ADVERTISEMENT:

 

Bo: Colleen en Jaco Coetser met kinders Carlie en JD. Die egpaar werk albei en moes inderhaas planne maak met hulle kinders se versorging deur die dag. Links onder: Rindi Barnard van Small Talk Kleuterskool kan nie wag om haar kleuters se kinderlaggies weer te hoor en sien nie. Regs onder: Jacki Steenberg van Blink Soldaatjies Christelike Kleuterskool noem dat baie dinge in plek sal moet kom voordat kleuterskole kan heropen. Foto's verskaf.

Virus eis ook sy tol onder plaaslike kleuterskole

 

“Wie sou aan die begin van 2020 kon dink dat kinderlaggies by kleuterskole vir lank net ‘n goeie herinnering sou word?” So sê Rindi Barnard, eienaar van die Small Talk Kleuterskool in Louis Trichardt. 

Covid-19 is beslis besig om sy tol te eis. Dit kom ook duidelik in die plaaslike kleuterskoolbedryf in Louis Trichardt na vore waar die Zoutpansberger met ‘n paar eienaars gaan gesels het. Een dagsorg-fasiliteit moes noodgedwonge reeds hulle deure sluit.

Vir baie ouers is die feit dat hulle kinders nie kleuterskool toe kan gaan nie ‘n groot uitdaging. Sommiges word in hierdie tyd deur hulle grootouers versorg, terwyl ander ouers tydelik iemand in diens moes neem om na hul kinders om te sien.

Tuisaktiwiteite word ook gereeld aan ouers wat wel tuis is gestuur wat met kinders gedoen moet word. “Sommige van ons 50 kindertjies stuur vir my stemboodskappe en video’s op WhatsApp om te wys waarmee hulle besig is - ek vermoed soms sonder hulle ouers se medewete!” sê Rindi.

Wanneer kleuterskole heropen, al weet niemand wanneer nie, sal streng veiligheidsmaatreëls daar in werking gestel word. “Ek kan my voorstel hoe ons die kleuters op kreatiewe en prettige maniere help om goeie higiëne en sosiale distansiëring te handhaaf,” sê Rindi. Small Talk se personeel verlang almal na die kinders en is gretig om terug te keer werk toe.

Met 98% van Aralita Versorgingsoord se ouers wat voldag werknemers is en regdeur gewerk het, moes ouers reeds van die begin af planne beraam. Versorgers is gehuur om in te bly wat bedags na kinders te kyk. Hierdie is meestal vreemdes, omdat sommige huiswerkers nie wou inbly nie. Sommige lojale ouers wil graag skoolfooie wil betaal, maar kan nie. Party ouers het wel oë toegeknyp en voortgegaan om fooie te betaal.

Lessies vir dié wat kan, word deur die versorgingsoord aangestuur, maar mamma of ousus moet help.  Peuters kan nie hulle spesiale motoriese en sensoriese oefeninge doen nie, omdat ouers nie tuis is om daarmee te help nie. Vroeë kinderontwikkeling is nooit iewers genoem of bespreek op regeringsvlak nie. Werknemers kon nie hul volle salaris ontvang nie, maar gelukkig kon werkloosheidsversekering geëis word.

‘n Aantal verenigings beywer hulle vir die saak van kleuterskole. Kleuterskooleienaars is aanlyn opgelei ten opsigte van al die Covid-19 regulasies. Die protokol wat in plek moet kom is opsigself ‘n groot uitgawe – en dit alles uit ‘n leë beursie! Staatmaker-ouers van Aralita Versorgingsoord help met donasies vra en sit hand by waar hulle kan om hulle kinders te help om terug te keer wanneer dit toegelaat word. Almal by Early Childhood Development (ECD) het Maandag, 8 Junie, ‘n vas- en biddag gehad waarin hulle mekaar bemoedig het om te glo, te hoop en te vertrou dat die Heer gaan ingryp.

Vir ‘n kleuterskooleienaar wat verkies om anoniem te bly, pla hoofsaaklik twee dinge gedurende hierdie tyd.

Die eerste is die feit dat die Departement van Sosiale Ontwikkeling, waaronder kleuterskole ressorteer, geen plan in plek het nie. Geen vrae word beantwoord nie, wat ‘n groot frustrasie is. Hulle sê bloot dat hulle [die departement] vir die President wag.

Tweedens is die feit dat ouers nie skoolfonds betaal nie, ‘n groot bekommernis. ‘n Afslag  van 50% op skoolfooie is aangebied sedert die grendeltyd begin het. Ironies genoeg het slegs ‘n baie klein persentasie ouers aangehou om skoolfonds te betaal, selfs al het hulle aanhou werk. Skoolwerk vir Grade R en RR is aanvanklik per e-pos deurgegee, maar nie almal het fasiliteite om byvoorbeeld iets uit te druk nie. Later is pakkies opgemaak en aan ouers beskikbaar gestel.

Jacki Steenberg van Blink Soldaatjies Christelike Kleuterskool noem dat baie dinge in plek sal moet kom voordat kleuterskole kan heropen - alles teen ‘n koste. Wat vir haar uitstaan in hierdie tyd van inperking is dat die kleuterskooleienaars mekaar die hele tyd ondersteun. Iets wat vir almal baie waardevol en van hulp is, is EDUX SA - ECD NEWS se Facebook-blad. Charmaine Botha van Polokwane hou die hele tyd alle kleuterskooleienaars op hoogte van enige nuus en probleme.

Die nuus dat kleuterskole op 6 Julie mag heropen, is slegs van toepassing op dié wat op ander skoolgronde wat reeds met infasering van ouer grade begin het, geleë is.

Jacki is dankbaar dat hulle werkloosheidsversekering kon eis, maar hierdie voordeel loop ten einde teen 30 Junie. Onder die Vlak 3 status kon Jacki wel een van haar personeellede uitplaas na ‘n gesin om as au pair op te tree. Ouers is nou verplig om dit al hoe meer te doen.

Vir Jaco en Colleen Coetser is die inperkingstyd baie moeilik. Sy werk vir ‘n bank en Jaco vir die lugmag. Hulle moes inderhaas planne maak met hulle kinders van drie en een jaar oud. Hulle het nie ‘n huishulp nie, en oupas en oumas bly ver. Vir ‘n paar dae het die kinders by vriende gebly, maar hulle het self skoolgaande kinders wat moet skoolwerk doen. Colleen se pa, wat nie meer vandag se kind is nie, kyk tans na die tweetjies. Colleen besef sy is nie ‘n juffrou nie en vind dit dus moeilik om saans en naweke by die skoolwerk uit te kom. Boonop is die kinders se roetine omvergewerp en hulle gedrag het selfs verander, want hulle kry nie meer die nodige stimulasie van ander maatjies nie.

“Die virus maak my elke dag bekommerd, maar die reëls van die inperking maak nie aldag sin nie. Maandeinde kan daar 500 mense in die bank wees en niemand sê iets nie, maar my kinders kan nie terug skool toe nie en my sussie wat 'n haarkapper is mag nie werk nie,” sê Colleen.

 

News - Date: 11 June 2020

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Pétria de Vaal

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: