ADVERTISEMENT:

 

Twee jongmense, Deon Joubert (links) en CJ Wolvaardt, het Saterdag fluks ingespring en gehelp om die grafte weer netjies te laat lyk.

Begraafplaas weer toeganklik danksy vrywilligers

 

‘n Groep vrywilligers, gewapen met bossiekappers, harke, pangas en kruiwaens, het die afgelope naweek ingevaar by die Louis Trichardt begraafplaas om die gras te sny en die area weer begaanbaar te probeer maak.

Die afgelope twee maande se goeie reën, gekoppel met sonskyn, het die situasie by die begraafplaas vererger en die gras het so hoog gestaan dat die grafte feitlik nie meer sigbaar was nie. Die area is ook uiters onveilig, met die heining wat plek-plek gebreek is.

“Die begraafplaas was onbegaanbaar vuil en oorgroei en onveilig, waarna ek die idee gekry het om te vra vir hulp om self daar te gaan skoonmaak, sodat dit veilig sal wees as mense hulle geliefdes wil besoek,” sê Helena van den Heever. Sy het self familielede wie se grafte daar is en het besef watter probleme naasbestaandes ondervind wat die grafte van hul geliefdes wil besoek.

“Charlotte en Casper Wolfaardt van Summit Auto Body Repairers het ingespring en kom help met hulle spanne mense,” vertel Helena. Vir die grootste deel van Saterdag het die helpers die bosse probeer tem en die gras en vullis weggery.

Die gevoel was dat dit die plaaslike munisipaliteit se plig is om die area skoon en netjies te hou, maar dat die gemeenskap self ook maar moet inspring en help as dit duidelik is dat die werk nie gedoen word nie.

Die Makhado Munisipaliteit se woordvoerder, Louis Bobodi, het vroeër die week op ‘n navraag gereageer en gesê dat die gras by die begraafplaas ten minste een keer per maand gesny behoort te word. Hy het verduidelik dat hulle probleme ondervind het met masjiene wat gebreek het, wat dit moeilik gemaak het om op alle plekke onderhoud te doen. Bobodi het egter gesê dat die munisipaliteit nuwe toerusting aangeskaf het wat die afgelope week in gebruik geneem is.

Wat die heining rondom die begraafplaas betref, het Bobodi gesê dat dit in die komende jaar herstel moet word. Hy het gesê dat die munisipaliteit daarvoor begroot het in die 2020/21 finansiële jaar.

Die Makhado Munisipaliteit het ook einde verlede jaar ‘n elektroniese beheerstelsel vir die verskillende begraafplase aangekoop. Die stelsel, wat hulle R1 miljoen uit die sak gejaag het, is bedoel om die bestuur van die begraafplase te vergemaklik. Volgens Bobodi is die stelsel ontwikkel en funksioneel, maar nog nie in werking nie. Die stelsel behoort dit baie makliker te maak om grafte te identifiseer en spasies vir nuwe grafte te allokeer. Die stelsel se databasis strek tans terug tot 1965.

Helena het verder gesê dat hulle graag meer gereeld skoonmaakprojekte by die begraafplaas wil loods. Dit is nodig dat die begraafplaas op ‘n meer gestruktureerde basis in stand gehou word. Een van die voorstelle wat gemaak is, is dat eienaars van plaaslike tuindienste genooi word om te kwoteer vir die skoonmaak van die area. Geld sal ingesamel word by plaaslike besighede en individue om die kostes te delg.

“Ons wil alle tuindienste in die dorp uitnooi om te kwoteer vir ‘n kontrak om vir 12 maande die begraafplaas te help skoonhou,” sê Helena. Dit sal behels dat die gras gesny word en die bome gesnoei en uitgekap word. Die vullis (wat grotendeels maar net ou blomme en los papiere is) moet opgetel word en gif moet gespuit word om te voorkom dat onkruid in die paadjies groei.

Persone wat belangstel om dit te doen moet kwoteer vir ‘n vaste fooi per maand. Kwotasies moet vergesel word van drie verwysings. Dit kan deurgestuur word na [email protected]. Vir meer inligting kan Charlotte geskakel word by 0827787421.

 

News - Date: 27 February 2020

Recent Articles

Search for a story:

 

Een van die interessante grafte in Louis Trichardt se begraafplaas. Dit is die graf van W.B. van Breda. Die Van Breda-familie was vroeë pioniers in die dorp. Die naam W.B. van Breda verskyn egter in die lys van jongmense wat gesterf het tydens die Eerste Wêreldoorlog. Na alle waarskynlikheid is die oorskot van bombardier Van Breda ná die oorlog, in November 1918, hier begrawe. Die Van Bredas was ook nou betrokke by die plaaslike tak van die Vrymesselaars en die simbool bo-aan die graf bevestig dit.

 

ADVERTISEMENT

 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

Email:

ADVERTISEMENT: