ADVERTISEMENT:

 

Van Dave se laaste foto’s wat hy op 29 Januarie op Facebook opgelaai het. Die kontrepsie oor sy gesig is om die vlieë en muggies uit sy oë en mond te hou – iets wat hom grensloos frustreer. Foto verskaf.

Kaokoland gee avonturier Dave redelik opdraande

 

Die vordering is maar stadig vir Louis Trichardt avonturier Dave van Graan met sy hardebaard-stap deur die dorre Kaokoveld woestyn in die noorde van Namibië.

Die 62-jarige Dave het op 22 Januarie begin stap vanaf die Hippo Pools kampeerterrein naby die Ruacana valle. Hy is van plan om oor die volgende paar weke deur die ongenaakbare, warm, droë woestynarea te stap oor ‘n totale afstand van 800 km. Sy stap sal hom oor die gevaarlike Van Zyls Pas neem en via plekke soos Marienfluss, Puros en Palmwag tot by Kamanjab (wat “klipperige plek” beteken). Klipperig gaan die stap beslis wees, tot so ‘n mate dat sy getroue driewiel “metgesel”, die Bart Mobile, oorgebou moes word na ‘n tweewiel weergawe, die Bart Mobile ‘Merk 2’ wat makliker hanteerbaar sal wees in die rowwe bergagtige terrein.

Weens die afgeleënheid van die area, sal Dave feitlik al sy proviand moet saamdra. Gelukkig het hy darem vooraf met die plaaslike stamhoofde van die bekende Himba-stam gereël vir watervoorsiening op seker punte van die staproete.

Daar is ook weinig selfoonontvangs in die area, so dit is baie moeilik om met Dave kontak te maak om uit te vind hoe dit met sy staptog gaan.

Teen Woensdag was Dave se tweedelaaste Facebook-inskrywing op 25 Januarie. Dit was toe hy besluit het om vir twee nagte oor te bly by die Kunene River Lodge. Dit nadat hy die vorige dag 20 kilometer gestap het. Dit was egter vir hom nodig om te stop en eers uit te vind hoe sy pad vorentoe lyk.

Dave se laaste Facebook-inskrywing was op 29 Januarie. “Ek het uiteindelik by Okongwati aangekom. Sover het ek 120 km die laaste week gestap. Die eerste 40 km was uiters moeilik, met styl op- en afdraandes. Ek sal moet kos en water aanvul voordat ek die hoofpad aanpak na Van Zyls Pas,” het Dave gesê.

Sedertdien het Dave se vrou, Jacqui, gesê dat selfs sy sukkel om enigsins met hom kontak te maak weens die swak selfoonopvangs. Sy het gesê dat Dave haar wel op 3 Februarie per satellietfoon via ‘n boodskap laat weet het dat hy besig is om kamp op te slaan en dat hy Van Zyls Pas Dinsdag sou aandurf. “Die berge was vreeslik erg, my lyf het ‘n beating gevat. Stap non stop vir 10 dae. Lekker fit,” het Dave vir haar geskryf.

Die Zoutpansberger het ook met Dave probeer kontak maak via WhatsApp, aangesien daar plek-plek netwerksein beskikbaar is. Alle pogings was egter onsuksesvol gewees. Die koerant kon wel sy vordering volg, aangesien Dave met ‘n satellietsender toegerus is. Sy vordering kan gevolg word deur op die Internet-skakel https://eur-share.inreach.garmin.com/davewalkabout te klik. Teen laat Woensdagoggend het Dave se sender aangedui dat hy reeds Van Zyls Pas “oorleef” het en dat hy reeds sowat 220 km gestap het.

Soos met sy vorige staptogte sal Dave se hooffokus weer bewusmaking teen stropery wees. Dit is ook vir hom ‘n persoonlike uitdaging. Dave het vir jare aan ‘n baie pynlike siekte gely wat sy rug aangetas het. Dit was so erg dat hy baie sterk pynstillers moes drink om net deur die dag te kom. Hy het toe vir homself belowe dat as hy sou herstel, wat hy wel het, hy graag deur Suid-Afrika (ook die res van Afrika) sou wou stap om ‘n pynvrye lewe te vier.

 

News - Date: 07 February 2020

Recent Articles

Search for a story:

 

Dave se “luukse” behuising tydens sy staptog deur die Kaokoland en Damaraland in Namibië. Foto verskaf.

Volgens Dave, wat hierdie foto op 29 Januarie op Facebook gedeel het, is die Kaokoland tans ongelooflik mooi ná redelike goeie reën. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: