ADVERTISEMENT:

 

André van Zyl (59) van Louis Trichardt. Foto verskaf.

André het nou meer as ooit publiek se hulp nodig

 

Bekende Louis Trichardt loodgieter André van Zyl van ACE Plumbing het nou, meer as ooit in sy lewe, inwoners se hulp en ondersteuning nodig, nadat hy aan die begin van Desember met kanker van die rektum gediagnoseer is.

Plaaslik het André geen bekendstelling nodig nie. Die diagnose dat hy kanker het, het vir hom en sy familie as groot skok gekom so oor die feestyd. “Dit is maar sleg,” het André aan die Zoutpansberger gesê.

Volgens André het hy vir ‘n geruime tyd gesukkel met ongemak in dié area en het naderhand besef dat pille nie die probleem gaan oplos nie. “Ek is dokter toe en hulle het my vir ‘n kolonoskopie gestuur. Dit is toe dat hulle die kanker in die rektum diagnoseer,” het André gesê.

Volgens André is die gewas sowat ses sentimeter lank en drie sentimeter wyd. “Gelukkig het die CT-skandering gewys dat dit nog nie na die longe, niere of ander organe versprei het nie,” het André gesê. Hy wou so vinnig moontlik ná die diagnose met behandeling begin, maar die eerste beskikbare datum vir bestraling is eers op 11 Januarie. Daarna sal ‘n operasie gedoen word om die gewas te verwyder, waarna hy met chemobehandeling sal begin.

“So, vir nou speel ons eintlik vir tyd. Hoe vinniger ons kan opereer, hoe beter. Die spesialis het vir my gesê dat as die kanker na die longe versprei, daar niks is wat hulle vir my kan doen nie,” het André gesê.

Die kankerdiagnose het vir André as baie slegte nuus na ‘n uiters swak finansiële jaar gekom vanweë die Covid-19 pandemie. Weens verlies aan inkomste moes André noodgedwonge sy mediesefonds en lewensversekering kanselleer. Die kansellasie van sy mediesefonds is juis wat hom nou erg kortwiek.

Volgens André-hulle het die Makhado Care Group onderneem of vir die bestraling te betaal. Die koste van die operasie, ‘n bedrag van sowat R160 000, sal hy egter self moet betaal. Tans probeer André steeds aanhou werk om ‘n inkomste te genereer, maar dinge gaan moeilik. “So teen 11:30 is ek so moeg dat ek eers vir so ‘n uur moet gaan lê. Dan staan ek maar weer op en gaan werk,” het André gesê.

In ‘n poging om André te help om geld in te samel vir sy operasie het die manne van Tafelronde Zoutpansberg 66 aangebied om hul bankrekening beskikbaar te stel waarin die publiek donasies vir die operasie kan inbetaal. Hulle sal ook die fonds administreer en betalings maak. “Ons help graag,” het Zoutpansberg 66 se voorsitter, Rudi Meissenheimer, gesê.

Wat laasgenoemde betref word inwoners gevra om hul hande en harte oop te maak vir André, wat altyd self ook ‘n oop hand vir sy medemens het. Donasies kan inbetaal word in die rekening van Round Table Zoutpansberg 66 in FNB-rekeningnommer 5286 6832 804 met verwysing: André van Zyl. Vir meer oor die rekening kan Rudi geskakel word by tel. 082 776 8377.

 

News - Date: 09 January 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: