ADVERTISEMENT:

 

Me. Irene Adendorff (tweede van regs) afgeneem saam met mnr. Drikus Lee (langs haar) by die Essenhoutboom wat hy gereël het. Die boom is Vrydag deur die Graad RR-klassie geplant as deel van ‘n nuwe tradisie by die skool. Ook saam met hulle en die Graad RR-kinders staan die Graad RR onderwysers.

Interessante aanloop tot nuwe Triegie-tradisie

 

Laerskool Louis Trichardt het verlede Vrydag ‘n nuwe tradisie begin met die Graad RR-klassie wat as deel van die skool se Lentedagvieringe ‘n boom op die skoolperseel geplant het. Die storie het egter veel meer om die lyf as bloot net ‘n nuwe tradisie.

Maar eers net bietjie agtergrond. Die idee is dat elke jaar se Graad RR Triegie-klassie voortaan op Lentedag ‘n boom sal plant, verkieslik daardie jaar se Boom van die Jaar. Daarna sal dieselfde klassie na sewe jaar, wanneer hulle laerskool klaarmaak, weer by die boom afgeneem word, dié keer in sy skaduwee. “Buiten vir die lekker skaduwee wat bome gee, is hulle ook ‘n bron van suurstof vir die mensdom,” het skoolhoof, me. Irene Adendorff, tydens die geleentheid gesê.

Die interessantheid in die verhaal is dat die Essenhoutboom (Cape Ash) wat geplant is, gereël is deur Erich Lee, een van die skool se Graad RR-leerlinge, se pa, mnr. Drikus Lee. Hy het dit van Oyama en Sasha Scheider van Superb Plants gekry, wat die boom aan die skool geskenk het.

Drikus is self ‘n oud-leerling van die skool en is deur me. Adendorff onderrig. Sy verbintenis strek egter verder terug as dit en het ook ‘n baie meer hartseer verloop.

Van die streek se ouer inwoners sal met hartseer onthou van die dood van Drikus se ouer broer, Willie, op 4 Augustus 1986. Drikus was toe drie jaar oud en sy boetie was 10. So twee weke voor Willie se dood het hy van ‘n kaskar afgeval en sy knieg seergemaak. Alhoewel hy nie bene gebreek het nie, het die interne besering bloedklonte veroorsaak wat losgeskeur het en deur sy longe gegaan het. Hy is kort voor vyfuur daardie noodlottige oggend in sy ouma se arms oorlede.

Ter nagedagtenis aan Willie se dood het Drikus-hulle se ouers destyds besluit om ‘n Akasiaboom aan die skool te skenk, wat later daardie jaar deur die hoofseun en hoofmeisie, Johan van Wyk en Greta Wolmarans, langs die skool se rugbyveld geplant is.

Soos wat die tyd verby gegaan het, het Willie se dood vir baie vergete geraak, net soos die rede waarom die Akasiaboom op die skoolterrein geplant is. Dekades later is die boom uitgekap, omdat dit in die pad gestaan het van ontwikkeling op die skoolterrein.

“Kan jy glo, meer as drie dekades later besluit Drikus uit die bloute om die boom te reël vir ons om met die tradisie te begin. Eers later sou ons uitvind van die boom wat Drikus se ouers vir Willie geplant het. Dit is so hartseer dat dit afgekap is,” het Adendorff gesê.

Drikus se boom is Vrydag nie ver vanaf die plek geplant waar sy broer se boom eens geplant is nie. “Dit sal interessant wees om te sien hoeveel dié leerders en hul boom oor agt jaar by Laerskool Louis Trichardt groei. Die plan is ook om ‘n plaatjie op die boom vas te maak tydens ‘n seremonie in 2028, sodat die boom geïdentifiseer kan word,” het die skool gesê.

 

News - Date: 01 October 2020

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: