ADVERTISEMENT:

 

In beide die vroegoggend- en laatmiddagson is die nuwe spoedwalle in Leeustraat feitlik onsigbaar vir motoriste vanweë bome se skaduwees oor die pad en ‘n gebrek aan waarskuwingstekens. Die rooi pyl dui een van die "onsigbare" walle aan.

Hobbels breek meer as motoriste se spoed

 

Menige motoris het hulle óf doodgeskrik óf het skade aan hulle motors opgedoen toe hulle niksvermoedend oor die nuwe spoedhobbels in Leeustraat, Louis Trichardt, gery het. Asof uit die niet het hierdie twee hobbels tussen Bauhinia- en Tshirululunistraat verskyn.

“Ek het Sondag my band beskadig toe ek op pad was kerk toe. ‘n Mens kan glad nie die hobbels sien nie! En so ook dié voor die landdroshof,” sê Zinta-Marié Wepener. Sover die Zoutpansberger kon vasstel, het ook ander motoriste skade gely, byvoorbeeld ten opsigte van hulle skokbrekers.

Die spoedhobbels is sowat twee weke gelede deur ‘n egpaar opgemerk wat gereeld in die middae gaan stap. Eers het dit verdag voorgekom, asof dit deur ‘n privaatpersoon gedoen is, aangesien geen waarskuwingstekens en verf op die hobbels aangebring is nie. Dié persoon het dit onder die aandag van die Zoutpansberger gebring.

Teen verlede Donderdag is driehoektekens aangebring wat die spoedhobbels aandui – sigbaar, maar die tekens was half geplant en het skeef gelê. Teen Saterdagmiddag het die Zoutpansberger weer daarheen gery. Steeds het geen ander waarskuwingstekens die presiese posisie van die spoedhobbels aangedui nie, behalwe die twee driehoektekens etlike meters weg. Dit het weinig gehelp, want in beide die vroegoggend- en laatmiddagson het die bome op die sypaadjie se skaduwees die ligging van die hobbels totaal verbloem, sodat mens dit glad nie kon sien nie. In die aand wat dit nog moeiliker om die hobbels te sien voordat dit te laat was.

Die Makhado Munisipaliteit se bestuurder van siviele ingenieurswese , mnr. George Raleshuku, is gepols oor hierdie spoedhobbels, asook dié voor die plaaslike landdroskantore. Laasgenoemde is reeds etlike maande sonder die nodige wit strepe of waarskuwingstekens.

Volgens Raleshuku word spoedhobbels aangebring wanneer die betrokke wyk se raadslid ‘n versoek in hierdie verband by die raad indien. Hy het Maandag gesê dat die span nog besig is om die nodige verf en ander tekens aan te bring, maar dat hy beslis sou opvolg waarom dit nog nie gedoen is nie.

Volgens mnr. Michael Rademeyer, afdelingsbestuurder van die Departement van Openbare Werke: Paaie – Infrastruktuur, wag hulle gewoonlik ‘n minimum van twee dae alvorens die wit reflekterende strepe op spoedhobbels geverf word. Die rede is dat ‘n chemiese reaksie plaasvind as dit te vinnig gedoen word. Reënweer speel ook ‘n rol, aangesien die hobbels kurkdroog moet wees. “Uiters noodsaaklik is dat die nodige waarskuwings- en gevaartekens aangebring moet wees as die hobbel nog nie geverf is nie,” sê Rademeyer.

Mnr. Koos Britz, voormalige superintendent van die Makhado verkeersafdeling, verduidelik dat die redes waarom ‘n spoedhobbel opgerig word, baie goed gemotiveerd moet wees. Die verkeershoof neem saam met die tegniese hoof die besluit en lê dit voor aan die raad. “Wat waarskuwingstekens betref, is dit ook baie belangrik dat die maksimum spoedgrens wanneer ‘n motoris oor ‘n hobbel ry, aangedui moet word,” sê Britz. Wat Leeustraat betref, is die geval weliswaar dat talle inwoners van dié buurt die straat soos ‘n renbaan hanteer.

Die spoedgrens word egter nie onderaan die bestaande borde in Leeustraat aangedui nie. Geen rooi-en-wit chevrontekens is ook aangebring om die presies ligging van die hobbels aan te dui nie. Britz het die Zoutpansberger verwys na me. Alta Swanepoel, ‘n praktiserende konsultant vir padverkeer en padvervoer in Pretoria.  Volgens Swanepoel bestaan baie duidelike riglyne in die vier volumes van die Suid-Afrikaanse Padverkeersteken-handleiding. Hoofstukke 1 en 4 hiervan is die SADEC riglyne en Hoofstukke 2 en 3 maak voorsiening vir die Suid-Afrikaanse toepassing. Hiermee saam moet die Departement van Vervoer se Design and Implementation of Speed Humps: Supplement to National Guidelines for Traffic Calming, gelees word. In hierdie dokument is die padmerke wat aangebring moet word duidelik uiteengesit en meegaande sketse (bv. WM10 – die spoedhobbelmerk - en W332 – die waarskuwingsteken) verduidelik alle spesifikasies vir die bou en aandui van spoedhobbels.

“Hierdie dokument kan gebruik word om eise teen byvoorbeeld ‘n plaaslike owerheid in te stel,” vervolg Swanepoel.

‘n Plaaslike regsgeleerde bevestig dat dit ‘n gemenereg-beginsel is dat mense betyds gewaarsku moet word in enige potensieel gevaarlike situasie. Die betrokke instansie, in hierdie geval die Makhado Munisipaliteit, maak homself skuldig aan growwe nalatigheid en roekeloosheid as die nodige waarskuwingstekens nie aangebring word nie. Lede van die publiek kan dus beslis eise teen die munisipaliteit instel, sou hulle enige skade gely het as gevolg van die gebrek aan waarskuwings- en ander padtekens.

Voorts beveel Raleshuku aan dat, indien ‘n motoris skade opgedoen het, foto’s geneem word van die skade terwyl die voertuig nog by die spoedhobbel staan. “Bekom ‘n kwotasie vir die skade en gaan stel ‘n eis in by die vervoerkantore van die munisipaliteit,” sê hy. Hy noem dat dieselfde prosedure vir slaggate geld. Op ‘n vraag oor die baie strate waarvan stoptekens verwyder is, noem hy dat dit ‘n groot uitdaging is, aangesien stoptekens voortdurend gesteel word. “Die munisipaliteit is in die proses om staalpale met houtpale te vervang. Ons beplan hierdie projek vir die huidige finansiële jaar,” sê Raleshuku.

* Ná die Zoutpansberger se navrae oor die spoedhobbels in Leeustraat en in Munnikstraat voor die landdroshof wat geensins gemerk is nie, is munisipale werkers vroeg Dinsdagoggend opgemerk waar hulle besig was om reflekterende strepe op al die spoedhobbels te verf.

 

News - Date: 20 November 2020

Recent Articles

Search for a story:

 

Ná die Zoutpansberger se navrae oor die spoedhobbels in Leeustraat is munisipale werkers vroeg Dinsdagoggend opgemerk waar hulle besig was om reflekterende strepe op al die spoedhobbels te verf.

Die spoedhobbels in Munnikstraat voor die landdroshof wat ook geensins gemerk was nie, is vroeg Dinsdagoggend deur munisipale werkers met reflekterende strepe geverf.

 

ADVERTISEMENT

 

Pétria de Vaal

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: