ADVERTISEMENT:

 

Plaaslike slangvanger en -kenner Jan “Slang” van Rooyen met die mooi wipneus kobra wat verlede Vrydag eers deur ‘n voertuig raakgery is en daarna in ‘n stilstaande vragmotor gaan skuiling soek het. Foto verskaf.

Slange gaan al meer bedrywig word, waarsku kenner

 

‘n Wipneus kobra het verlede Vrydag (28 Augustus) vir groot sports gesorg in Louis Trichardt, nadat sy eers deur ‘n motoris raakgery is en daarna in ‘n stilstaande vragmotor gaan skuiling soek het.

Die kobra is in Unikastraat voor Ash Cash & Carry raakgery. Sy het daarna in ‘n vragmotor, wat langs die pad geparkeer gestaan het, gaan skuiling soek.

“Omstanders het my gekontak om die slang uit die trok uit te verwyder. Ná die slang veilig verwyder is, is ons inderhaas Blouberg Dierekliniek toe om die kobra te probeer help aangesien sy baie bloed opgebring het en inwendig seergekry het,” het plaaslike slangvanger en -kenner Jan “Slang” van Rooyen gesê.

Jan was vol lof vir Blouberg se personeel, wat hom dadelik gehelp het. “Ongelukkig was die inwendige beserings baie erg en die kobra is ‘n genadedood gegee om haar lyding ligter te maak,” het Jan gesê. Vir hom is daar niks hartseerder as om te sien dat ‘n slang doodgemaak word nie. “Ek wil graag dankie sê vir almal wat betrokke was, van die persone wat my gekontak het tot veral die personeel by Blouberg wat altyd bereid is om te help,” het Jan gesê.

In dieselfde asem het Jan inwoners gewaarsku dat, met die dae wat vinnig warmer word, meer en meer slange vanuit hulle winterrus sal ontwaak op soek na kos. “Daarom vra ek dat mense maar moet mooi begin kyk en versigtig te wees. Ek werk tans aan ‘n opvoedkundige reeks aangaande slange vir die nuwe seisoen wat voorlê,” het Jan gesê.

Volgens Jan het hy die afgelope tyd reeds heelwat oproepe ontvang oor slange. “Baie mense wil weet wat hulle moet doen om hulle huise veilig te maak teen slange. Dinge soos afskrikmiddels, diesel, paraffien, Jeyes Fluid ensovoorts werk nie om slange uit die huis of erf te hou nie - dis is ongelukkig net stories. Honde en katte werk ook nie. ‘n Hond sal wel ‘n slang aanval as gevolg van hulle beskermingsinstink en word dikwels gepik deur slange, met hartverskeurende nagevolge. Katte sal ook wel slange vang, maar bly gewoonlik weg van giftige en groot slange,” het Jan gesê.

Volgens Jan is kos, water en skuiling die enigste rede waarom ‘n slang op iemand se werf sal kom. “Deur die erf skoon te hou van bourommel of tuinvullis help baie, want dit verskaf skuiling en ook wegkruipplek vir prooi soos paddas, muise, en rotte. Meeste slange maak jag op hierdie diertjies,” het Jan gesê.

Buiten vir bourommel en tuinvullis, het Jan gesê, lok honde en katte se kosbakke ook slange. “Muise en rotte eet net so lekker aan die troeteldierkos wat oorbly en hulle lok natuurlik slange. ‘n Permanente waterbron soos ‘n dier se waterbak is ook ‘n aantrekkingskrag, want die slange maak jag op die diertjie wat daar water drink. Om die kos en water van die grond af te lig, sal baie help,” het Jan gesê.

Jan het weereens inwoners versoek om nie slange voor die voet en sonder enige rede dood te maak nie. “As mense wel op ‘n slang afkom, moenie die slang konfronteer nie. Dit is wanneer die slang homself sal verdedig,” het Jan gesê. Wanneer so ‘n ontmoeting tussen mens en slang plaasvind, het Jan gesê, is dit wys om dadelik vir ‘n oomblik stil te gaan staan, jou oë op die slang te hou en stadig weg te beweeg van die slang af.  “In baie gevalle sal hulle self wegbeweeg. Tot dan moet ander diere, soos honde en katte, van die slang weggehou word. As die slang nie wegbeweeg nie, skakel iemand wat die slang kan kom verwyder. Moenie die slang probeer doodmaak nie, want dit is gewoonlik wanneer mense gepik word,” het Jan gesê. Hy het inwoners uitgenooi om hom te skakel vir enige verdere inligting oor slange en ook om slange te kom verwyder. Hy kan geskakel word by tel. 067 835 0816.

 

News - Date: 06 September 2020

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: