ADVERTISEMENT:

 

Ninah Prinsloo en Janene Holtzhausen van Dit en Dat.

Ooraanbod in tweedehandse mark weens swak ekonomie

 

Die grendeltyd en die gepaardgaande swak ekonomiese klimaat noop mense om soms uit desperaatheid items op Facebook en elders te verkoop om hul finansies aan te vul.

Winkels wat tweedehandse ware koop en verkoop, ervaar ook nou ‘n oor-aanbod van items. Hulle kan nie onbeperk aanhou om aan te koop nie. Die koopkrag in die tweedehandse mark het klaarblyklik aansienlik afgeneem, terwyl mens eerder sou dink dat tweedehandse ware teen goedkoper pryse juis nou aangekoop sou word, omdat dit nuut dalk te duur is.

Thundu Land (Thundu is die Venda woord vir goedere) se eienaar, Gert Dreyer, bevestig dat baie meer items nie nou verkoop nie. Hierdie onderneming is al vir vier jaar aan die gang en saam met Ronel Nieman en ander personeel het dit gegroei tot waar dit vandag is. Volgens Gert koop hulle wel nog in hierdie moeilike tye goedere aan, afhangend van wat die items is. Wat nou gewild is om by sy winkel te verkwansel is veral dié items wat nie in die winter tuis gebruik word nie, soos grassnyers en braaiers. Gert moes al mense wegwys as hy besef dat die items moontlik nie in sy winkel gaan verkoop nie. “Baie mense is desperaat en sal selfs tevrede wees met minder geld as wat hulle oorspronklik vir ‘n item wou hê,” sê Gert.

Kopers wat volgens die bêrekoopbeginsel koop, is volop. Die winkel se stoor is vol van hierdie items wat normaalweg oor vier maande afbetaal word. Thundu Land is ook bekend vir sy veilings elke tweede Saterdag.  Tans word die lokaal van die ou Robot Elektries hiervoor gebruik. “Ons sien uit daarna om binnekort die hele spasie permanent te huur en ook ons winkel soontoe te skuif, aangesien ons spasie baie beperk is,” voeg Gert by. Thundu Land is tans in die arkade langs die ou Robot Elektries.

“Vele besighede maak noodgedwonge toe en ons word gevra om hulle items op te veil. Só is daar verlede Saterdag verskeie items verkoop van ‘n kroeg wat op Modjadjiskloof sy deure moes sluit,” sê Gert. Hy noem ook dat indien hulle nie iets vir die winkel kan aankoop nie, voornemende verkopers aangemoedig word om items in “lotte” (bondels) aan te bied vir verkope tydens so ‘n veiling. Hulle het normaalweg op ‘n Saterdag 250 “lotte” om op te veil.

Gert is dankbaar dat die maak en verkoop van nuwe dennehoutmeubels ook bydra tot die behoud van die onderneming.

Soos baie ander besighede was Dit & Dat Geskenkwinkel ook toe en het eers weer op 1 Junie heropen. Janene Holtzhausen en haar dogter, Ninah Prinsloo, voel geseënd dat hulle in hierdie tyd steeds ondersteun word deur hulle lojale klante. Dit & Dat bestaan reeds vir ses jaar langs Hennetjie Nes in Erasmusstraat. Haar fokus is egter nie op enige tweedehandse goedere nie, maar uitgesoekte meubels - meubels wat haar man, Hugo, self vervaardig van herwonne hout, asook antieke stukke en geskenke.

Janene koop normaalweg haar voorraad elders aan. Slegs nou en dan sal sy in iets belangstel wat inpas by haar temas en styl en dit dan plaaslik aankoop. Wanneer iemand ander tipe tweedehandse items wil verkoop, verwys sy hulle gewoonlik na een van die ander tweedehandse winkels in die dorp. Sy het min inloopkopers en is merendeels afhanklik van die gevestigdes. Voorraad word nie tans regtig aangevul nie, omdat baie daarvan reeds beskikbaar was voor die inperking. “Die meubels soos tafels, stoele, en spieëls wat Hugo van herwonne hout maak, is ook ‘n groot treffer,” sê Janene.

 

News - Date: 31 July 2020

Recent Articles

Search for a story:

 

Gert Dreyer van Thundu Land. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Pétria de Vaal

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: