ADVERTISEMENT:

 

Paul Otto staan hier by die massiewe Blackstone enjin wat tussen 1955 en -60 vervaardig is. Dit was een van die enjins wat Saterdag weer tot lewe gebring is. Foto verskaf.

Paul se oudhede gee mense ‘n unieke terugblik op verlede

 

Liefhebbers van ou enjins het Saterdag, 15 Augustus, ‘n unieke terugblik op die verlede gekry tydens ‘n eerste-van-sy-soort engine start-up dag by Paul Otto en familie op sy kleinhoewe buite Louis Trichardt.

Paul is welbekend in die Soutpansberg vir sy liefde vir oudhede, veral ou enjins. Tans het hy sowat 30 van hierdie ou enjins wat in verskillende stadiums van restourasie is, en Saterdag het hy die publiek uitgenooi om te kom kyk hoe hy sowat ‘n derde van hierdie enjins aanskakel. “Sosiale afstand is deurlopend gehandhaaf, vir die wat wonder,” het Paul gesê.

Een van die groot aantrekkings die dag was ‘n massiewe tien-ton, agt-silinder Blackstone enjin wat tussen 1955 en 1960 gemaak is en 480 perdekrag uitskop. “Wat min perdekrag is, want deesdae kry mens klein karretjies wat meer perdekrag het. Die enjin het egter baie wringkrag en loop deurentyd. Sy hoofdoel was oorspronklik om kragopwekkers aan te dryf, asook skepe. Vir ons omgewing is dit ‘n relatief groot enjin,” het Paul gesê.

Paul vertel dat hy die enjin by die destydse Shefeera Timbers in Louis Trichardt gekoop het. “Hulle wou dit oorspronklik as ‘n kragopwekker gebruik, maar het nooit daarby uitgekom nie. Dié masjiene se tegnologie het so agter geraak dat hulle uitgedien geraak het,” het Paul gesê.  

Paul het die masjien gekoop vir die enorme prys van R1,20 ‘n kilogram, vir ‘n totaal van R12 000. Hy het die masjien tydens die grendeltyd gaan laai en gerestoureer, nadat dit meer as twintig jaar gestaan het. “Net die vuil olie met water gemeng wat ons uitgetap het, was so 400 liter. Die masjien self vat 350 liter olie. Weet jy wat kos 350 liter enjinolie?!” het Paul gesê.

Die enjin is 100% oorspronklik. Die enigste modifikasie wat Paul aangebring het, was om Perspex-panele op die masjien te sit, sodat mense kan sien hoe werk ‘n enjin aan die binnekant terwyl hy loop. “Dit was my doel gewees, om vir mense te wys,” het Paul gesê.  

Vir Paul is die restourasie van ou masjiene meer as net ‘n passie. Sy oudste enjin, wat loop, dateer uit 1917. “Baie ander ouens gaan vang vis of gaan jag. Ek maak enjins bymekaar, vir 20 jaar al,” het Paul gesê.

Van die ander oulike masjiene wat te siene was, was ‘n een-silinder, twee-slag Petter enjin, ook genoem ‘n Apple Top, omdat sy kop soos ‘n appel lyk. “Wat uniek is aan hierdie 3.5 perdekrag enjin is sy 780 revolusies per minuut. Dit was verbasend vinnig vir daardie jare (1930’s) met ander, soortgelyke masjiene wat maar 350 revolusies per minuut gehad het. Die enjin is hoofsaaklik gebruik om water te pomp uit riviere en boorgate,” het Paul gesê. Hy het die enjin by Francois Botha gekry, wat dit as ‘n ornament in sy tuin gehad het. “As jy hierdie enjins kry, is hulle altyd vasgeroes. Dit vat vrek baie werk, ure en sweet om hulle weer aan die gang te kry. Dit is uitsonderlik as jy ‘n enjin kry wat nie vasgeroes is nie,” het Paul gesê.

Nog ‘n unieke enjin in Paul se versameling is ‘n nege-silinder radial enjin, soortgelyk aan die enjins wat in die Harvard-vegvliegtuig van die Tweede Wêreldoorlog voorgekom het. Sy enjin is egter ‘n Continental enjin afkomstig uit ‘n Sherman tenk, ook uit die Tweede Wêreldoorlog. Hy het die enjin ten volle gerestoureer gekoop by ‘n mede-versamelaar van Pretoria, wat weens sy ouderdom begin afskaal het.

Ook een van die GROOT masjiene wat Saterdag weer tot lewe gebring is, was ‘n enkel-silinder, 95 perdekrag, Robson oopkruk (open-crank) enjin uit die 1930’s. Hierdie massiewe stuk yster van tussen ses en agt ton is spesifiek by myne gebruik om die kragopwekkers aan te dryf, water uit skagte te pomp, vars lug in die skagte in te pomp en ook die hysbakke in die skagte aan te dryf. “Hierdie spesifieke een het ek by ‘n plaasboer in Polokwane gekoop. Die boer wou water daarmee aanpomp. Toe kom hy agter sy loopkoste is net te duur,” het Paul gesê.

Van die gaste Saterdag het ingesluit Gustav van der Westhuizen. Paul het Gustav sowat 15 jaar gelede ontmoet toe hy nog op skool was. “Hy het toe al ‘n goeie kennis van ou masjinerie gehad en ‘n liefde daarvoor. Hy word tans beskou as ‘n kenner van ou enjins in die restourasiebedryf. Sy eie versameling bestaan uit tussen 60 en 80 enjins wat dateer uit verskeie dekades,” het Paul gesê.

Paul se passie is egter nie net enjins nie. Hy versamel alle oudhede, van roomafskeiers tot ou trekkers. Tans het hy vyf trekkers in sy versameling. Die enigste vereiste is dat die items van voor 1960 moet wees. “As mense oudhede het waaroor hulle onseker is of meer wil uitvind daaroor, neem ‘n foto en stuur dit vir my. Ek sal graag van hulp wil wees,” het Paul gesê. Hy kan geskakel word by 084 070 3743. Paul het bygevoeg dat, weens wye belangstelling, hulle oorweeg om weer so ‘n engine start-up dag te hou, miskien in die nuwe jaar.

 

News - Date: 23 August 2020

Recent Articles

Search for a story:

 

Die een-silinder, twee-slag Petter enjin, ook genoem ‘n Apple Top, omdat die bokant daarvan soos ‘n appel lyk. Foto verskaf.

Paul en Kobus Otto staan hier by die nege-silinder radial enjin afkomstig uit ‘n Sherman tenk uit die Tweede Wêreldoorlog. Foto verskaf.

Mede-versamelaar en kenner van ou enjins Gustav van der Westhuizen staan hier by ‘n enkel-silinder Fairbanks-Morse enjin wat dateer uit die 1920’s. Foto verskaf.

Baie van die ouer garde, maar dalk ook jonger boere, sal beslis hierdie enjin herken. Dit is ‘n twee-silinder Lister enjin wat nou nog ‘n staatmaker op plase is. Die spesifieke enjin is nie so oud nie en dateer uit die jare 60. Tog sal geen versameling van enjins volledig wees sonder ‘n Lister nie. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: