ADVERTISEMENT:

 

Die huis van die Van Zyl-gesin van Louis Trichardt wat verlede Woensdag op geheimsinnige wyse aan die brand geslaan het. Die familie het die afgelope week gerugte hokgeslaan dat hulle enigsins verantwoordelik was vir die brand. Foto's verskaf.

Stop die stories!

 

Vir Nicolette van Zyl en haar familie van Louis Trichardt was dit erg om te sien hoe ‘n brand verlede Woensdag die familie se huis op die hoek van Joubert- en Groblerstraat in puin lê. Nog erger was egter die stories wat ná die brand begin versprei het wat geïnsinueer het dat die familie die huis self aan die brand gesteek het, blykbaar vir die versekering.   

‘n Hoogs ontstelde Nicolette het Dinsdag vertel van die hel waardeur sy en haar familie die afgelope week gegaan het. “Ek was nie by die huis nie. Niemand was by die huis nie. Ek het die oggend my klere by my ma gaan was. Donovan, my seun, was by die werk,” het Nicolette gesê ten opsigte van wat verlede Woensdag ontvou het.

“Ek het die middag [ongeveer 16:00] van my ma af teruggekom en besluit om net die sakke wasgoed agter die huis neer te sit, want ek wou gou Spar toe gaan. Ek het nie geweet hoe besig hulle is nie en partykeer sê hulle jy mag nie ingaan nie, want dit is al laat en die ry is nog te lank,” het Nicolette gesê.

Volgens Nicolette het sy nie eers die huis binnegegaan nie, want sy was te haastig. Skaars was sy egter by die huis weg op pad Spar toe, toe sy ‘n harde slag hoor. “Toe ek omkyk, sien ek rook uitborrel by die grasdak,” het Nicolette gesê.

Verward het sy dadelik begin terug hardloop huis toe. Verbygangers, het sy gesê, het haar egter by die huis voorgekeer en verhoed om die huis binne te gaan. Niemand het in daardie stadium geweet hoe erg die brand in die huis was nie.

Intussen het ‘n voertuig by Nicolette gestop en sy het hulle gevra om asseblief die plaaslike brandweer, wat slegs ‘n paar honderd meter vanaf haar huis is, te ontbied. Die brandweer was binne minute op die toneel, maar die skade was in ‘n groot mate reeds gedoen.

“Ons is heeltemal platgeslaan deur die brand,” het Nicolette gesê. Volgens haar was die huis in die mark gewees en sou die koop op 1 Junie deurgaan. Gelukkig het hulle egter versekering gehad.

Die gerugte oor die verskering is juis wat Nicolette-hulle ernstig ontstel. “Die deskundiges was almal daar. Hulle het selfs die honde ingebring. Nie ek, my seuns of my ma word verdink van enige gemene spel nie,” het Nicolette gesê.

Dit beteken egter nie dat die brand toevallig ontstaan het nie. Nicolette het selfs gesê dat hulle wel brandstigting vermoed. “Dit lyk so. Alhoewel die polisie nog besig is met hul ondersoek, lyk dit of die brand in een klein kamer begin het,” het Nicolette gesê.

By verdere navraag het die Makhado SAPD beaam dat hulle wel ‘n ondersoekdossier oopgemaak het. Nicolette self het intussen ‘n klag van brandstigting en diefstal by die polisie aangemeld. Volgens haar het hulle ‘n sterk vermoede wie dalk verantwoordelik kon wees vir die brand, maar hulle kan in hierdie stadium nie daaroor spekuleer totdat die polisie se ondersoek afgehandel is nie. Volgens haar is verskeie items uit die huis vermis, alhoewel die huis nie heeltemal gemeubeleerd was nie. Volgens Nicolette was sy en haar seun in die proses om uit te trek, sodat die nuwe eienaar Maandag kon intrek.

Nicolette was Dinsdag erg ontsteld oor die gerug wat die rondte doen. Sy het oor-en-oor beklemtoon dat die polisie se ondersoek wys dat nie sy, haar seuns of haar ma met die brand verbind word nie. “Ek huil nog elke dag … ek kan dit nie glo nie … intussen is daar soveel stories!” het Nicolette gesê.

Wat die stories betref, het Nicolette gesê dat Louis Trichardt se mense haar die koue skouer gee sedert verlede Woensdag. “Nie een persoon in hierdie dorp wil my help nie. Ek sit in limbo ... ek meen, ek het 40 jaar se lewe daar verloor,” het Nicolette gesê. Sy bly tans tydelik by mense, omdat sy nie genoeg geld het om ‘n ander blyplek te bekostig nie. “Ek wag vir die versekering om te hoor of hulle my kan help of nie,” het Nicolette gesê. Die huis is in haar en haar oorlede broer, Dries, se naam. Haar ma het tekenregte namens haar broer totdat Dries se boedel afgehandel is, het Nicolette gesê.

“Die mense moet asseblief ophou met hulle stories ... Dinge is alreeds vir my baie moeilik soos dit is. Die mense loop net voort met hulle stories asof hulle die deskundiges is!” het Nicolette gesê. Sy het gesê sy is veral bekommerd oor hoe mense se stories die versekeringseis sal benadeel. “Sou hierdie stories by hulle [die versekeraars] uitkom, waar los dit my?!” het Nicolette gesê.

Volgens Nicolette is die mense van Louis Trichardt haar glad nie goedgesind nie. “Hoekom, weet ek nie. Ja, ek is die ouer van twee stout seuns, maar ek wil ook net leef en hulle [die mense] laat my glad nie toe nie. Waar hulle my kan afkraak, doen hulle dit. Ek het nie gevra dat dit [die brand] moet gebeur nie. Nog voor die brand was dit vir my moeilik om reg te kom in hierdie dorp, en nou nog hierdie ding!” het Nicolette gesê.

Nicolette het die koerant versoek om pertinent te noem dat hulle nie finansieel in die moeilikheid is nie. “Dit gaan net moeilik, soos dit met baie ander mense gaan,” het sy gesê. Sy het haar ook uitgespreek oor gerugte dat die familie by dwelms betrokke is. “Dwelms is daar nie by ons nie. Ek laat my kinders elke nou en dan toets, omdat die dorp vol is van dwelms. Ek hou nie daarvan nie en alhoewel mense dink ons is met dwelms deurmekaar, ons is nie,” het Nicolette gesê.

Volgens Nicolette moet inwoners hulle eerder probeer bystaan in die familie se tyd van nood. “Nie ek of Donovan het ‘n enkele stuk klere oor nie. Alles het verbrand in daardie vuur. Mense kan eerder vir my sê: ‘Hoor hier, ons is verskriklik jammer oor wat met julle gebeur het, hier is vir jou kind ‘n trui.’ Dit het ons nie eers nie, maar hulle is gou om stories te loop en versprei. Vir wat?” wou Nicolette weet.

Nicolette het ter afsluiting mense uitgenooi om net vir ‘n wyle in haar skoene te staan. “Mense moet net twee weke in my skoene kom loop. Ek wil kyk hoeveel van hulle hang aan ‘n boom, want ek glo nie enige iemand kan deurgaan wat ek deesdae deurgaan nie,” het sy gesê. Sy het teen Dinsdag hierdie week nog gewag op terugvoer van die versekeraars.

 

News - Date: 06 June 2020

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: