ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Luke Enslin kyk na die klein gat wat die inbrekers in die kontantkantoor se plafon geslaan het om toegang te kry.

Inbrekers teister plaaslike besighede

 

Die uiters negatiewe ekonomiese impak van die Covid-19 pandemie het klaarblyklik tans ‘n toename in misdaad in Louis Trichardt tot gevolg, veral wat inbrake by besighede betref.

Die Zoutpansberger is Maandag ingelig van inbrake by ten minste drie bekende plaaslike ondernemings die afgelope naweek. Dit het ingesluit Soutpansberg Spar, Baobab Bande in Rissikstraat en Cassim Spares in Krugerstraat. Weens die feit dat die plaaslike polisiediens geen misdaadstatistiek bekendmaak nie, bestaan geen sekerheid of nog ander besighede ook deurgeloop het nie.

Soutpansberg Spar het Saterdagaand deurgeloop, met eienaar mnr. Luke Enslin wat Sondagoggend op die skade afgekom het.

“Hierdie ouens is nie van hier af nie,” het Enslin gesê, met verwysing na die absolute “professionaliteit” waarmee hulle die inbraak uitgevoer het. “Hulle het die elektriese heining gedeaktiveer. Die ouens het presies geweet waar om te knip, want die alarm het nie afgegaan nie. Vandaar het hulle op die dak geklim. So teen middernag het ons ‘n dakalarm gekry,” het Enslin gesê.

Die sekuriteitsmaatskappy het toe een van die winkel se bestuurders geskakel. “Hy het vir hulle [die sekuriteitsmaatskappy] gevra om te gaan kyk of alles in orde is, waarop hulle terug laat weet het alles lyk in orde,” het Enslin gesê.

Maar alles was nie in orde nie.

“Kort daarna is die alarm op die dak ook gedeaktiveer. Hulle het toe ‘n gat reg bokant die kontantkantoor gemaak, die plafon stukkend geslaan, ingeklim en daarna die traangas in die kontantkantoor gedeaktiveer,” het Enslin gesê.

Die inbrekers het toe die G4-kluis, wat aan die bank behoort, met ‘n hoekslyper oopgesny. Dit was nadat dat hulle ook die sensor op die kluis, wat veronderstel is op ‘n alarm by die bank te aktiveer as iemand daaraan peuter, gedeaktiveer het.

“Hulle het die geldsak, wat in die kluis gemonteer is, oopgesny en die geld [‘n redelik groot hoeveelheid kontant] verwyder,” het Enslin gesê. Hy het bygevoeg dat die diewe duidelik net daar was vir die geld en aan niks anders geraak het nie - nie eers ‘n duur bottel Franse sjampanje wat op die rak langs die kluis gestaan het nie. “Dit staan nou nog daar. Hulle het nie eers daaraan geraak nie. Hulle het nie sigarette nie, niks gevat nie. Hulle het presies geweet wat hulle doen,” het Enslin gesê.

Gelukkig, het Enslin gesê, het hulle versekering wat die verlies aan geld dek. “Maar die koste van die skade en die ontwrigting om dit te herstel - dit is die groot frustrasie!” het Enslin gesê. Teen Dinsdag was hulle steeds besig om die skade te herstel.

Groot skade is ook by Baobab Bande aangerig. “Ons weet nie presies wanneer die inbraak plaasgevind het nie, want hulle het die alarmstelsel gedeaktiveer. Hoe hulle dit reggekry het, weet ek nie. Ons het Saterdag toegesluit en Maandagoggend ingestap op die skade,” het eienaar mnr. Boshoff du Toit gesê.

Du Toit het vertel dat die booswigte toegang tot sy perseel gekry het deur ‘n klein venstertjie aan die agterkant van die gebou, waarvan hulle die diefwering afgebreek het. “Hulle het ingekom en die kluis met ‘n hoekslyper oopgesny. Hulle moes die hoekslyper saamgebring het, want daar was nie een op die perseel nie. Gelukkig was daar nie baie geld in die kluis nie, net Saterdag s’n, wat nie baie was nie,” het Du Toit gesê.

Die inbrekers het ook voorraad gesteel. “Dit is nou dit wat hulle deur die klein venstertjie kon uitkry ... Ons is nog besig met voorraadopname, maar ons weet ten minste van 12 batterye wat weg is. Omdat die venster klein was, kon hulle nie groot goed uitkry nie. So kon hulle nie groot bande uitkry nie. Hulle het ons grootskerm televisie ook afgehaal, maar kon dit nie uitkry nie,” het Du Toit gesê.

Volgens Du Toit het die inbrekers feitlik elke deur binne die perseel stukkend geskop sonder om dit oop te maak, om toegang tot die kluis in die stoor te kry. Dit het hulle gedoen om te verhoed dat die alarm afgaan, totdat hulle die stelsel kon onskadelik stel. “Hulle het baie meer skade gemaak as wat hulle enige iets anders gedoen het,” het Du Toit gesê.

Dinsdag was Du Toit nog besig met ‘n skadeberaming. “In dié stadium het ek nog nie regtig ‘n syfer nie. Hulle het die alarmboks uitmekaar gebreek en dit moet ook vervang word, so ook al die deure en die kluis wat hulle stukkend gesny het. Die kluis is ‘n hele paar rand,” het Du Toit gesê.

Cassim Spares het die “beste” van die naweek se inbrake daarvan afgekom, nadat diewe Vrydagaand daar ingebreek het. “Hulle het die dak oopgebreek, die plafon stukkend geslaan en daarna het hulle die alarmstelsel probeer stukkend slaan om by die kantore in te kom. Die alarm het afgegaan en binne minute was die sekuriteitsmaatskappy op die toneel. Die inbrekers het gevlug met niks,” het mnr. Farhad Cassim, bestuurder van Cassim Spares, gesê. Hy het hoë lof gehad vir DRS se flinke reaksie.

Cassim was van mening dat die inbrake ‘n direkte uitvloeisel is van werkloosheid wat deur die Covid-19 pandemie veroorsaak is. “Mense is honger,” het hy gesê. Hy het bygevoeg dat die skade wat tydens sulke inbrake aangerig word telkens ‘n groter frustrasie is. “Die versekering dek die skade, maar jy moet steeds ‘n bybetaling maak,” het Cassim gesê.

Die Makhado polisie is Dinsdagoggend gevra vir kommentaar oor die inbrake, maar teen druktyd is nog geen terugvoer ontvang nie. Die Soutpansberg Dorpswag het wel verlede Vrydag ‘n waarskuwing via hul WhatsApp-groep uitgestuur vir inwoners om asseblief hulle eie veiligheid by hul huise en besighede op te skerp.

 

News - Date: 18 September 2020

Recent Articles

Search for a story:

 

Die kluis in Soutpansberg Spar se kontantkantoor wat deur die inbrekers met ‘n hoekslyper oopgesny is. Die diewe het met ‘n redelik groot hoeveelheid kontant op die vlug geslaan. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: