ADVERTISEMENT:

 

Hoërskool Louis Trichardt het onlangs van die Schoemansdal Omgewingsopvoedingsentrum buite Louis Trichardt gebruik gemaak vir die aanbied van hulle Graad 8 oriënteringskamp. Schoemansdal is al vir dekades ‘n gewilde bestemming vir skole vir “veldskoolkampe", met 'n uitstaande veiligheidsrekord. Foto: Hoërskool Louis Trichardt (Facebook).  

By Schoemansdal kom die kinders se veiligheid eerste

 

Die hartseer verdrinking van die 13-jarige Enock Mpianzi van Parktown Boys by die Nyati Bush and River Break Lodge in die Noordwes Provinsie op 15 Januarie tydens ‘n oriënteringskamp vir Graad 8-leerlinge het skokgolwe deur die land gestuur. Dit het ook die vraag laat ontstaan oor hoe veilig kinders werklik is wanneer hulle op skoolkampe na sulke oorde gaan.

Net buite Louis Trichardt lê die Schoemansdal Omgewingsopvoedingsentrum, ‘n veldskool wat al dekades lank ‘n gewilde bestemming vir skole is ten opsigte van skoolkampe. Die Zoutpansberger het bietjie gaan uitvind hoe Schoemansdal sulke skoolkampe hanteer om kinders se veiligheid te verseker.

Schoemansdal handhaaf nog altyd ‘n baie goeie standaard wat veiligheid betref, selfs bokant die norm. In al die jare was daar nog net een sterfgeval by die skool en dit was ‘n personeellid wat tydens ‘n kamp ‘n hartaanval gehad het.

Maar hoe handhaaf die skool die standaard?

Schoemansdal is nie ‘n privaatskool nie en val onder die beheer van die Limpopo Departement van Onderwys. Derhalwe staan hulle onder beheer van die Skolewet, Wet 84 van 1996. Enige iets wat hulle doen of aktiwiteit wat aangebied word, moet dus aan die bepalings van die skolewet voldoen. Daarbenewens is daar ook ‘n klomp regulasies en wette wat betref beroepsveiligheid, asook regulasies ten opsigte van die industrie waarin hulle funksioneer, naamlik “avontuur”. Die lank en die kort daarvan is dat Schoemansdal as omgewingsopvoedingsentrum streng gereguleer word.

Beroepsveiligheid behels al die regulasies ten opsigte van industrie standaarde waaraan die skool moet voldoen, vanaf hulle fasiliteite tot hul hindernisbaan en toerusting. So moet daar byvoorbeeld elke jaar ‘n nuwe veiligheidsertifikaat vir die kombuis uitgereik word wat sertifiseer dat die kos wat daaruit kom veilig is om te eet. Al die personeel op die  terrein is ook almal gekwalifiseerde onderwysers.

As dit by die kinders se veiligheid kom, is daar ‘n gedeelde verantwoordelikheid wat soos ‘n skoolkoshuis funksioneer. Dit beteken dat die personeel (fasiliteerders) van Schoemansdal verantwoordelik is vir die kinders, terwyl die programaktiwiteite aan die gang is. Wanneer die kinders in die aand in die koshuis gaan slaap, dan word hulle die verantwoordelikheid van die onderwysers.

Tans funksioneer die skool op ‘n verhouding van een onderwyser vir elke 20 laerskoolkinders en een onderwyser vir elke 30 hoërskoolleerlinge. Dit is die verhouding van kinders tot onderwysers wat deur wetgewing bepaal word.

Alvorens enige kamp kan plaasvind, moet ‘n besoekende skool se skoolhoof by hul onderwysdepartement se distrikkantoor aansoek doen vir die aanbied van die kamp. Indien die skool binne die provinsie val waar die kamp gaan plaasvind, kan die distrikkantoor die magtiging gee. Indien die kamp in ‘n ander provinsie as die skool plaasvind, moet die hoof van die onderwysdepartement (HOD) in die provinsie toestemming gee, en in gevalle waar ‘n kamp in die buiteland plaasvind, moet die LUR vir Onderwys in die provinsie waar die skool is toestemming gee. In meeste provinsies werk die proses op hierdie basis.   

Wat die aansoek self betref, is dit ‘n redelik lywige dokument wat voltooi moet word. Buiten vir ‘n naamlys van kinders, sluit dit ander dokumentasie in soos wie die busdiens is wat gebruik gaan word om die kinders te vervoer, ‘n afskrif van die busbestuurder se openbare bestuurslisensie, of die skool versekering het en dies meer. Buiten vir besoekende skole wat versekering moet hê, beskik Schoemansdal ook oor sy eie publieke aanspreeklikheidsversekering.

Wat kontrole en beheer tydens die kinders se besoek aan Schoemansdal betref, word die kinders onmiddellik getel sodra hulle opdaag. Elke kind moet ook ‘n getekende vrywaringsvorm hê waarin die ouers ingelig is oor presies wat daar vir die kinders tydens die kamp beplan word, asook of daar enige iets is, soos ‘n mediese toestand by ‘n kind, waarvan die fasiliteerders en onderwysers bewus moet wees.

Die kinders word daarna in groepe ingedeel en die groepe se name word neergeskryf. Vir die duur van die kamp bly die kinders dan in sy of haar groep. Alle aktiwiteite word in groepsverband in groepe van 10 aangebied. Elke keer wat die groepe dan bymekaar kom, word seker gemaak dat al 10 lede van die groep teenwoordig is. Mens kan dan dadelik sien as iemand vermis is. Daar word ook geensins met die volgende aktiwiteit, insluitend etes, aangegaan indien daar nie seker gemaak word dat almal teenwoordig is nie.

Al Schoemansdal se personeel/fasiliteerders is in Vlak 2 noodhulp gekwalifiseer en gesertifiseerd. Daarbenewens is al die fasiliteerders ook "werk op hoogtes” gekwalifiseerd. Dus is almal van hulle bedrewe klimmers (abseiling, ziplining ens.) wat ook gesertifiseer is om reddingswerk met toue op hoogtes te doen.

Wat kampaktiwiteite betref, is Schoemansdal se uitgangspunt dat die reëls en regulasies eerstens daar is om die kind te beskerm. Uiteindelik is ‘n kind ‘n ouer se kosbaarste besitting. Hul leuse is: As jy dit nie veilig kan doen nie, moenie dit doen nie. Daar is ook deurlopend toesig. As dit nie die fasiliteerders self is nie, is dit die besoekende skool se onderwysers. Daar word ook van alle besoekende skole se onderwysers verwag om aan al die aktiwiteite deel te neem. By Schoemansdal glo hulle daaraan om almal deurlopend konstruktief besig te hou, want die oomblik as kinders te veel vrye tyd tydens die kamp het, begin hulle rondhardloop en rondloop, wat lei tot insidente. Wat dit betref, word die kampreëls duidelik uiteengesit tydens elke skool se aankoms by Schoemansdal.

 

News - Date: 20 February 2020

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: