ADVERTISEMENT:

 

Wyle Harry du Plessis (71).

Kleurvolle Harry du Plessis oorlede

 

Een van die streek se bekende gesigte en beslis meer kleurvolle karakters, Harry du Plessis, is op 22 Mei in die ouderdom van 71 jaar oorlede.

“Hy was ‘n yster gewees,” het sy seun Jacques Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

As sakeman sal Harry onthou word as die eienaar van Japanese Engines, ‘n besigheid wat hy sedert 2000 bedryf het. Buiten vir ‘n kort loopbaan by Saambou Bank jare gelede, was Harry sy hele lewe lank hoofsaaklik in die onderdelebedryf. “Hy was ‘n entrepreneur en kon ‘n plan maak uit niks nie,” het Jacques gesê. Sy vriende sal hom onthou vir sy skerp humor en pittige sêgoed.

Meer onlangs sal Harry daarvoor onthou word dat hy op 8 Julie verlede jaar ‘n gewapende rooftog op sy kleinhoewe buite die dorp oorleef het. Hy is tydens die roof herhaaldelik met ‘n mes gesteek, onder andere in sy rug en in die nek. Die steekwond in die rug het sy long binnegedring. Wonderbaarlik het Harry oorleef en sy bewaring toegeskryf aan die Here se genade. “Ek was so kalm soos ‘n daggawalm. Dit is net die Here wat jou daardie kalmte gee,” het Harry ná die tyd vertel oor hoe hy tydens die aanval gevoel het. ‘n Maand later sou hy getuienis lewer oor hoe die Here hom ná die aanval bygestaan het. “…ek het die Heilige Gees bedank wat die nag van 9 Julie tot my gespreek het en gesê het ek moet vergewe en prys spreek. Ek het dit gedoen en dit het my kop skoongemaak,” het Harry gesê.

Harry het ná die aanval verlede jaar goed herstel, maar sy gesondheid het einde Februarie versleg weens ‘n bloedklont deur die long. “Hy was in en uit die hospitaal en kliniek in Pretoria,” het Jacques gesê. Intussen is die grendeltydperk afgekondig en kon Jacques-hulle eers hul pa tydens die onlangse verslapping in reisregulasies na Louis Trichardt terugbring. Steeds het sy gesondheid wipplank gery en moes hy opgeneem word in die hospitaal in Tzaneen. Hy het verlede week Dinsdag vanaf Tzaneen teruggekeer, maar moes Donderdag in die Zoutpansberg Privaathospitaal opgeneem word, waar hy Vrydag oorlede is.

Wyle Harry word oorleef deur sy twee seuns Jacques en Jaco (wat in Engeland woonagtig is) en gewese vrou Sylvia. Hy sal eerskomende Vrydag, 29 Mei, vanuit die Lede in Christus Kerk in Louis Trichardt begrawe word. Die diens sal waargeneem word deur sy goeie vriend, pastoor Christo van Rooijen. Weens die grendeltydregulasies is die begrafnisdiens slegs vir familie en goeie vriende en vir meer inligting hieroor kan Jacques geskakel word.

“Ons wil graag almal bedank vir hulle omgee, veral vir dié wat ‘n vriend vir my pa was en hom geken het. Dankie ook aan verpleegster Minette van der Walt, wat hom die laaste tyd tuis versorg het,” het Jacques gesê.

 

News - Date: 29 May 2020

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: