ADVERTISEMENT:

 

Werner Esterhuizen van Spotless Cleaning Service besig om klaskamers by Hoërskool Louis Trichardt te ontsmet met die oog op die skool se “heropening” op 1 Junie. Foto verskaf.

Plaaslike skole sê hulle is reg vir Maandag

 

“As hoof wil ek graag alle ouers gerusstel aangaande die opening van die skool op 1 Junie. Ons is tans besig om te beplan vir die terugkeer van ons Graad 12 leerders en later die ander grade soos deur die departement afgekondig.”

Dit aldus mnr. Theo Muller, waarnemende skoolhoof van Hoërskool Louis Trichardt. Om aan al die protokolle en voorskrifte vir die hantering van Covid-19 te voldoen, byvoorbeeld ontsmetting en sosiale distansiëring, moet die implementering daarvan goed beplan word. Die skool is reeds ontsmet en alle ander maatreëls in plek, soos die aankoop van lapmaskers en ontsmettingstoestelle. Merkers is aangebring vir sosiale distansiëring. Ouers sal op hoogte gehou word aangaande enige verandering in skoolure en ander reëlings rakende die skooldag. Die skool vra ouers se samewerking deur byvoorbeeld siek leerders tuis te hou en te versorg. “Ons gaan elke oggend leerlinge en personeel nagaan en enige persoon wat simptome toon, sal nie by die skool toegelaat word nie. Ons is daartoe verbind om die verspreiding van die Covid-19 virus te voorkom om aan elke leerling die geleentheid te gee om sy/haar jaar suksesvol te voltooi,” sê Muller.

Mnr. Louis Linde, skoolhoof van Laerskool Louis Trichardt, deel graag mee dat hulle gereed is om volgende week die Graad 7-leerlinge te ontvang. Hierdie week vind die ontsmetting van die skool plaas. Dit sal deurlopend volgehou word. Personeellede en leerlinge se temperatuur sal gemeet word alvorens hulle die terrein betree. Die Graad 7's se vier klasse word in groepe opgedeel en in groot lokale geplaas waar hulle die nodige voorgeskrewe afstand kan handhaaf. Klasse gebruik verskillende toilette waar onderwysers sal toesig hou en sekermaak dat hande voor en ná gebruik ontsmet word en dat getalle beperk word. Die leerlinge gaan nie klasse wissel nie, maar die onderwysers wel. Pouses word só beplan dat sekere klasse net op sekere plekke mag wees, en weereens sal onderwysers toesig hou sodat die korrekte sosiale afstande gehandhaaf word.

Ook hier mag siek leerlinge nie skool toe kom nie en leerlinge wat ‘n siek familielid in die huis het, moet liefs ook tuis bly. Ouers mag besluit om hulle kinders eerder by die huis te hou vir tuisonderrig indien hulle voel dis beter vir die kind. “Ons sal voortgaan om weekliks omvattende leermateriaal uit te deel vir Grade RR tot 6, asook vir die Graad 7-leerlinge wat liefs van die huis af wil werk. Werkboeke word fisies by die skool afgerol en uitgedeel volgens ‘n vasgestelde program. Ons doen alles in ons vermoë om die leerders en personeel se veiligheid te waarborg,” sê Linde.

Mnr. Johan Fick, hoof van Eltivillas Full Service Primary School, is dankbaar om te kan sê dat die skool ontsmet is en dat ‘n sertifikaat daarvoor uitgereik is. Die algemene assistente is besig om die skoolgronde skoon te maak. Die skool het ontsmettingsmiddels vir Graad 7, ‘n temperatuurmeter en maskers vir die skoolbestuurspan ontvang. Hulle het egter Dinsdag nog vir personeel en leerders se maskers gewag. Graad 7-leerlinge het gedurende die grendeltydperk skoolwerk ontvang en het reeds in sekere vakke soos Wiskunde die tweede kwartaal se werk afgehandel. “Die skool is in die finale fase van voorbereiding en sal gereed wees om Graad 7-leerlinge te akkommodeer vanaf 1 Junie. Die personeel is gereed vir die uitdaging wat voorlê,” sê Fick.

Vir mnr. Orion Theron, hoof van CVO Zoutpansberg, is dit verblydend om te noem dat die skool op verskeie gebiede gereed is. “Ons is baie dankbaar dat ons gedurende die grendelstaat normaal kon voortgaan met ons daaglikse skoolrooster op die onderskeie elektroniese platvorms. Ons Graad Nul- tot 12-klasse is almal op datum met ons leerplan. Graad 12's begin reeds met hul toetsreeks DV die tweede week in Junie. Ons het die laaste paar weke oorgeskakel van ons WhatsApp en e-pos-stelsel na Microsoft TEAMS, waarop al die dag se lesse gelaai en aangebied word. Leerlinge het kontaksessies in elke vak en graad en hul kan tydens/ná klas die nodige vrae vra, notas maak en hul klaswerk en assesserings oplaai. Werk word gemerk en teruggeplaas in die leerling se lêer op TEAMS vir nasorg. Dit gee ons 'n goeie mate van kontrole. Omdat leerlinge op datum is met die verrykte CAPS leerplan, het hulle vandeesweek ‘vakansie’. Die Graad 12’s is ook goed op dreef met die voorbereiding van hulle IEB eindeksamen,” sê Theron.

Op die skoolterrein is reeds die nodige ontsmetting en voorbereiding gedoen. “As gekombineerde onafhanklike skool (laer- en hoërskool) het ons besluit dat ons eerste twee grade DV op Maandag, 1 Junie, terugkeer. Ons afstandsonderrig is só goed ontvang en betekenisvol effektief, dat ons nie druk het om die res van die grade onmiddellik in te bring nie en beplan om hul in te faseer. Kinders in die ander grade wie se ouers geen ander keuse het as dat hul wel moet terugkeer skool toe op 1 Junie nie, is welkom en word geakkommodeer by die skool. Ons gaan vir die eerste week wat leerlinge terugkeer by die skool geleentheid bied vir hersiening, sonder om werk oor aan te bied - net om seker te maak dat die nodige vaslegging goed plaasgevind het,” sê Theron.

Verskeie protokolle lei tot unieke veranderinge. Begin- en uitkomtye word aangepas, onderwysers sal waarskynlik wissel in stede van leerlinge, streng kontrolemaatreëls word toegepas voor, tydens en ná skool. 'n Paar uitdagings lê voor, byvoorbeeld om te verseker dat 'n 1.5 meter afstand ten alle tye gehandhaaf word en te sorg dat die jongspan hul maskers heeltyd dra! Alle partye by die skool word hierdie week deur geakkrediteerde/ gekwalifiseerde persone opgelei, asook deur aanlynkursusse.

Die uitvoerende hoof van die Ridgeway skole, Dionne Redfern, bevestig dat hulle sal voortgaan met onderrig via elektroniese platvorms terwyl Grade 7 en 12 teruggebring word. Aanlyn-onderrig sal ook vir siek leerders of diegene met onderliggende siektetoestande aangebied word. Volgens Redfern was hulle, as ISASA skole, in deurlopende kommunikasie met hierdie organisasie asook met IEB en het reeds ‘n maand gelede begin met die beplanning van leerders se veilige terugkeer. Alle beskikbare riglyne is gebruik om beleids- en proseduredokumente in orde te kry. Gedurende die laaste twee weke is die volgende gedoen: die skoolroosters en kurrikulum is aangepas; alle fasiliteite op al drie kampusse is deeglik skoongemaak; die nodige beskermende toerusting is aangekoop; personeel is opgelei in die nakoming van gesondheids- en veiligheidsmaatreëls; alle prosedures vanaf aankoms tot vertrek is deeglik deurgegaan – insluitend die afbakening van toetsstasies en sosiale distansiëring; herrangskikking van klaskamers en die verspreiding van die nodige skoonmaak- en ontsmettingsmiddels vir elke area/gebou. Die Graad 12-leerders kommunikeer daagliks met hulle onderwysers. Briewe is uitgestuur wat die Graad 12’s se welstand aanspreek, asook die nuwe daaglikse roetine en wat om te verwag. ‘n Video is ook daaroor gemaak. ‘n “Google Meet” vergadering is ook met Graad 7 leerlinge gehou om alle prosesse te verduidelik.

 

News - Date: 28 May 2020

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Pétria de Vaal

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: