het Thinus gesê. Sy is dood ‘n paar dae nadat Thinus haar verlede Donderdag deurgevat het na die Steve Biko Hospitaal.

“Baie mense dink omdat dit ‘n staatshospitaal is, is die diens swak. Maar ons het uitstekende diens ontvang. Ek het dit nie verwag nie. As iemand vir my nou sou sê hy moet daarna toe gaan, sal ek vir hom sê hy sal dieselfde behandeling kry as wat hy in ‘n privaathospitaal sou ontvang,” het Thinus gesê.

Volgens Thinus het die dokters by die hospitaal hom Sondagoggend eenuur gebel. “Toe was hulle reeds vyf-en-‘n-half ure besig met haar. Ek twyfel nie vir een oomblik dat hulle gedoen het wat hulle kon nie,” het Thinus gesê

Thinus en Cornel kan eintlik maar as boorlinge van die Soutpansberg beskou word. Hulle het mekaar die eerste keer in Laerskool Louis Trichardt ontmoet toe Cornel in Standerd 1 (Graad 3) en Thinus in Standerd 2 (Graad 4) was. Hulle is so saam-saam deur Laer- en Hoërskool Louis Trichardt. “Ná skool was ons so aan en af. In 2010 het ons mekaar weer gevind en ná ‘n lang tydperk en twee kinders saam het ons besluit dit is nou tyd om te trou,” onthou Thinus met ‘n glimlag. Soos genoem is die paartjie in September 2017 getroud.  

Thinus sê hy en Cornel was voorbereid vir die moontlikheid van haar dood en dat Cornel vrede in haar hart daaroor gehad het. “Vandat ons getroud is, het ons maar altyd vir ons kinders verduidelik die dood kom oornag, in vyf minute of ‘n minuut. Ons het altyd geweet dit kan enige tyd wees en ons het gelewe asof dit enige tyd kon wees. Ons het voluit gelewe. Ek het vir haar gesê toe sy in die hospitaal gelê het, sy moet weet, wat ook al die uitkoms is, die pad is vir ons gelê vanaf die dag wat ons gebore is. Soos wat ek vir mense sê as hulle my vra, sê ek: Ja, dit is vir my ‘n verlies, maar dit is definitief vir haar ‘n wins … Maar dit is swaar en dit is hartseer, maar mens weet dit is nie in ons hande nie,” het Thinus gesê.

Wyle Cornel se begrafnisdiens vind eerskomende Vrydag, 24 Januarie, om 11:00 vanuit die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) in Louis Trichardt plaas. Sy word oorleef deur haar man Thinus, vierjarige seun JJ en sewejarige dogter Tinell (beide leerlinge van die CVO Skool Zoutpansberg), ma Sannetjie Nel, stiefpa Riaan Nel en pa Hannes Venter.

Thinus het sy dank uitgespreek teenoor die gemeenskap van Louis Trichardt en omstreke vir hulle woorde van vertroosting en bystand. Hy het ‘n spesiale woord van dank gerig aan sy werkgewer, Abrie Wepener, wat saam met hom vanaf die begin tot die einde gestaan het, asook die personeel en medici van die Steve Biko Hospitaal.

 

News - Date: 25 January 2020

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: