ADVERTISEMENT:

 

Generic image.

Nou is nie die tyd om kanse te vat met hondsdolheid nie

 

Nog gevalle van hondsdolheid is die afgelope week in Louis Trichardt gerapporteer en inwoners is weereens ernstig vermaan om nie die dodelike virussiekte ligtelik op te neem nie.

In verlede week se Zoutpansberger is berig van die beseerde en sieklike hondjie wat op die N1 opgetel is en na die Louis Trichardt Dierebeskermingsvereniging (DBV) geneem is vir behandeling. Die hond se siektetoestand is aanvanklik toegeskryf aan erge verwaarlosing deur die eienaar. Binne 72 uur is die hond dood aangetref waar sy in isolasie by die DBV was. Haar gedrag het dramaties verander en sy het uiters aggressief begin optree. Voor haar dood het sy ook ‘n lid van die DBV gebyt. Dié lid, Alicia Thomas, was baie, baie dankbaar dat haar inentings teen die siekte op datum was, nadat die hond se brein weggestuur is vir toetse en die teef positief getoets het vir hondsdolheid.

‘n Dag nadat die koerant op straat verskyn het, is Vrydag berig ontvang dat nog ‘n hond positief getoets het vir die gevreesde siekte, dié keer by Blouberg Dierekliniek.

“Die hond het simptome gewys, en toe het ons hom uitgesit. Aanvanklik het die eienaars die hond ingebring omdat hy net siek gelyk het. Hulle het nie gedink dit is hondsdolheid nie. Ons het egter vir hulle gesê die hond se simptome lyk verdag en aanbeveel dat ons hom eerder uitsit en die kop wegstuur. Toe kom die toets positief terug,” het dr. Freddie Harris van Blouberg Dierekliniek Dinsdag gesê. Hy het bygevoeg dat alhoewel hierdie hond nie sy eienaars gebyt het nie, hulle steeds vir die mense aanbeveel het om vir behandeling teen hondsdolheid te gaan. “Die hond het hulle wel gelek,” het Harris gesê.

Harris het bygevoeg dat hulle intussen nog ‘n hond ingekry het wat al die klassieke simptome van hondsdolheid wys. “Ons het nog ‘n hond hier, ‘n klein Bull Terriër, wat se simptome verdag lyk. Hy behoort ook aan mense in die dorp. ‘n Baie mooi versorgde hond, maar hulle het hom nooit laat ent nie. Ek dink ons gaan hom uitsit en vandag [Dinsdag] nog sy kop wegstuur vir ontleding,” het Harris gesê. Hy het bygevoeg dat hy bykans 100% seker is die hond gaan ook positief toets.

Oor die moontlik oorsprong van die siekte het Harris gesê hy is nie seker nie. “Baie mense sê daar is van hierdie Gebande Muishonde wat in die erwe inkom, so ek weet nie of die honde dit daar kan optel nie. Dit kan ook ‘n rondloperkat wees … mens weet nie. Die bottom line is, mense moet hulle troeteldiere maar net inent teen die siekte,” het Harris gesê.

Die hondsdolheid virus word van diere (in meeste gevalle honde) na mense oorgedra in die dier se speeksel wanneer die dier iemand byt. Die virus kan ook deur snye, die mond of oë die mens infekteer. Die eerste simptome van infeksie sluit in hoofpyn, angs, koors, braking en uiterse vrees vir water. Daarna volg verlamming, koma en die dood. Dit neem gewoonlik twee tot 10 weke vir mense en diere om simptome te toon ná infeksie. Wanneer mens of dier die tekens begin toon, is geen behandeling moontlik nie en die persoon of dier sal sterf. Om dadelik ná ‘n byt van ‘n vermoedelik hondsdol dier met behandeling te begin, voordat die simptome begin wys, is dus uiters belangrik. Was die wonde onmiddellik deeglik, verkieslik met ’n ontsmettingsmiddel. Kry so gou moontlik mediese behandeling en onthou dat die behandeling uit ’n reeks inspuitings bestaan en ‘n persoon die volledige reeks moet ontvang.  

“Ek dink nie mense besef hoe baie hondsdolheid gevalle daar in ons area is nie. Dit is volop. Dit word net nie aangemeld nie of daardie diere gaan net dood. Die hond wat my gebyt het, is binne 72 uur net dood. Wanneer hulle begin simptome wys, is dit vinnig,” het Thomas verlede week aan die Zoutpansberger gesê.

In ‘n poging om die verdere verspreiding van die siekte te probeer hokslaan, het die plaaslike DBV se Legacy Vet Shop en die Blouberg Dierekliniek besluit het om saam te werk ten opsigte van ‘n veldtog teen hondsdolheid. Vanaf 1 tot 31 Augustus kan mense vir slegs R20 per inenting hulle diere laat inent by die instansies teen die virus. Inwoners word ernstig gevra om gebruik te maak van die aanbod.

 

News - Date: 07 August 2020

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: