ADVERTISEMENT:

 

Wyle Eddie Schlesinger (56).

Skielike dood skok

 

Die Soutpansberg-gemeenskap is Dinsdag platgeslaan met die nuus van die dood van bekende en gerespekteerde sakeman Eddie Schlesinger (56). Hy het sy eie lewe geneem by die graf van sy seun, Tiaan, op die familieplaas op Waterpoort.

Eddie se suster, Elthea, het Woensdag aan die Zoutpansberger gesê dat sy dood vir sy gesin en familie as groot skok gekom het. Sy het egter bygevoeg dat hy al jare lank geworstel het met erge depressie, ‘n toestand wat heel moontlik vererger is weens die afsondering van die grendeltydperk.

“Ons kan regtig met ‘n oop hart sê Eddie was ‘n baie geliefde, wonderlike man, pa en broer vir ons almal gewees. Hy was ook ‘n wonderlike vriend vir almal gewees en hy was vir so baie mense ‘n mentor en het gehelp in hierdie gemeenskap. Hy het altyd bygedra vir allerhande goeie sake. Ek ken nie ‘n enkele persoon wat nie van hom gehou het nie,” het Elthea gesê. Haar woorde is beaam deur huldeblyke en boodskappe van medelye aan die familie wat vanoor die hele wêreld instroom.

Eddie sal onthou word vir sy jarelange verbintenis met die familiebesigheid, Werda Toyota, wat aanvanklik as Werda Motors in 1966 begin is deur Eddie se pa, Charles. Dit is as Total-vulstasie en Mercedes-agentskap bedryf, tot in 1974, toe Charles die Toyota-agentskap gekry en weggedoen het met die Mercedes-agentskap. Kort daarna sou Werda Motors ook die Renault-agentskap kry. Twee jaar later, in 1976, is Eddie se pa egter oorlede, waarna Eddie se ma, Elmine, aangegaan het met die handelaarskap, met die doel dat Eddie dit eendag sou oorneem. Die familie het egter ná sowat vyf jaar weggedoen met die Renault-agentskap, nadat hulle ingelig is dat die twee fabrikate nie op dieselfde vloer verkoop kon word nie.

Eddie het wel in middel 1996 die handelaarskap oorgeneem. Voor dit het hy letterlik onder begin in die besigheid. Hy het in 1991 na Louis Trichardt teruggekeer ná voltooiing van sy nasionale diensplig, studies en kort loopbaan in die korporatiewe wêreld by die destydse Santambank. Hy het onder Schallie van Schalkwyk (wat in 1980 by die onderneming aangesluit het) gewerk en was aanvanklik verantwoordelik vir die boeke en administrasie. Daarna het Eddie oorgegaan na die onderdele-afdeling, waar hy later bestuurder geword het - ‘n posisie wat hy oorgeneem het by Braam Buitendach. Sy mentors het ook ingesluit oom Dave Kuhn en Pieter Mattheus, en soos hulle was hy ook later vir baie ander ‘n mentor. Werda Toyota het op 1 November 2019 onder nuwe bestuur gekom, nadat dit deur die NTT Motor Groep gekoop is.

In daardie stadium was Eddie pragmaties oor wat die toekoms vir hom ingehou het. In die koerant se laaste onderhoud met hom oor die verkoop van Werda Toyota het Eddie gesê: “In my kop het ek besluit om soos ‘n student ‘n ‘gap’ jaar te vat. Ek wil gaan doen wat ek nog altyd wou gaan doen, gaan sien wat ek altyd nog wou sien en gaan kuier vir wie ek nog altyd wou gaan kuier. Daarna sal ek met tyd bid vir leiding dat die Here vir my die regte deur sal oopmaak.” In antwoord hierop het Elthea gesê, “Ons sal altyd trots bly op hom en dankbaar vir alles wat hy vir sy familie en vriende gedoen het.”

Teen druktyd het die familie gesê dat alhoewel hulle nog nie ‘n spesifieke datum vir Eddie se begrafnisdiens het nie, hulle wel vir hom een sal hou vir onmiddellike familie en vriende. Weens die Covid-19 regulasies sal dit ‘n geslote diens wees. Elthea het egter sy vriende die versekering gegee dat daar wel ‘n gedenkdiens vir hom gehou sal word sodra die grendeltydregulasies dit toelaat.

Wyle Eddie word oorleef deur sy vrou Seretha, seun Charles, dogter Charet, sy ma Elmine Vermaak, susters Fébé, Elthea en Erika, en aangetroude familie en vriende. “Baie dankie aan die hele gemeenskap vir hulle boodskappe van medelye en hulp. Almal van oral oor het gebel om te simpatiseer. Ons wil graag vir ds. Jan Pretorius bedank vir al die bystand wat hy ons bied. Hy sal ook Eddie se diens behartig.”  

 

News - Date: 30 May 2020

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: