ADVERTISEMENT:

 

Die 43-jarige Henk Fernandes van Louis Trichardt glimlag van oor tot oor van dankbaarheid, nadat bydraes uit die gemeenskap dit vir hom moontlik gemaak het om ‘n noodsaaklike operasie te ondergaan. Tot verlede Vrydag was hy vir drie maande al bedlêend en in konstante pyn.

Henk glimlag weer breed na maande van erge pyn

 

Te midde van soveel slegte nuus het daar darem so ‘n bietjie goeie nuus die afgelope week deurgekom. Sowat twee weke gelede is inwoners in die Zoutpansberger gevra om die 43-jarige Henk Fernandes te help om ‘n noodsaaklike operasie te kry. Binne ‘n week is genoeg geld ingesamel dat nie net die aanvanklike R80 000 wat benodig was vir die hospitaal betaal kon word nie, maar sommer ook die dokter.

Henk en sy vrou, Hannetjie, en hul twee seuns, Richardo (13) en Renaldo (10), se lewens het die afgelope paar maande in ‘n lewende hel ontaard. Teen verlede Vrydag, toe Henk die noodsaaklike operasie ondergaan het, was hy reeds drie maande bedlêend en in erge pyn. Sy konstante pyn het swaar geweeg op Hannetjie en die kinders omdat hulle in ‘n groot mate magteloos was om te help.

Henk het in Desember ‘n bakterie opgetel wat in sy dermkanaal gaan lê het. Die bakterie het begin om gate in sy dermkanaal te vreet, wat veroorsaak het dat afskeidings in sy liggaam deur die weefsel gegaan en erge pyn en infeksies veroorsaak het. “Ek het ongelooflike seer gehad. Dit is ‘n seer wat jy nie regtig vir iemand kan verduidelik nie. Die naaste wat ek daaraan kan kom om te verduidelik, is as jy jou velle weggebrand het met kookwater en jy smeer growwe sout daarin. Dit is die naaste wat ek dit kan probeer verduidelik,” het Henk Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê. Hy het Maandag vanaf die hospitaal in Tzaneen teruggekeer.

Voor Vrydag se operasie het Henk al twee operasies teen astronomiese koste gehad om die skade te probeer herstel, maar beide operasies was onsuksesvol. ‘n Derde, meer gespesialiseerde, operasie sou nodig wees, maar sonder ‘n mediese fonds en by ‘n gebrek aan geld sou dit nie kon gebeur nie. Dit was juis toe dat weldoeners in die gemeenskap besluit het om Henk te help. ‘n Hulpfonds is gestig met die hulp van Hammann en Moosa Prokureurs en inwoners is gevra om hulle harte, hande, en beursies oop te maak.

Die geld het ingestroom en Henk kon Vrydag sy operasie kry. “Die dokter sê dit was suksesvol. Al wat ons moet goed dophou, is moontlike infeksie,” het Henk gesê terwyl hy van oor tot oor geglimlag het. Hy kon sy dankbaarheid nie wegsteek nie. “Ek kan nie vir jou sê hoe dankbaar is ek nie! Ek voel ‘n duisend keer beter. Ek het vanoggend al bietjie buitekant rondgeloop. Dit is bietjie seer om te loop [weens die dreineringspype] maar soos ek sê, dit is ‘n duisend keer beter,” het Henk gesê.

Henk het verduidelik dat die dokter sy derm sowat ‘n handlengte bokant die een gat in die dermkanaal afgesny het en ‘n dreineringspyp en sakkie ingesit het. “Ek sal vir ten minste die volgende jaar en ses maande met die sakkie moet loop,” het Henk gesê. Die goeie nuus is dat die sakkie weer uitgehaal kan word wanneer die skade aan Henk se dermkanaal ten volle herstel het en die operasie “omgekeer” kan word.

Al uitstaande rekening wat Henk nog moet vereffen, is dié van die narkotiseur, en daarna sy dag-tot-dag medikasie. “Ek wil ‘n baie groot dankie vir elke liewe persoon sê. Van die wat net ‘n boodskappie gestuur het, tot diegene wat die groot bedrae inbetaal het. Woorde is eintlik nie genoeg om dankie te sê nie ... Maar ek het ‘n groot, groot dankbaarheid in my hart vir elke liewe persoon wat gehelp het,” het Henk gesê.

Henk hoop om vinnig weer op die been te wees. “Die dokter het my afgeteken tot 18 Augustus, maar die 28ste van hierdie maand moet ek weer by die dokter in Tzaneen wees, sodat hulle die wonddreineringspype [apart van die dreineringspyp na die sakkie] kan uithaal. Dan eers sal ek weer behoorlik kan begin rondbeweeg,” het Henk gesê.

 

News - Date: 26 July 2020

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: