ADVERTISEMENT:

 

Phil by sy Geloof, Hoop en Liefde-beeld aan huis van Luke en Marié Enslin van Louis Trichardt.

Befaamde beeldhouer kom deel kennis op Louis Trichardt

 

Die befaamde beeldhouer Phil Potgieter het Louis Trichardt vandeesweek besoek waar hy by kunstenaarsvriende gekuier het.

Die 82-jarige Phil is steeds daagliks in sy ateljee in Roodepoort aan die werskaf. “Ek doen nie meer groot opdragte nie, slegs kleineres en dié wat ek vir familie en vriende doen, geniet voorkeur,” sê Phil.  

Phil kom uit ‘n kunstenaarsfamilie. Sy oorlede broer, Gert Potgieter, sal veral onthou word deur die omgewing se ouer inwoners. Hy was op besoek aan Louis Trichardt in die laat 1970’s waar hy in die Ferdie Beyerssaal opgetree het. Gert is op ‘n jong ouderdom (46) noodlottig raakgery.

Phil is gebore in Aasvoëlkop, Johannesburg, in 1938. Dit het destyds uit ‘n aantal kleinhoewes bestaan. Hy het in daardie omgewing grootgeword – toe nog baie plattelands, met sy ouma wat koeie aangehou het en melk aan bure oor die heining vir ‘n tiekie verkoop het. Phil is die tweedejongste van vier kinders en het skoolgegaan by Laerskool Louw Geldenhuys in Linden en Hoërskool Linden.

“Ek onthou goed hoe my belangstelling in kleiwerk geprikkel is in ongeveer Graad 1. Ons onderwyseres, mev. Schlebusch, het ons in ‘n kunsklas laat krale maak van ‘vleiklei’ of plaasklei. Die skool het ook ‘n drom vol van hierdie klei op die skoolgronde gehou. Iets wat ‘n groot indruk op my gemaak het, was om te sien hoe van die weeskinders wat saam met my skoolgegaan het die mooiste klei-osse en olifante uit hierdie klei gemaak het. Ek was seker so in Standerd 3,” sê Phil. “Die persoon wat my die meeste geïnspireer het om ‘n beeldhouer te word, was my pa. Ek is sy naamgenoot – Hermanus Phillipus Potgieter. Hy was in die drukkery-bedryf en het tydens die depressiejare sy besigheid verloor.” Hy is toe as handsetter aangestel by die destydse Transvaler, waar Phil self later as leerling begin werk het.

“Die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949 en die formidabele beeldhouwerk aldaar was groots en sou bepalend wees in my toekomstige besluite,” sê Phil, wat so bevoorreg was om teenwoordig te wees.   

As werkende jong man het Phil eendag aan ‘n kollega genoem dat hy weer kleiwerk wil begin doen. Hy het in die Aasvoëlkop-omgewing rondgestap en het in die modder getrap waar ontwikkelaars besig was om ‘n gedeelte by ‘n populierbos in ‘n rolbalbaan te omskep. Hy het agtergekom dat hierdie nie modder was nie, maar dieselfde “vleiklei” wat hulle destyds by die skool gehad het. Opgewonde het Phil ‘n kruiwavol gaan haal. Kort hierna het hy Newlands toe getrek, en dit het saamgetrek. Die eerste beeldjie wat hy gemaak het, was van Albert Schweitzer - mediese sendeling, skrywer, musikant en teoloog. Die destydse Volkskas Bank het die beeldjie gekoop en dit staan tans in die Burgersentrum in Roodepoort.

“My pa was baie kultuurbewus.  My broer Gert is juis deur hom aangemoedig om te sing. Ek wou graag verder studeer, maar het nie die geleentheid gehad nie,” vertel Phil. “Kuns het my gedryf en ek is later aangestel as leerling grafiese ontwerper by die Spoorweë. Ek het nie ‘n graad of diploma gehad nie en moes myself maar leer. In my werk het ek ‘n groot verskeidenheid van werk gedoen. Onthou, dit was in die dae voordat alles digitaal gedoen is. Met ‘n kwas het ek byvoorbeeld ‘n bord geverf wat by ‘n stasie opgerig moes word. Op die ouderdom van 54 moes ek ongelukkig pensioen neem as gevolg van regstellende aksie,” sê Phil.

Phil is dankbaar dat hy ná sy verpligte aftrede baie werk ingekry het. Van sy werk sluit in Mandela se borsbeeld, die ATKV Veertjie-toekenning, die trofee vir die Unisa Internasionale Musiekkompetisie, die Kallie en Monique Strydom skaakstelle wat vir fondsinsameling gebruik is, ‘n seun en dogter wat by die Hoërskool Voortrekker in Boksburg staan, asook ‘n beeld van Jesus wat in die Mosaïek-kerk te sien is.

Die stadsklerk van Oudtshoorn het destyds vir Phil opdrag gegee om ‘n borsbeeld van Verwoerd te maak om op die stadsplein op te rig. Net voordat Phil vir Verwoerd in lewende lywe sou ontmoet om die skep van sy borsbeeld te vergemaklik, is hy op 6 September 1966 vermoor. “Dit het vir my gevoel of my loopbaan in duie gestort het! Ek het egter voortgegaan om die beeld te voltooi en dit is deur John Vorster onthul. Die beeld staan klaarblyklik nou in Orania se museum,” vervolg Phil.  

“Ek was 27 jaar oud toe ‘n vermoënde persoon my ‘n beurs aangebied het om by die ‘Scuola di Bella Arti’ in Rome te gaan studeer. My aansoek is goedgekeur, maar die weldoener het dit toe ongelukkig nie laat realiseer nie – ‘n groot teleurstelling in my lewe. Ongeveer 54 jaar later (ná my vrou se afsterwe) het my skoonseun, wat toe in Switserland werksaam was, my Rome toe geneem en het hierdie instansie steeds rekord van my aansoek gehad. Dit, sowel as die besoek aan die Sistynse Kapel, die Trevi Fontein, en ander kunswerke van Michelangelo, was ‘n hoogtepunt in my lewe.”

Ná jare wat Phil self sy beelde gegiet het, het hy ‘n onderneming in Mpumalanga ontdek wat die gietwerk doen. Hulle kan selfs klein skaalmodelle digitaal vergroot en giet. “Dit maak ‘n beeldhouer se werk deesdae sóveel makliker. Die beeldhouer behou natuurlik die kopiereg,” sê Phil.

‘n Klompie van Phil se beeldjies is Saterdag by Salon Lu-iz se opedag uitgestal. Groot was die verrassing toe ‘n plaaslike inwoner, Marié Enslin, Phil se werk herken en noem dat sy self van sy beeldhouwerk besit. “Geloof, Hoop en Liefde” staan in haar huis. ‘n Klein wêreld is dit gewis! Marié se ma, Alta de Beer, was al die jare die orrelis in die NG Gemeente Horison in Roodepoort, waar Phil ook ‘n lidmaat is. Boonop is Phil se peetdogter, Daleen, ‘n jarelange vriendin van Marié. Alta was toevallig ook op besoek aan Louis Trichardt en die twee kennisse kon lekker kuier.

Phil deel graag sy kennis en demonstreer sy vaardighede. Hy wil veral hê dat die jonger geslag by hom leer. Hy was ook vir 17 jaar ná sy aftrede kunsonderwyser by die Hoërskool Bastion in Krugersdorp. Terwyl hy in Louis Trichardt was, het hy ‘n kort demonstrasie vir ‘n paar belangstellendes gegee. Elkeen het ook die voorreg gehad om ‘n klein beeldjie te vorm met klei wat Phil self maak - ‘n spesiale samestelling wat hy ‘n “olieklei” noem.  Dit word nooit hard nie en is ideaal vir beeldhouwerk. Die klei waarmee gewerk is, het hy reeds voor sy aftrede in die tagtigerjare gemaak.

Phil is vir die eerste maal op besoek aan Louis Trichardt se wêreld.  “Die plek herinner my baie sterk aan my kleintyd op die kleinhoewes – só aangenaam!” sê Phil.

Hy wil graag vir almal wat in kuns belangstel aanmoedig om dit te doen en hulle daarin uit te leef. “Deesdae is voltydse beroepe in kuns skaars, maar doen dit dan as ‘n tweede beroep. Hou vas daaraan. Maak ook seker dat jy met mede-kunstenaars gesels,” sê Phil.

 

News - Date: 19 September 2020

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Pétria de Vaal

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: