ADVERTISEMENT:

 

Die skade aan Bertie Weber se ma se Opel Meriva. Die bestuurder van die wit Nissan NP200 wat die ongeluk veroorsaak het, het weggery vanaf die ongelukstoneel terwyl Bertie bewusteloos was. Foto verskaf.

Video: Help bestuurder opspoor wat wegjaag na vroegoggend ongeluk

 

Inwoners word gevra om te help soek na die bestuurder van ‘n wit Nissan NP200 bakkie wat verlede week ‘n ongeluk veroorsaak het en bloot van die toneel af weggery het.

Die 35-jarige Bertie Weber het saam met sy vrou en twee jong kinders op 1 April vanaf Port Alfred in die Oos Kaap na Louis Trichardt verhuis. Vir hulle was dit ‘n kans om nader aan hulle families te wees.

Bertie is werksaam by NTK in die industriële gebied. Verlede Dinsdag, 28 Julie, het aangebreek soos enige ander dag. Hy het opgestaan en reggemaak om werk toe te ry vanaf hul huis in Presidentstraat. Al wat anders was daardie oggend, was dat hy te midde van die lekker reënweer, besluit het om eerder met sy ma se kar, ‘n Opel Meriva, te ry. “Vir watter rede weet ek nie,” het Bertie Dinsdag gesê. Gewoonlik sy hy met sy eie kar.

“Met die lockdown is my ma hier om na ons kinders te kyk, want die kleuterskole is toe. So, in die oggend kyk sy na die kinders, want my vrou werk halfdag,” het Bertie gesê.

Bertie se roete neem hom omtrent elke dag oor die kruising by President- en Songozwistraat. Hy sê hy het die voertuig gesien aankom teen hoë spoed. Dit was net na sesuur die oggend en die verkeerslig was egter groen vir Bertie gewees. “Ek het gedink hy gaan stop en toe trek ek weg … maar dit was nie die geval gewees nie,” het Bertie gesê.

Die aankomende bakkie het Bertie se voertuig vol op die passasierskant getref. “Ek was so uit soos ‘n kers gewees. Die sekuriteitswagte by Game moes my kom wakker maak.” Oomblikke later het Bertie onthou wat gebeur het. “Ek het vir hulle [die wagte] gevra waar is die ou? Hulle het vir my gesê die ou het gery. Dit was toe dat ek op die video sien daar was ook ‘n ander kar wat daar gestop het, maar ook net gery het,” het Bertie gesê. Hy het verwys na beeldmateriaal van die ongeluk wat op ‘n nabygeleë besigheid se sekuriteitkameras vasgelê is (die beeldmateriaal sal saam met die artikel op die Zoutpansberger se webblad verskyn).

Bertie het die saak by die polisie aangemeld, maar teen Dinsdag was daar nog geen positiewe nuus gewees nie. Dit is slegte nuus vir hom, want sy ma het nie versekering op die voertuig gehad nie. “Ek het nog nie dat ‘n paneelklopper na die skade kyk nie. Die linkerkant is plat en ek dink die onderstel is ook gebuig, so mens kan maar aanvaar die voertuig is afgeskryf,” het Bertie gesê.

Bertie wil dus graag uitvind wie die bestuurder van die bakkie was, sodat daardie persoon kan pa staan vir die skade. “Ek weet nie hoekom die bestuurder van die bakkie en die ander kar by die kruising nie gestop het nie. Dit lyk my hulle gee net nie om nie,” het Bertie gesê.

Persone wat vir Bertie-hulle kan help om die skuldige persoon op te spoor, word versoek om Bertie dringend te skakel by tel. 066 257 7150. “Iemand moet weet wie die persoon is, of daar is iemand wat gevra is om die voertuig te herstel,” het Bertie gesê.

News - Date: 06 August 2020

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: