ADVERTISEMENT:

 

‘n Klein gevlekte ooruil wat uit 'n nes onder 'n stoepdak uitgeval het. Die ma-uil sit bo-op hom, twee meter van die sitkamerdeur wat op die stoep uitloop. “Die foto is geneem terwyl ek op die sitkamermat gelê het,” het Pietman Muller gesê.

Laat klein uiltjies op die grond eerder met rus

 

Nou en dan sien mens plasings op sosiale media van mense wat hulself oor klein uiltjies ontferm het wat blykbaar uit hulle neste geval het. Volgens plaaslike uilkenner Pietman Muller van Levubu moet mense egter nie dié uiltjies optel en self probeer groot maak nie.

“Hierdie tyd van die jaar doen mense gereeld navraag oor die grootmaak van klein uiltjies op sosiale media forums. Gevlekte Ooruile en Bosuile broei hierdie tyd van die jaar in ons area, en klein uiltjies op die grond is algemeen op die oomblik,” het Muller gesê. Wat dit betref, wil hy egter ‘n paar wanpersepsies regstel.

“Albei uilsoorte se kuikens verlaat die nes VOORDAT hulle kan vlieg. Bitter min val uit die nes. Klein Bosuile klouter in bome rond en Ooruile kruip op die grond in struikgewasse weg, 'n week of wat voordat hulle sterk kan vlieg. Die ouers versorg hulle egter steeds en hulle gaan 'n verdere vier tot ses weke afhanklik wees van die ouers terwyl hulle leer hoe om te jag en wat is eetbaar en wat nie. Indien hulle opgemerk word, laat hul asseblief met rus,” het Muller gesê.

In gevalle waar die klein uiltjies se veiligheid bedreig word (soos langs ‘n besige pad of naby honde) kan die uiltjies, volgens Muller, bloot op ‘n veilige plek naby die nes, verkieslik in ‘n boom, geplaas word. “Die ma en pa sal hulle verder versorg en grootmaak. Ons kan hulle nie so suksesvol grootmaak en leer om te jag soos die ma kan nie. Moet dus nie in die versoeking val om hulle self te probeer grootmaak nie; dis ‘n onreg wat die jong uiltjie aangedoen word,” het Muller gesê en bygevoeg dat die ouers gretig en goed toegerus is om hulle eie kuikens groot te maak. “Uile is ongelooflike ouers. Die beste wat jy vir hulle kan doen, is om hulle te herenig met hulle ouers en te sorg dat hulle veilig is,” het Muller gesê.

Muller het egter bygevoeg dat dit wel soms mag gebeur dat jong uiltjies wat nog pap en swak is gedurende sterk winde uit hulle neste kan val. “In hierdie gevalle sal die ouers hulle net daar waar hulle geval het steeds versorg en grootmaak, selfs binne jou voordeur of op jou stoep,” het Muller gesê.  In sulke gevalle, het Muller gesê, moet die uiltjies in 'n boks, kas of die oorspronklike nes teruggeplaas word indien moontlik en die moeder sal hom, haar of hulle daar grootmaak. “Wees net versigtig en bedek jou kop met 'n baadjie of verkieslik ‘n valhelm as die kleintjie hanteer word, veral in die aand. Ek het amper 'n oog verloor toe ek 'n klein Bosuil in die nes teruggeplaas het,” het Muller gesê. Volgens hom is dit belangrik vir die suksesvolle rehabilitasie en grootword van hierdie belangrike voëls wat hier tussen ons bly dat hul so gou moontlik met die ouers herenig moet word. “Hulle vorm 'n belangrike skakel in die voedselketting in ons omgewing en hulle oorlewing en vermeerdering is baie belangrik,” het Muller gesê.

Indien lesers meer inligting of hulp verlang met uile, kan hulle vir Muller skakel by tel. 082 853 8771. Hy het meegaande foto’s aangeheg om te illustreer hoe daar vir die uiltjies gesorg kan word en watter goeie ouers uile is.

 

News - Date: 21 November 2020

Recent Articles

Search for a story:

 

Dieselfde ma-uil en kuiken in 'n avokadokarton wat Muller daar geplaas het met die kuiken in, langs die braai op die stoep. Die ma-uil het die kuikens suksesvol hier grootgemaak. Foto: Pietman Muller.

 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: