ADVERTISEMENT:

 

Generic image.

Boere slaak sug van verligting na ophef van veilingsverbod

 

Wild- en veeboere, en veral veilingshuise, het Maandag ‘n sug van verligting geslaak nadat die minister van landbou en grondsake, me. Thoko Didiza, die algehele nasionale verbod op die hou van wild- en veeveilings opgehef het.

Didiza het begin Desember verlede jaar die verbod op die hou van wild- en veeveilings in die Staatskoerant afgekondig in ‘n poging om die verdere verspreiding van bek-en-klouseer te probeer keer, nadat Veeartsenydienste is op 1 November 2019 in kennis gestel is dat bek-en-klouseer positief in ‘n trop beeste in die Molemole distrik (Dendron area) geïdentifiseer is. Die drastiese besluit om alle veilings te verbied het gevolg nadat die uitbreking van die siekte teruggespeur is na ‘n veilingskraal in die provinsie. Einde verlede jaar se uitbreking volg kort op die hakke van ‘n soortgelyke uitbreking van die siekte in Januarie 2019 in die Vhembe Distrik, wat onder meer daartoe gelei dat die Wêreld Organisasie vir Dieregesondheid (OIE) Suid-Afrika se bek-en-klouseer-vrye-sone status opgeskort het.

Baie het egter Didiza se besluit om ‘n totale verbod op veilings te plaas as te drasties en ondeurdag beskou, wat ‘n uiters negatiewe impak op die wild- en veebedryf gehad het. Volgens mnr. Robert Gallon van Alldays, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie se beeste- en wildkomitee, sal die bedryf eers oor so drie maande herstel. “Ons was uit die aard van die saak baie verheug en verlig dat die verbod uiteindelik opgehef is. Die mense het finansieel baie swaar gekry, aangesien dit [die verkoop van diere op veiling] ‘n groot deel van hul inkomste uitmaak.  Dit het deurgetrek tot op werkersvlak, want daar was nie fondse om hulle lone mee te betaal nie.  Dit was ook ‘n groot frustrasie dat vee nie vryelik verhandel kon word nie,” het Gallon gesê.

Gallon het gesê dat veilingshuise dit die ergste gevoel het. “Hulle het vir ongeveer vier maande geen inkomste gehad nie. Bemarkers het geen inkomste gehad nie en ander werkers moes steeds betaal word.  Slaghuise en supermarkte het ‘n duidelike afname in vleisverkope ervaar,” het Gallon gesê.

Wat betref die herstel van die bedryf betref, het Gallon gesê dat daar vir nou eers ‘n ooraanbod van vee, veral speenkalwers, sal wees met veilings wat weer gehou kan word. Of die ooraanbod noodwendig ‘n daling in vleispryse tot gevolg sal hê, was Gallon pessimisties. “Nee, ek glo nie so nie,” het Gallon gesê.

Intussen het die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO), wat deurlopend nou saamgewerk het met die Departement van Landbou om ‘n oplossing te kry vir die verdere verspreiding van die siekte, ook die minister se besluit op die verbod op te hef verwelkom. Volgens die RPO was die aanvanklike besluit ‘n uiters drastiese maatreël wat ‘n geweldige negatiewe impak op produsente en die bedryf gehad het, maar dit het egter ook vrugte afgewerp in die sin dat Suid-Afrika se belangrikste uitvoermarkte ten spyte van die verlies van sy bek-en-klouseer-vrye sone status weer geopen is. “Die opening van die Chinese handel is ‘n uiters relevante voorbeeld hiervan,” het die RPO in ‘n verklaring gesê.

Die RPO het ook die feit dat veilingsagente nou by die Landbouprodukte Agenteraad (APAC) moet registreer, as ‘n voorwaarde tot die ophef van die verbod, verwelkom. Volgens die RPO is die Landbouprodukte Agenteraad reeds in 1992 ingestel ingevolge Wet 12 van 1992 en is die afdwing van die wet van kardinale belang, en daarom het hulle agente aangemoedig om dit wel te doen.

“Selfregulering in die rooivleisbedryf het nou krities belangrik geword indien ons die rooivleisbedryf en markte wil beskerm en elke produsent in die land moet ons hiermee help," het mnr Koos van der Ryst, voorsitter van die RPO, gesê. Dit sluit in die daarstel van 'n vrywillige naspeurbaarheidstelsel wat deur die bedryf, in oorleg met die LITS SA (Livestock Identification and Traceability System) geïmplementeer sal word. Die bedryf het reeds in samewerking met die RPO ook maatreëls daargestel wat behoort te geld wanneer veilings in die toekoms gehou word. Hierdie maatreëls, het die RPO gesê, sal eersdaags aangekondig en met verloop van tyd deur die Registrateur van Landbouprodukte Agente geïmplementeer word.

Die RPO het gesê dat dit ook noodsaaklik is dat beheermaatreëls vir bek-en-klouseer opgeskerp moet word in die drie provinsies wat as buffersones vir die bekamping van bek-en-klouseer dien. Die geaffekteerde fasiliteite waar uitbrekings voorgekom het moet nou doeltreffend bestuur word ten einde die probleem op te los. “Ons het almal lesse geleer uit dit wat nou gebeur het. Produsente sal in die toekoms self baie meer verantwoordelikheid moet aanvaar om beheerde en aanmeldbare siektes op hul plase te voorkom. Die RPO se Kode van Beste Praktyk gee spesifieke riglyne in dié verband,” het Van der Ryst gesê.

Ongeveer 160 eiendomme is verbind met die veilingskraal waar die bek-en-klouseer uitbreking verlede jaar aangemeld is. Dit het ingesluit eiendomme wat primêr diere van hierdie veilingskraal ontvang het, of aan hulle voorsien het. Daar was ook eiendomme wat indirek met die veilingskraal verbind is. Didiza het in haar toespraak ten opsigte van die ophef van die verbod gesê dat al die eiendomme besoek is en onder kwarantyn geplaas is. Daarna is kliniese inspeksies en ondersoeke gedoen om die omvang van blootstelling aan die siekte te bepaal. “Goeie vordering is gemaak en die voorlopige kwarantyn is op 90 van hierdie eiendomme opgehef,” het Didiza gesê.

In totaal is beeste wat met bek-en-klouseer siekte besmet was op 18 plase geïdentifiseer.  “Meeste van die geaffekteerde eiendomme is kommersiële beesplase, insluitend ‘n aantal voerkrale, wat gelukkig goed omhein was en individuele rekord van elke dier gehad het,” het Didiza gesê. Dit, het die minister gesê, het dit moontlik gemaak om beheermaatreëls in te stel sonder die nodigheid vir noodinentings, die uitwissing van kuddes en padblokkades. Van die primêre eiendomme wat met die besmette veilingskraal verbind is, is meer as 90% reeds besoek en hul bek-en-klouseer status bepaal. “Dit het Veeartsenydienste genoeg selfvertoue gegee om aan te beweeg na die volgende fase van die beheer van die siekte,” het Didiza gesê.

 

News - Date: 21 February 2020

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: