ADVERTISEMENT:

 

Van links na regs, bo na onder, is Istvan Schuch, Louise Dekker, Waldo Stemmet, Johestie Muller en Ruzelle Nortje. 

Matrieks meen hulle is gereed vir “finale hekkie”

 

Die Graad 12’s is midde-in hulle Rekordeksamen en die eindeksamen is om die draai. Die Zoutpansberger het by ‘n paar Graad 12’s gaan hoor of hulle gereed voel vir die eksamens, of hulle alle werk onder die knie het ná die grendeltyd-onderbreking en ook wat die emosionele impak van die hele pandemie op hulle was of steeds is. Is hulle gereed vir die volgende stap in die opvoedingsketting ná matriek?

Ruzelle Nortje van Hoërskool Louis Trichardt voel baie goed voorbereid vir die meeste van haar vakke en is gereed vir beide die Rekord- en die eindeksamen, hoewel sy meer positief voel oor die eindeksamen. “Die rede is dat my vraestelle dan ‘n goeie verspreiding het,” sê sy. Ruzelle vervolg deur te noem dat sy maar net so vir ‘n week hierdie hele jaar gerus het.  “Gedurende die grendeltydperk en die week vakansie voor dit was ons konstant besig met werk wat die onderwysers vir ons via WhatsApp deurgegee het. Dit het ons help voorbly met die werk en het eintlik veroorsaak dat ons ‘n langer akademiese jaar as die matrieks van vorige jare gehad het. Ons het wel in ‘n paar vakke eers ‘n week voor ons bloktyd klaargekry met die werksinhoud, maar alles was deeglik met ons behandel,” sê Ruzelle.

Sy voel dat die pandemie nie eintlik ‘n groot emosionele impak op haar gehad nie. “Ek het wel my vriendinne baie gemis, maar ek het dit baie geniet om op my eie met my skoolwerk aan te gaan. Ek kon meer werk gedoen kry en het ook baie tyd gehad om aan myself en aan my familie te spandeer,” sê Ruzelle. Sy sien uit daarna om volgende jaar die volgende stappe in haar lewe aan te pak.  Sy beplan om BCom Rekeningkundige Wetenskap te studeer.

“Ek voel beter voorbereid as onder normale omstandighede.” Só sê Johestie Muller, ook ‘n matriekleerling van Hoërskool Louis Trichardt. “Diegene wat bereid was om hard te werk, is gereed vir die eksamen en het die werk onder die knie. Ons onderwysers was te alle tye beskikbaar. Dit het dus nie regtig so vreemd gevoel nie,” sê Johestie. Volgens haar het die feit dat die matrieks hulle laaste jaar van sport verloor het ‘n groot emosionele impak gehad.

“Tydens die grendeltydperk het dit vir ons die nodige verantwoordelikheid geleer om gereed te wees vir die volgende stap - ons het geleer om op ons eie te werk sonder dat iemand die hele tyd wil weet of jy die werk wel gedoen het. Jy het vir jouself gewerk,” sê Johestie.

“Ons is tans besig met ons Rekordeksamen en ek voel heel positief daaroor, asook oor die eindeksamen. Ons is deur al ons werk in al ons vakke en het selfs tyd gehad vir hersiening in meeste van ons vakke. Ons het deur die grendeltydperk gewerk en net dit wat ons toe gedoen het ‘n bietjie hersien toe ons weer skool toe kon gaan. Die enigste van my vakke waaroor ek kan sê ek bekommerd is, is Wiskunde en Wetenskap, maar ek dink nie dit het enigiets te doen met die veranderde omstandighede nie.” Só sê Louise Dekker, leerder van Hoërskool Louis Trichardt. Sy vervolg: “Die pandemie het nie ‘n vreeslike impak op my gehad nie. Ek het die bietjie tyd by die huis geniet. Ek sien uit daarna om volgende jaar Aardwetenskap by Stellenbosch Universiteit te studeer en voel meer as gereed om hierdie volgende stap in die opvoedingsketting te maak. Ek wens net die stap kon ‘n bietjie vinniger gebeur en dat die eindeksamen nie tot in Desember aangehou het nie.”

Istvan Schuch (ook van Hoërskool Louis Trichardt) voel gereed vir die eksamens, hoewel hy dink hy nog nie heeltemal gereed is vir die eindeksamen nie . “Ons het in party vakke die werk klaar, maar nie alle vakke nie,” sê hy. Hy glo egter dat alles in plek sal wees voor die eindeksamen. “Die inperking het geen emosionele skade aan my verrig nie; ek het dit effens geniet, om eerlik te wees. Ek is definitief reg en opgewonde vir die volgende stap ná skool,” sê Istvan.

Benita Cronjé van CVO Zoutpansberg (ZCVO) is gereed vir die Rekordeksamen wat by hierdie skool reeds ten einde loop. Sy sê dat sy aanvanklik gespanne gevoel het, maar dat sy gou meer op haar gemak was. Hoewel al hulle werk behandel en op datum is en onderwysers slegs ‘n oproep ver was tydens die grendeltyd, het dit baie van haar geverg om op haar eie te werk.  “Ek weet nie of ek gereed is vir wat ná matriek voorlê nie, want die pandemie het veroorsaak dat ek my planne moes verander,” sê Benita.

Nog ‘n Graad 12-leerder van ZCVO, Waldo Stemmet, is dit eens dat die grendeltyd ‘n “vreemde warboel van vrae en emosies” was. “Ons skool is gesluit en ons as leerlinge was ‘bang-opgewonde’. Ons toegewyde onderwysers het planne gemaak om hierdie ongenooide gas hok te slaan en ons het aanlyn-klas ontvang. Ek moes tydens die grendeltyd baie selfdissipline toepas. Wat ek wel gemis het, was die jaar se atletiek, kultuur en redenaars. Dit was elke jaar vir my ‘n hoogtepunt. Met die aanvang van die Rekordeksamen het ek ‘n hol kol op my maag gehad aangesien ons vraestelle vanaf BCVO gekom het. Die vraestelle het gewissel van ‘styf’ tot maklik. Indien ons ons kant bring, behoort die eindeksamen nie ‘n riller te wees nie,” sê Waldo hoopvol.

“Ons matriekjaar het gevlieg. Ek sien uit na die laaste hekkie – die eindeksamen. Soli Deo Gloria – Aan God alleen die eer,” sluit Waldo af.

 

News - Date: 11 September 2020

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Pétria de Vaal

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: