ADVERTISEMENT:

 

Die 21-jarige Corrie Dercksen sterk tans tuis aan, nadat medici verlede Vrydag sy regterbeen bokant die knie moes afsit.  

Corrie verloor regterbeen ten spyte van medici se beste pogings

 

Ten spyte van medici se beste pogings om die 21-jarige Corrie Dercksen van Louis Trichardt se regterbeen te red, moes die been verlede Vrydag bokant die knie afgesit word.

Sy been is verwyder tydens ‘n vier-uur-lange operasie in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal. “Daar het infeksie in die been ingekom en hulle het basies geen ander keuse gehad nie. Al sou hulle ‘n operasie op die been gedoen het, sou daar letterlik net die been en een spier oor gewees het. Corrie sou dus ‘n ‘dooie’ ledemaat agter hom aangesleep het die hele tyd,” het Corrie se pa Niekie Maandag aan die Zoutpansberger gesê. Hulle was toe op pad terug Louis Trichardt toe met Corrie.

Volgens Niekie is Corrie, ten spyte van die feit dat sy been geamputeer moes word, steeds ongelooflik positief. Hulle is egter wel bewus daarvan dat vir hulle as familie nog ‘n lang pad voorlê. “Baie amputees gaan in ‘n slump in ná die tyd. Maar gelukkig kry hy ongelooflike bystand. Mense soos Jorrie [Jordaan] was al by ons. Hy het vir Corrie soort van onder sy vlerk geneem. Hy sal byvoorbeeld vir Corrie help met die coning van sy been om dit gereed te kry vir sy protese. Hy sal ons ook bystaan met ander aspekte wat nou gedoen moet word, want ons is heeltemal uit ons diepte uit,” het Niekie gesê. Die 54-jarige Jorrie is ‘n plaaslike sakeman en oud rugbyspeler en -afrigter van Louis Trichardt. Sy regterbeen moes sowat ‘n jaar gelede weens gesondheidsredes net onder die knie afgesit word. Coning is waar die wond op die been fisies met verbande gevorm word deur dit stelselmatig al stywer en stywer te verbind.

“Dit is verbasend hoe vinnig mens se lewe in een of twee weke kan verander. Soos ek gesê het, ons het nog ‘n lang pad om te stap. Dit is nie ‘n kwessie van weke nie, dit kan maande en jare vat vir Corrie om weer te ‘herstel’. Net die wond kan ‘n jaar-en-‘n-half neem om volkome te herstel,” het Niekie gesê.

Die Zoutpansberger het Dinsdagmiddag vinnig by Corrie gaan inloer waar hy tuis aansterk. “Ek is nog baie positief. Die pyn is immers nou weg. Bygesê, ek is op baie pynmedikasie vir nou. Die been en sny lyk goed. Ek was vandag weer by die dokter [dr. Fred Badenhorst] dat hy net kyk en ‘n tweede opinie gee. Hy het gesê dit lyk goed,” het Niekie gesê. Hy het groot lof gehad vir almal wat hom so bystaan. “Ek kry baie bystand van my vriende. Mense soos Jamie Badenhorst en oom Jorrie. Jamie het mos ook sy een been so ‘n paar jaar gelede in ‘n vierwiel motorfietsongeluk verloor,” het Corrie gesê.

Aangesien Corrie nie op ‘n mediese fonds is nie, is die familie dankbaar vir die welwillendheid wat hul tans van die publiek ontvang. “Mense se harte is tans oop en almal beloof borgskappe en skenkings,” het Niekie gesê. Oor die lang termyn sal hulle egter nog finansiële bystand nodig hê, veral wat die aankoop van Corrie se prostese betref en om Corrie se woonstel vir die onmiddellike meer “verbruikersvriendelik” te maak. Vir die afsienbare toekoms sal Corrie moet gebruik maak van ‘n rolstoel. Die trappe in sy woonstel maak dit moeilik vir hom, asook om eenvoudige goed te doen soos om in en uit sy badkamer en bad te kom.

Corrie se niggie, Cornel de Jager, het egter reeds ingespring om te help. Sy het reeds verskeie geskenkbewyse bekom wat met gelukkige trekkings uitgeloot kan word. Hulle is ook besig om ‘n fondsinsamelingsprojek via die backabuddy-webblad te stig. Vir meer inligting hieroor kan Cornel geskakel word by tel. 064 908 6347.

Corrie het sy been verloor nadat komplikasies ingetree het as gevolg van ‘n messteek in sy regterknie wat hy op 15 November opgedoen het. Dit het plaasgevind tydens ‘n geveg met sy vriendin se eks-kêrel by haar woonstel in die Groningen-kompleks in Bredastraat. Die omstandighede rondom die voorval vorm tans deel van ‘n polisieondersoek en hofsaak. Die eks-kêrel, die 28-jarige Frederick Johannes (Freek) Grobler, is ná die voorval gearresteer en het op 17 November op ‘n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer in die plaaslike hof verskyn. Hy is op R1 000 borgtog vrygelaat en sal op 4 Desember weer in die hof moet verskyn.

 

News - Date: 04 December 2020

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: