ADVERTISEMENT:

 

Voer uit die Soutpansberg omgewing word gelaai om boere in die Vrystaat te help ná verlede week se verwoestende veldbrande. Foto’s verskaf.

Soutpansberg gee gehoor aan Vrystaatboere se noodroep

 

“Hierdie is ‘n lekker storie om te vertel,” aldus Fanie Havinga, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU).

“As daar een ding is waarteen niemand kan stry nie, is dat ons mense kán saamstaan. Ons gemeenskap in die Soutpansberg se harte en hande is oop en almal help,” sê Fanie oor die grootse aksie wat vanuit die Soutpansberg se geledere van stapel gestuur is om boere in die Vrystaat by te staan ná verlede week se verwoestende brande.

Volgens Christo Snyman, koördineerder van Soutpansberg Landelike Veiligheid, het die topbestuur van Soutpansberg besluit om in hulle veiligheidsgebied die pogings om die Vrystaatse boere te help as ‘n gesamentlike projek aan te pak, ten spyte van verskeie organisasies se projekte, en die insamelingsveldtog te koördineer. Die westelike, sentrale en noordelike gebiede wat onder Soutpansberg Landelike Veiligheid val,  met al die plaaswagte en die Louis Trichardt Dorpswag wat deel uit maak van die struktuur, het onmiddellik ingespring en op gestruktureerde wyse begin om ‘n plan van aksie te loods om die Vrystaatse boere te help. Christo, wat ook die voorsitter van die sentrale gebied is, beklemtoon dat, as dit by landelike veiligheid kom, “almal saamwerk”. Al die verskillende groeperings se lede, of hulle nou lid is van TLU, Agri SA, of watter organisasie ook al, span saam om van hierdie hulpverlening ‘n groot sukses te maak.

“‘n WhatsApp is op al die groepe uitgestuur wat gemeld het dat, indien daar mense is wat belangstel om deel daaraan te hê om hulp aan die boere in die Hertzogville-omgewing te verleen, hulle van hulle moet laat hoor,” sê Christo. Die reaksie was oorweldigend.

Struktuur word hieraan verleen deur veral met TLU SA saam te werk. “Deurdat die poging behoorlik gestruktureerd en georganiseerd is, is dit ‘n suksesstorie. ‘n Mens weet waarheen die geld en ander middele gaan,” sê Christo.

Christo vervolg deur te noem dat landelike veiligheid hoofsaaklik geassosieer word met die bekamping van misdaad. In hierdie geval het die hulpverlening nie met misdaad te doen nie, maar om ‘n verskil in ander se lewens te maak. “Ons mense het ‘n passie daarvoor,” sê Christo.

Henk van de Graaf, voorsitter van TLU SA (Noord), noem hierdie aksie “ramphulp”, hoewel dit nog nie deur die regering as ‘n ramp verklaar is nie. TLU SA is gerat om skenkings by die Vrystaatse TLU SA te besorg, wat die aflewering koördineer.  “TLU SA (Noord) bestaan uit 12 distrikslandbou-unies – met boereverenigings onder elkeen. Deur hierdie strukture te gebruik, word vertroue geskep. TLU SA het ‘n goeie naam en reputasie. Die organisasie bestaan immers reeds sedert 1897,” noem Henk.

Hy voeg by dat die skade soveel groter is as wat ‘n mens jou kan indink.  “Waterpype het byvoorbeeld gesmelt, plastiese tenks is vernietig, drade en pale is onherstelbaar. Medisyne is nodig vir diere wat gered kon word. Die werklike omvang van die skade sal eers oor ‘n paar weke bepaal kan word,” sê hy. Hy noem ook dat hulle tans daarna kyk om boere wat nie versekering het nie, eerste te help.

Jacques Bouwer is reeds vir etlike jare betrokke by landelike veiligheid en boerdery. Hy noem dat hierdie inisiatief wat besig is om in ons eie gemeenskap te gebeur, ‘n baie mooi boodskap vir Suid-Afrika is. “Daar waar mense swaarkry, is daar hoop. Ons gebed is dat ‘n verslae boer net weer sy oë in die oggend kan oopmaak en een tree vorentoe kan gee,” sê hy.

Jacques noem dat die hulp wat instroom oorweldigend is. “Die meeste boere in die rampgebiede is bees-, skaap- en graanboere. Veevoer is die grootste behoefte en daarom word gefokus op hoofsaaklik die aanry van lusern en gras. Dit kos tussen R20 000 en R25 000 om een vrag per vragmotor na Hertzogville se omgewing te neem.

“Baie boere gee wat hulle het. ‘n Boer sal byvoorbeeld sy laaste gras gee, al het hy nie eers die finansies om diesel in sy eie bakkie te gooi nie. Bale voer wat weggesit is vir die wintermaande word nou afgestaan. ‘n Vrag gras is ongeveer R15 000 werd en word aangery teen ‘n hoër koste. Dit maak nie saak nie, want elkeen help op sy manier en binne sy vermoë,” sê Jacques.

Vragmotors, diesel, tolhekgelde, lusern, gras asook items soos neutkoek (dit wat oorbly nadat macadamia-olie uitgepers is) vir vee se lekke - en vele ander - word geskenk en aangery.

Hester Bayes, sekretaresse van die SDLU, is die plaaslike koördineerder vir hierdie projek vir beide die SDLU en Soutpansberg Landelike Veiligheid.

Hester vertel opgewonde oor die plaaslike gemeenskap se ruimhartigheid en welwillendheid. Sy weet nie hoe ‘n mens eers kan begin dankie sê nie. Mense uit alle oorde wat nie eers noodwendig deel is van een van hierdie organisasies nie, daag by die SDLU se kantoor op en bring skenkings. Behalwe vir die veevoer wat op groot skaal aangery word, bring mense kruideniersware, kospakkies en speelgoed. Finansiële bydraes kan nog tot 31 Oktober gemaak word in een van die volgende rekeninge: SOUTPANSBERG LANDELIKE VEILIGHEID, FNB rekeningnommer 6270 824 5453; of TLU SA Rampfonds, ABSA, rekeningnommer 4051689914 met elektroniese bankkode 632005.

Lesers word ook aangemoedig om bokse te pak – dit kan óf na Hester toe gebring word (Kroghstraat 118) óf na Adam’s Apple Hotel - tot einde November. “Merk hierdie bokse net duidelik, sodat ons kan weet of dit moet gaan na ‘n man, vrou of kind,” versoek Hester.

Die CVO skool Zoutpansberg is besig om, as deel van hierdie projek, speelgoed in te samel.  “Speelgoed bring hoop. Selfs al het ‘n huis nie afgebrand nie, kan dit ‘n kinderhart blymaak om iets in hierdie omstandighede as geskenk te ontvang,” sê Hester.

‘n Jong boer in die Boshoff / Dealesville-omgewing het teenoor Hester opgemerk: “Tannie het nie gesê wat alles in die vragmotor met voer is nie. Tannie het selfs reën saamgestuur.”

Diegene aan wie hulp verleen word, bars dikwels in trane uit, omdat hulle nie kan glo dat sulke welwillendheid nog bestaan nie – en dit te midde van die swak ekonomie en omstandighede wat met Covid-19 gepaardgaan. Die Soutpansberg Landelike Veiligheid se bestuur wil graag baie dankie sê vir elkeen se oop hart en hand en die goeie gesindheid waarmee almal saamwerk en help.

 

News - Date: 01 November 2020

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Pétria de Vaal

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: