ADVERTISEMENT:

 

Die erg beskadigde vragmotor het in ‘n massiewe stofwolk tot stilstand geskuur op ‘n klein stukkie oop grond tussen die N1 en Linda-hulle se huis. Foto verskaf.

Vragmotor ploeg byna deur huis op kleinhoewe

 

“Sjoe, dit was amper!” So het die 59-jarige Linda Oosthuysen van Louis Trichardt gesê, nadat ‘n swaar vragmotor so byna-byna Sondagoggend deur hul huis op hul Rondebosch-kleinhoewe geploeg het.

Linda en haar man Jack (60) se huis is geleë bykans op die hoek waar die Elim-pad aansluit by die N1, reg oorkant die groot verkeersirkel by 3 Myl. Dié verkeersirkel het die afgelope jaar al sy kwota ongelukke opgelewer, maar nie een het die Oosthuysen-egpaar so benoud gelaat soos Sondag se petalje nie.

“Ons het seker so 08:45 kerk toe gery. Die eerste video’s van die ongeluk het voor 10:00 al begin versprei [op sosiale media], so die ongeluk moes plaasgevind het net nadat ons van die huis af gery het. Ons het heel moontlik nog verby die vragmotor gery,” het Linda gesê.

Die bestuurder van die vragmotor het in die verkeersirkel beheer verloor oor sy vragmotor. Dit het die pad verlaat en ‘n massiewe boom net buite Linda-hulle se erf ontwortel. Die erg beskadigde vragmotor het toe in ‘n stofwolk tot stilstand geskuur op ‘n klein stukkie oop grond tussen die N1 en Linda-hulle se huis. “Iemand het ons na kerk in die winkel gekry en gevra of ons weet ‘n vragmotor het amper deur ons huis gejaag. Hy het gevra waarom ons nie ons telefone antwoord nie, toe sê ons vir hom ons fone was af omdat ons in die kerk was,” het Linda gesê. Hulle is toe dadelik huis toe.

“Toe ons so aangery kom na die sirkel toe en ons sien die mense en die vragmotor wat daar staan, toe sien ons dit was so amper of daardie vragmotor was binne ons huis in,” het Linda gesê.

Dit was duidelik dat die vragmotor teen spoed beweeg het toe die ongeluk plaasgevind het, maar dit is onseker wat presies die ongeluk veroorsaak het. “Ek het net gehoor die buurvrou het gesê die vragmotor se remme het in ‘n stadium gefaal toe hy teen die berg af gekom het,” het Linda gesê. Die buurvrou het haar blykbaar vertel dat die vragmotor loshande bo-oor die verkeersirkel by Stubbsstraat gejaag het, asook deur die verkeerslig (Songozwistraat/N1) en ook deur die stopstraat by Eltivillas (Rissikstraat/N1). “Ek weet nie hoe sy dit weet nie. Ek sê maar net wat sy gesê het,” het Linda gesê. “Toe het sy vir my gewys waar hy om die verkeersirkel gekom het en toe die pad verlaat het,” het Linda bygevoeg.

Ongelukke by dié sirkel is nie ongewoon nie. Linda vertel dat hulle kort nadat die sirkel gebou is ‘n paar jaar gelede, binne ‘n paar weke 102 ongelukke daar getel het. Later is daar ligte aangebring om mense te waarsku dat daar ‘n verkeersirkel is, veral in die aand. “Ons het later nie meer eers uitgegaan as ons iets hoor nie. Die een aand net voor middernag hoor ek iets wat klink soos ‘n vliegtuig wat laag vlieg. Ek dog nog hier kom ‘n vliegtuig nou in ons erf in, toe is dit ‘n dubbelkajuit bakkie. Toe het hy oor daai sirkel gery, deur my erf en in die klein spasie tussen ons kamer en die buurman se heining tot stilstand gekom,” vertel Linda.

Wat Sondag se ongeluk betref, is Linda egter dankbaar dat niemand ernstig seergekry het nie. Die bestuurder van die vragmotor is per ambulans daar weg, maar het slegs geringe beserings gehad. “Dit kon soveel erger gewees het,” het Linda gesê. Sy het verwys na wat haar een buurman haar vertel het. “’n Meisie op een van die plotte wou ry en die buurman het gesien die vragmotor kom met spoed aan. Hy het net vir haar gewys: Staan stil! Staan stil! Moenie ry nie! As sy gery het, sou die vragmotor trompop met haar gebots het,” het Linda vertel.

Die ongeluk het noodwendig gesorg vir groot toeskouerwaarde en dit was nie lank voordat “stories” die ronde begin doen het nie. Een van dié “stories” wat na die ongeluk soos ‘n veldbrand versprei het was dat die vragmotor gebruik is vir mensehandel. “Gisteroggend het ek vir my buurvrou ‘n geleentheid dorp toe gegee. Sy het vir my gesê sy het gestaan en tel dat daar 20 mense uit die vragmotor geklim het. Toe sien ek iemand het op die plaaswag groep [WhatsApp] geplaas dit is ook maar net wat hy gehoor het … so ek weet nie. Ek was nie daar nie en het dit ook nie self gesien nie,” het Linda gesê.

Laasgenoemde blyk egter vals nuus te wees. Plaaslike polisiewoordvoerder konstabel Irene Radzilane het by navraag gesê hulle dra geen kennis dat die vragmotor by mensehandel betrokke was nie. Sy het gesê sy het ook die videogreep gesien van mense wat by die vragmotors staan, maar dat dit bloot omstanders was. Wat Radzilane wel kon bevestig, was dat die polisie tans ‘n saak van roekelose of nalatige bestuur ondersoek. Die vragmotor is dieselfde dag nog verwyder.

News - Date: 13 November 2020

Recent Articles

Search for a story:

 

Die bestuurder van die vragmotor het in die verkeersirkel beheer verloor oor sy vragmotor. Dit het die pad verlaat en ‘n massiewe boom net buite Linda-hulle se erf ontwortel. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: