ADVERTISEMENT:

 

Tannie Bets Beyers, afgeneem in 2017 toe een van haar oud-musiekleerlinge, Milda Stanton, by haar besoek afgelê het.

Tannie Bets Beyers sterf op 104

 

Tannie Bets Beyers, ‘n voormalige inwoner van die dorp, is verlede Donderdag in die rype ouderdom van 104 jaar en 11 maande in Pretoria oorlede. Tannie Bets was die eggenoot van Ferdinand Beyers, na wie die Ferdie Beyerssaal neffens die NG Kerk Moedergemeente op Louis Trichardt vernoem is.

Tannie Bets was ‘n inwoner van die Kronendal aftreeoord in Arcadia waar sy al etlike jare woon. Sy en haar man het tot in die mid-1970s op Louis Trichardt gewoon. Hulle het hulle hier kom vestig kort ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog.

Ferdie Beyers het ná sy aankoms op die dorp vir Frank Oldreive gewerk, wat onder meer Zoutpansberg Motors en Northern Motors besit het. Hy was ‘n lid van die plaaslike Rotariërs en ook die Vrymesselaars. Van die ouer inwoners van die dorp onthou Oom Ferdie as bestuurder by Zoutpansberg Motors. Die Beyers-egpaar het ook ‘n plaas aangekoop by Bandelierkop, waar hy deeltyds en ná sy aftrede in die vroeë 70s voltyds geboer het. Hy is op 3 Februarie 1975 oorlede.

In die honderdjarige gedenkblad van die NG Kerk Moedergemeente word daar vlugtig na Beyers verwys. Die samesteller van die blad, dr. Gerdrie van der Merwe, skryf dat die gemeente in die vroeë 1970’s hard probeer het om ‘n kerksaal op te rig op die terrein langs die Geloftekerk. “Weens ‘n tekort aan geld kom die saak nie op dreef nie, maar ‘n onverwagse erflating van R50 000 deur mnr. Ferdie Beyers vir dié doel, help om die droom waar te maak. Die kerksaal kos meer as R300 000 en word deur ‘n spanpoging onder leiding van dr. A Dekker gou betaal.”

Dit was egter juis Oom Ferdie se verbintenis met die Vrymesselaars wat konflik veroorsaak het. Van die kerkraadslede was erg wantrouig oor die doen en late van die Vrymesselaars en wou nie die skenking net so aanvaar nie. Hulle was egter in die minderheid en die saal is gebou en vernoem na dié gestorwe gemeentelid.

Tannie Bets word egter op die dorp onthou as gewilde musiekonderwyseres. Sy en Oom Ferdie het nie kinders gehad nie, maar sy het baie van haar “musiek-kinders” as nalatenskap gelos.

Sy het haar as onderwyseres bekwaam by die Universiteit van die Vrystaat en haar eerste pos was by die Hoërskool Boshof. Sy het egter vinnig besef sy is nie uitgeknip vir hoërskool onderwys nie en het begin klasgee vir kleuters.

“Tannie Bets kon feitlik enige musiekinstrument bespeel,” onthou een van Louis Trichardt se inwoners, Annekie Jandrell. Sy vertel die staaltjie van hoe tannie Bets musiekklasse vir die dogters van oom Piet de Vaal aangebied het. Oom Piet wou egter nie hê dat hulle klavier moes speel nie. Oom Piet het toe twee identiese, miniatuur (maar werklike) trekklaviertjies êrens in die hande gekry en sy twee oudste dogters, Linette en Milda, gestuur om by tannie Bets te leer speel.

Nadat ‘n berig in 2017 in die Rekord koerant in Pretoria oor Tannie Bets verskyn het, het een van die dogters, Milda, gaan besoek aflê by die aftreeoord. Milda was in Graad 1 in “Juffrou Beyers” se klas. Sy het daarna vertel dat tannie Bets haar en haar suster, Linette, nog goed onthou het. Die Beyerse was hulle bure, en het op die hoek van Delarey- en President Steynstraat gewoon. “Sy het my my grootste geskenk gegee,” sê Milda. “Sy het my geleer lees en skryf.”

Volgens Milda was tannie Bets baie kunstig en vindingryk in haar onderrigmetodes. Aan die einde van Graad 1 het Milda ‘n boekprysie van haar juffrou ontvang, Die nuuskierige veldmuisie. Sy het steeds dié boekie, asook die trekklaviertjie, en het dit saamgeneem om vir tannie Bets te wys.

Teen die einde van haar leeftyd het Tannie Bets baie gesukkel om te hoor, maar andersins was sy heel gesond. Sy is egter ‘n paar weke voor haar 105de verjaardag oorlede.

‘n Roudiens vir Tannie Bets is Woensdag (5de) by die Kronendal aftree-oord gehou. Haar as sal gestrooi word op die plaas te Bandelierkop waar sy en haar man soveel jare gewoon het.

 

News - Date: 06 February 2020

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

Email:

ADVERTISEMENT: