ADVERTISEMENT:

 

Die man met die hond het uiteindelik ingestem op ‘n koopprys van R20 vir die hond, wat duidelik vreesbevange was. Toe hy agterkom hulle word afgeneem, het hy saam met die hond weggestap. Tot vandag toe is die lot van die hond onbekend.  

Video lei tot woede: Bedelaars moet vlug

 

Twee bedelaars van Louis Trichardt het hulle die afgelope week die toorn van die publiek op die hals gehaal, nadat ‘n video op sosiale media begin versprei het wat wys hoe hulle poog om ‘n “gesteelde” hond by die taxistaanplek in Eltivillas te verkoop.

In die video, wat verlede Donderdagmiddag laat die rondes begin doen het op sosiale media, kan gesien word hoe die een man die vreesbevange hond met albei arms vasklem, terwyl hy ‘n prys probeer beding. Die prys val vinnig van R40 na slegs R20 en mens kan duidelik hoor hoe ‘n man vra of die hond nie sal weghardloop nie. In antwoord hierop sê die een bedelaar, met ‘n sigaret wat uit sy mond hang, “Sit net ‘n ketting op hom.” Toe dieselfde man sien hulle word met ‘n selfoon afgeneem, kies hy haastig die hasepad. Die ander man met die hond volg hom kort daarna.

Binne minute nadat die video deur ‘n onbekende persoon op Facebook gedeel is, het die kommentaar begin instroom. Die kommentaar het gewissel van minder vleiende taalgebruik en dreigemente van fisiese geweld tot mense wat gesê het hulle kan nie glo hulle het ooit die mans gehelp met geld en kos nie. Meeste mense was egter bekommerd oor die lot van die hond.

“Ons telefone het net ná 17:00 begin mal gaan, met video’s en foto’s van die twee wat probeer om die hond by die taxistaanplek te verkoop. Twee van ons lede, met hul mans agterna, is dadelik na die taxistaanplek, maar die twee mans en die hond was nêrens te vinde nie,” het die voorsitter van die Louis Trichardt Dierebeskermingsvereniging, Lesley Gaigher, gesê.

Ongelukkig vir die twee bedelaars het almal egter presies geweet wie hulle is, want hulle bedel nou reeds maande lank by die stopstraat skuins oorkant Soutpansberg Spar. “So baie mense het ons gekontak en gesê hulle herken die twee,” het Lesley gesê.

Weens die storm wat die video op sosiale media ontketen het, het inspekteur Lawrence Khodobo van die plaaslike DBV vroeg Vrydagoggend na die mans gaan soek. Soos wat die geluk dit wou hê, was beide weer op hul gewone pos, besig om te bedel. Binne sekondes nadat Lawrence egter by hulle gestop het, het nog voertuie gestop. Die situasie het vinnig plofbaar geraak, met lede van die publiek wat die twee mans te lyf wou gaan, en die twee bedelaars het die bosse in gevlug.

Khodobo het egter uit vrees vir die hond se welstand nie moed opgegee nie en, danksy ‘n leidraad van die publiek, het hy die twee mans opgespoor waar hulle by ‘n huis in Louis Trichardt tuisgaan. “Hulle weergawe van gebeure is dat hulle die hond in die straat sien rondloop het en toe besluit het om die hond te vat en te verkoop om vir die hond ‘n huis te gee. Toe hulle nie die hond verkoop kon kry nie, het hulle klaarblyklik die hond weer laat gaan,” het Lesley gesê.

Ongelukkig, het Lesley gesê, het hulle geen manier om die twee mans se weergawe van gebeure verkeerd te bewys nie, behalwe dat hulle self erken dat dit nie hulle hond was nie. Om ‘n hond te verkoop is ook nie onwettig nie. “Om ‘n hond, wat net soos mense vrees en angs ervaar, by die taxistaanplek te gaan verkoop is beslis nie ‘n manier om vir daardie dier ‘n beter huis te soek nie. Ons kan maar net hoop hulle het die hond weer laat gaan, soos hulle beweer het, maar dit is onwaarskynlik,” het Lesley gesê.

Lesley het ná die gebeure inwoners weereens versoek om seker te maak hulle honde veilig in hulle erwe toegemaak is. “Ons moet besef daar is desperate mense met skewe morele waardes wat nie sal skroom om troeteldiere te steel om te verkoop nie,” het Lesley gesê. Bykomend het Lesley aanbeveel dat inwoners troeteldiere met mikroskyfies toerus wat aanlyn geregistreer kan word. “’n Halsband met ‘n naam en telefoonnommer kan maklik verwyder word deur mense wat nie van plan is om jou troeteldier terug te bring nie indien die dier dalk by jou erf kon uitglip,” het Lesley gesê. Sy het ook mense aangeraai om gereeld foto’s van hulle troeteldiere te neem. “Dit sal help om moontlike slagoffers te identifiseer en eienaarskap te bewys,” het Lesley gesê. Die belangrikste, het Lesley gesê, is egter dat mense moontlike diefstal van hulle troeteldier onmiddellik by die DBV of owerhede moet aanmeld.

Net soos die hond in die video nog steeds vermis is, is die twee bedelaars ook sedert verlede Vrydag nog vermis. Die vermoede bestaan dat hulle óf laag lê om die publiek te vermy, óf hulle heil eerder in ‘n ander dorp gaan soek het. Wat egter duidelik blyk, is dat werk nie deel vorm van hulle toekomsplanne nie. “Daar was mense wat vir ons gesê het hulle het die twee mans werk aangebied, maar dat hulle telkens die werk geweier het. Dit lyk of hulle verkies om eerder te bedel vir ‘n lewe,” het Lesley gesê.

 

News - Date: 31 October 2020

Recent Articles

Search for a story:

 

Die bedelaar met die sigaret in die mond het vinnig die hasepad gevat toe hy agterkom hulle word met ‘n selfoon afgeneem.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: