ADVERTISEMENT:

 

'n Paar van die restauranteienaars waarmee die Zoutpansberger gesels het.

Restaurante gretig om weer hulle “familie” te sien

 

Restaurante kon Maandag heropen. Die Zoutpansberger het by ‘n klompie restaurante en koffiewinkels in Louis Trichardt gaan inloer en gevind dat ‘n hele aantal mense reeds na lekkernye verlang het en gevolglik die kans gebruik het om in te haal! Kinders het aan roomys en wafels gesmul, terwyl die volwassenes ‘n lekker stomende koppie koffie geniet het!

Restaurante moet aan streng maatreëls voldoen. Gedetailleerde besonderhede is in die Staatskoerant nommer 43487 van 29 Junie 2020 gepubliseer.

Wanneer besoekers opdaag, kan hulle verwag dat al hulle besonderhede (soos hulle volle name en van, identiteits- of paspoortnommer, selfoonnommer en woonadres) in ‘n register ingevul moet word. Alle besoekers se koors word gemeet en hande ontsmet. Streng reëls is ook van toepassing op alle werknemers. Elke werknemer en persoon wat byvoorbeeld aflewerings doen, word onderwerp aan al die protokolle.

Ocean Basket het Maandag sy deure oopgemaak. Deeglike voorbereidings is reeds oor die naweek gedoen. Met behulp van Pest Control se span is die hele restaurant en alle toerusting en meubels deeglik ontsmet. Volgens eienaar Johan Kirsten vernietig die tipe spuitstof 99.9% van alle virusse en bakterieë en hy is baie dankbaar vir hulle professionele diens. “Ons kan steeds ‘n groot aantal gaste met gemak hanteer, met die nodige afstand in plek. Kinders mag nie nou die speelarea gebruik nie en ons het dit omskep deur ekstra tafels daar te plaas,” sê Johan. Met ‘n effe verkorte spyskaart sien hulle baie uit daarna om hulle “familie” terug te verwelkom!

Die Wimpy was reeds bedrywig op hulle heropeningsdag, Maandag. Veral kinders was te sien wat ooglopend lekkernye gedurende hierdie tyd gemis het! Volgens Emelda Maremba (bestuurder) word alle maatreëls streng nagekom en sommige tafels is gemerk waar niemand mag sit nie. Waar twee mense aan ‘n tafel sit, neem hulle skuins oorkant mekaar stelling in.

Jan Kleynhans en Christinah Maseko van Mike’s Kitchen is gereed vir hulle kliënte en het ook Maandag vir aansit-etes heropen. ‘n Groot banier met al die moets en moenies begroet gaste by die ingang. Addisionele kennisgewings word gedruk en op strategiese plekke binne die restaurant geplaas.

Jan noem dat baie vrae bestaan rondom die hantering van spyskaarte. Vir eers word die gewone spyskaarte nog gebruik, maar elke keer nadat iemand dit hanteer het, word dit ontsmet. Binnekort sal kliënte die spyskaart met behulp van die nodige tegnologie op hulle selfone kan bestudeer. Die opsie om ‘n weggooibare spyskaart te verskaf word ook ondersoek. Christinah sê dat alle items op Mike’s se spyskaart wel beskikbaar is.  Kelners verduidelik ook alles aan besoekers en maak seker dat hulle ‘n afstand van ten minste een meter handhaaf. Tafels is geherorganiseer en gespasieer. Waar daar normaalweg ses tot agt persone aan ‘n tafel sou sit, word nou net vier geplaas.

Barley & Jam gaan steeds voort met hulle wegneemetes, maar het ook vir aansitetes op 29 Junie oopgemaak. Volgens bestuurder Collin Clack is alles in plek en word almal vriendelik uitgenooi om ‘n aansitete te kom geniet. 

Peter Chinodya van die Oklahoma Spur sê dat hulle binnekort hulle deure gaan heropen. Hulle is tans besig om alles in plek te kry. Die publiek sal weldra ingelig word presies wanneer hulle weer die Spur kan begin besoek.

Die gewilde deli en tuisnywerheid, Hennetjie Nes, het Woensdag, 1 Julie heropen. Volgens Marna Breytenbach het hulle ‘n verkorte spyskaart, maar baie meer deli-tipe eetgoed as vantevore. ‘n Groot verskeidenheid daarvan kan genuttig word of gekoop word om weg te neem. “Ons is elke dag oop en beplan om vir eers slegs die laaste Saterdag van ‘n maand oop te wees. Ons gaan beslis ook oplet na die behoeftes van ons kliënte,” sê Marna.

Simply Heaven (voorheen die Koffiepot in Joubertstraat) is al geruime tyd bedrywig met wegneemetes en –lekkernye. Cecilia Nel het ‘n WhatsApp-groepie en berei heerlike kos voor, veral boerekos. Laasgenoemde word op bestelling gedoen. Simply Heaven kan twee tafels binne en twee buite akkommodeer, wat ver uitmekaar staan.

Katvoet Kunskafee in Van Warmelostraat heropen eers op 15 Julie. Alet en Lizzy du Plooy is hard besig met verfwerk en om alle protokolle in plek te kry. Alet noem dat hierdie grendeltyd diegene in die restaurantbedryf behoorlik “verkruppel” het. Hoewel hulle nou net sewe tot agt tafels gaan hê en nie die gebruiklike 13 nie, sien hulle uit daarna om besoekers te ontvang en op hulle spesiale “Covid-19” spyskaart te trakteer.

Karen’s in Kroghstraat moes ongelukkig hulle deure sluit. Karen Smit gaan egter voort met haar spyseniering en opwindende nuus is dat sy vanaf 15 Julie onder meer heerlike tuisgebak en gevriesde etes by The Garden Shop (ingang via Stubbsstraat oorkant Mount Fuji) in vries- en yskaste beskikbaar gaan hê. Maude Guthrie van The Garden Shop beplan daarmee saam ‘n wegneem-koffiestasie en almal word vriendelik uitgenooi om daarvan gebruik te maak.

Die Boekwinkel (langs Die Ou Wawiel) is reeds oop, maar Jeneane Roets verskaf vanaf 1 Julie weer heerlike koffie, ander drinkgoed en iets te peusel daarby. Sy nooi inwoners hartlik uit na die unieke koffieproesessies op Saterdae van 10:00 tot 11:30. Die fokus is op ‘n groot verskeidenheid buitelandse koffies, maar ook dié wat sy “poeding-koffies” noem.

 

News - Date: 02 July 2020

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Pétria de Vaal

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: