ADVERTISEMENT:

 

Die unieke en rare Duitse wynfles.

Dié versameling voorwaar 'n skatkis van kosbare oudhede

 

Die Zoutpansberger het nog ‘n klompie skatte in die besit van ‘n familie in ons omgewing ontdek. Die familie wil hulle identiteit stil hou, om verstaanbare redes, aangesien hulle versameling uit ‘n klompie rare en uiters kosbare artikels bestaan.

Met items wat oor eeue strek, is hierdie voorwaar ‘n besondere versameling.

‘n Unieke porseleinbak dateer uit die tydperk van die Ming-dinastie wat vir byna drie eeue (1368–1644) oor China regeer het. In daardie tyd is vloeibare glasuur gebruik – duidelik sigbaar op hierdie bak. Die bak is steeds in familiebesit en was saam op die Groot Trek. Die vermoede bestaan dat die bak bekom is deur middel van handel dryf met die Ooste deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie - aan die destydse Kaap. Die huidige eienaar vermoed dat hulle voorgeslagte waarskynlik nie eers besef het hoeveel hierdie porselein werd is nie. Die herinnering is sterk aan ‘n ouma wat permanent vrugteslaai hierin op ‘n tafel gehad het. Met bakkies en lepels byderhand, kon elkeen wat verbykom na hartelus skep en eet.

‘n Pragtige kis kom volgens oorlewering uit die tyd van Leonardo da Vinci (1452-1519). ‘n Mooi verhaal het hierdie kis, of “kist” soos dit ook bekendstaan, in die familie se besit laat kom. ‘n Groot aantal Italiaanse krygsgevangenes is tydens die Tweede Wêreldoorlog in  Noord-Afrika gevange geneem en na Suid-Afrika gebring. Sommige van hulle is uitgeplaas om op plase te werk. Hulle is deurgaans baie goed deur die plaaseienaars behandel en het deel van die families geword. Vier van hierdie Italianers het op ‘n groottante se plaas in die Rustenburg-distrik beland.  Hulle was uiters hardwerkend.  Ná die oorlog kon hulle terugkeer na Italië. Een van hulle het egter gevra of hy sy familie kon gaan haal en in Suid-Afrika kom woon, wat hy ook gedoen het. Die tante het hierdie familie bygestaan om hulle eie stukkie grond te bekom. Uit dankbaarheid het sy onder meer die kis as geskenk ontvang, asook ‘n ronde tafel met ses stoele en ‘n “opsitbank”. Laasgenoemde is ‘n es-vormige bankie waarop verliefdes kon kuier onder die wakende oog van ouers. Op hierdie bankie het die dame een kant toe gekyk en die vryersklong anderkant toe! Die tante was getroud met ‘n tandarts uit Noorweë en was kinderloos. Haar suster se kleinkind (die groottante se naamgenoot) het die kis geërf. Jare later het die eienaar die res van die meubels toevallig by iemand plaaslik raakgeloop, wie se vermoënde familie dit aangekoop het en dit later na ‘n familielid in Engeland verskeep het.  

‘n Stel kookpotte wat van egte silwer gemaak is, vang die oog. Hierdie kookpotte lyk meer na opskepbakke, so mooi is dit. Die potte is afkomstig uit Parys, Frankryk. Die silwer is met rooikoper oorgeblaas en die handvatsels is gemaak uit geelkoper. Hierdie stel is waarskynlik deel van ‘n spesifieke reeks, aangesien dit genommer is. Dit het saam met Europese familielede na Suid-Afrika gekom.

‘n Duitse wynfles het ‘n interessante storie: Die eienares het as klein dogtertjie in ‘n boom gesit en gesien hoe hulle bure oppak om te trek.  Die bure was Duitsers wat van Duitsland via die ou Suidwes-Afrika na Suid-Afrika gekom en so ‘n entjie buite Rustenburg gebly het. Vir kinders was hierdie mense se leeuwyfie baie interessant om na te kyk – vandaar die boomklimmery. Die bure het verskeie items weggegooi op ‘n rommelhoop. Toe sy gewaar dat ‘n mooi wynfles, wat soos ‘n kruik lyk, ook weggegooi is, het sy besluit om dit later te gaan haal.

Hierdie tipe flesse word ‘n “Bartmann” (baardman) fles genoem. Die sout-geglasuurde tipe keramiek is oorspronklik in die omgewing van Keulen in Duitsland gedurende die 16de en 17de eeu vervaardig. Tydens ‘n besoek aan ‘n museum in Duitsland is die familie ingelig dat die een op uitstalling die enigste oorblywende van sy soort is. Hulle kon met gemak noem dat ten minste twee nog bestaan – hulle besit die ander een! Later van tyd is tydens die drooglegging van die dokke by die Kaapse hawe nog een ontdek. Hierdie fles het waarskynlik gedurende Van Riebeeck se tyd op plaaslike bodem aangekom.

Diegene wat al die Paul Krugerhuis in Pretoria besoek het en wat al by Boekenhoutfontein naby Rustenburg was, sal kan sien dat twee stoele en ‘n riempiesbankie in die mense se besit beslis uit hierdie versameling dateer. Die familie is voorwaar gelukkig om hierdie items, asook ‘n meegaande voetstoeltjie van Paul Kruger, in hulle besit te hê. Die riempiesbankie is van tambotiehout gemaak. Alles is nog in ‘n puik toestand.

Te midde van onseker tye is kan mens gerus ‘n slag gaan kyk waar jy vandaan kom. Dit verskaf ‘n gevoel van genoegdoening wanneer skatte se stories afgestof word en laat ‘n mens opnuut voel of jy êrens “behoort”.

 

News - Date: 08 August 2020

Recent Articles

Search for a story:

 

Die Italiaanse kis uit die tyd van Leonardo da Vinci.

Die egte silwer kookpotte met die porseleinbak agter.

Die onderkant van die porseleinbak wat toon dat dit uit die Ming-dinastie dateer.

Paul Kruger se riempiesbankie en voetstoeltjie.

 

ADVERTISEMENT

 

Pétria de Vaal

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: