ADVERTISEMENT:

 

Die inleiding tot die Ring van Louis Trichardt se verklaring.

Ring sê NG Kerk se ASM doen mee aan karaktermoord op boere

 

Die NG Ring van Louis Trichardt het hulleself die afgelope week sterk uitgespreek oor die dreigende gewapende en gewelddadige verset oor plaasmoorde wat tans in die land afspeel, maar in ‘n interessante omwenteling het hulle die skuld daarvoor deels voor die deur van die NG Kerk se Algemene Sinode se Moderatuur (ASM) gelê.

Die Ring het Dinsdag in ‘n sterk-bewoorde verklaring hulle teleurstelling uitgespreek oor die “verleentheid” wat die ASM hulle nou veroorsaak met uitsprake oor plaasmoorde, en die huidige verset oor plaasmoorde, ná die moord op die jong boer Brendin Horner van Paul Roux. “Uit die kring van die ASM is daar ‘n uitspraak teen die President van die land gemaak dat hy in ‘n morele dilemma oor plaasmoorde sou wees, terwyl in hierdie uitspraak dit die eerste keer was dat uit die kring van ASM erken was dat party plaasmoorde ‘n eiesoortige karakter, anders as gewone misdaad, sou hê,” sê die Ring (Beeld van 28 Julie 2020). Voor dit, sê die Ring, was die eiesoortige karakter van plaasmoorde deur die kerk “doelbewus doodgeswyg met die misplaaste opvatting dat plaasmoorde ‘gewone misdaad’ is. In dieselfde verklaring word die President beskuldig van ‘ontkenning deur veralgemenings.’ Nou is daar sopas weer uit die kring van die ASM die standpunt gestel dat die meeste plaasmoorde gewone misdaad is, maar dat party uit rasse-woede plaasvind”.

Volgens die Ring is hierdie “onbeholpe morele standpunte uit die kring van die ASM, dat die eiesoortigheid van plaasmoorde rasse-woede is” misplaas en gevaarlik vir die landbougemeenskap en die hele land. “Dit is net so goed soos om bende-geweld, taxi-geweld, stamgeweld, die munisipale geweld in landelike gebiede en die geweld van studente-opstande toe te skryf aan rasse-woede. Hierdie misplaaste morele oordeel wys op hoe hierdie saak tot nou binne die kring van die ASM self ontken en vermy is. Iets waarvan die President van ons land nou goedsmoeds uit hierdie kring voor verwyt word,” sê die Ring. Hulle het bygevoeg dat om die werklike eiesoortigheid van plaasmoorde as rasse-woede te veralgemeen, presies net die tipe ontkenning is waarvan die ASM nou die President van beskuldig. “Hierdie veralgemening uit die kring van die ASM vuur rassisme aan en spreek nie die werklike probleem van plaasmoorde aan nie,” sê die Ring.

Die Ring sê in hul verklaring dat hulle reeds op 6 Maart 2006 plaasmoorde aangespreek het as strukturele verontmensliking van die landbougemeenskap in ‘n amptelike verklaring. “Strukturele verontmensliking vind plaas deur die regering, besighede, gemeenskappe en kerke wat landbouers uitmaak as mense wat hulle plase onwettig beset teenoor die regmatige eienaars. Daardeur is landbouers openbaar gebrandmerk as kriminele wat nie met die reg van die staat, die gemenereg of die kerk se geloof op hul eienaarskap kan aanspraak maak, of om só gerespekteer te word nie. In hierdie karaktermoord het die regering, besighede, gemeenskappe en kerke, wat die NG Kerk insluit, tot nou toe lustig meegedoen. Nog onlangs is daar uit die kring van die ASM die suggestie gemaak dat die landbouers moet saamwerk as deel van burgerlike versoening met die onteiening van hul plase sonder vergoeding deur die regering,” sê die Ring.

Die Ring sê dat hierdie karaktermoord uit alle kringe veroorsaak dat kriminele hulleself die reg toeëien om plaasmoorde te pleeg as ‘n vorm van regstellende aksie. “In hulle misdaad volvoer hulle die karaktermoord wat reeds op boere gepleeg is deur die regering, besighede en kerke,” sê die Ring. Landbouers se onmag teenoor hierdie karaktermoord, sê die Ring, word gedemonstreer deur wrede mishandeling en die uitstalling van hul lyke as onwettige en moedswillige grondbesetters. “Die regering, gemeenskappe en kerke kan dít egter nie só erken nie, want dan moet hulle met hul eie grypsug en misplaaste versoeningsbeelde ophou,” sê die Ring.

Die Ring sê voorts in hulle verklaring dat hulle reeds sedert 2006 probeer om die NG Kerk aan te spreek oor hulle misplaaste morele standpunt en leiding te gee. Dit, sê die Ring, is in amptelike vergaderings van die NG Kerk doodgeswyg met die opvatting dat plaasmoorde gewone misdaad is en geen eiesoortigheid wys nie. “Om hierdie strukturele verontmensliking en verontregting nou weer te ontken deur te maak asof die eiesoortigheid in rasse-woede gesetel is, is ‘n manier waarop die ASM hulself verontskuldig. Dit is nie die morele leiding wat hulle aan die gemeenskap moet gee nie. Dit regverdig net hulle vooropgesette beeld om deur versoening rassisme te wil fasiliteer, terwyl hul self oorsaaklik aan die karaktermoord op landbouers is,” sê die Ring.

Die Ring het bygevoeg dat hulle net so teleurgesteld is in die wyse waarop daar uit die kring van die ASM nou skielik op die geweld op Senekal ingespeel word asof dit ‘n geleentheid is om georganiseerde verset teen plaasmoorde en korrupsie te begin. “Hiermee sanksioneer hulle die wanbeeld van verset wat nou aangevuur word en spreek weer nie die werklike morele probleem aan nie, terwyl hulle ook geen leiding gee oor hoe Bybelse verset moet lyk nie,” sê die Ring en voeg weereens by dat hulle reeds sedert 1997 leiding gegee het vir die vorming van die Noordelike Sinode se amptelike beleid oor Gereformeerde verset van 17 Oktober 2008.

Volgens die Ring veroorsaak gebeure tans ‘n wanbeeld. “Die wanbeeld is dat mense uit alle kringe nou ‘n gedramatiseerde veldslag op Senekal fantaseer en organiseer, met sentimente van Bloedrivier en ander oorwinnings. Vir hierdie geromantiseerde veldslag moet mense hulself nou as offers aanmeld om deur anonieme leiers op selfone in slagordes opgestel te word. Hierdie godsdienstige-politieke drama sal werklike effektiewe verset teen die regering oneindige skade aandoen,” sê die Ring.

Die Ring verduidelik in hul verklaring dat verset teen die regering ‘n godsdienstige plig is wat oor jare en dekades volgens vaste waardes uitgevoer moet word. “Dit is nie godsdienstige dramas wat kragdadigheid vertoon nie. Om ‘n Bloukrans vir mense op Senekal te organiseer wat ‘n Bloedrivier fantaseer, is net so koelbloedig soos om ‘n plaasmoord te pleeg,” sê die Ring.

Die Ring het afgesluit deur te sê dat hulle onderneem om, soos hulle dit sedert 2006 reeds doen, steeds hul lidmate te lei om die eiesoortige karaktermoord waarmee openbare instellings hulle die slagoffers van kriminele maak, aan te spreek, en saam met hulle hulself teen hierdie bloeddorstigheid sal beveilig en sal verweer. “Ons onderneem ook dat ons, soos ons dit al sedert 2006 doen, ons volgens die waardes van ons Gereformeerde geloof teen die regering se kleptokrasie en onderdrukking sal verset. Dit sal ons met passiewe verset doen, en wanneer dit ‘n kollektiewe, verantwoordbare onderneming van die gemeenskap is, dit ook met verantwoordbare aktiewe verset doen. Dit sal ons probeer doen in samewerking met die Noordelike Sinode van die NG Kerk om buite die huidige disfunksionele moraliteit uit die kring van die ASM van die NG Kerk en opportunistiese anargiste te bly,” sê die Ring.

 

News - Date: 16 October 2020

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: