ADVERTISEMENT:

 

Wyle Barries (Gerhard) Barnardt (66) soos baie van sy oud-weermagvriende hom sal onthou. Foto verskaf.  

Bekende oud-weermagman en boer Barries Barnardt oorlede

 

Die oud-weermag- en boerderygemeenskap van die Soutpansberg het die afgelope week met hartseer verneem van die dood van die alombekende Barries (Gerhard) Barnardt.

Die 66-jarige Barries is verlede Woensdag, 13 Januarie, in die Medikliniek in Bethlehem oorlede vanweë lewerversaking. Hy het sowat ‘n jaar gelede na Bethlehem verhuis waar sy vrou, Antoinette, reeds woonagtig was om naby haar kinders te wees. Voor dit het Barries van 1985 tot einde 2019 met Bonsmara beeste geboer vir Pieter Erasmus en Seuns in die Bandelierkop-omgewing. Terselfdertyd het hy ook self met Bonsmaras geboer, onder andere op die familieplaas Aras.

“Hy was eerstens ‘n boer in murg en been,” het Antoinette gesê.

As boer het hy op alle vlakke van die boerderygemeenskap ingeskakel. Nie net het hy gedien as voorsitter van die Bandelierkop Boerevereniging nie, maar ook vir lank as veiligheidsvoorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie. “Hy was altyd baie betrokke by veiligheid. Tyd was nooit vir hom ‘n kwessie nie en boere se veiligheid op plase was altyd vir hom ‘n prioriteit gewees,” het Fritz Ahrens, voorsitter van die Louis Trichardt Boerevereniging gesê.

Barries sal net so goed onthou word vir sy jarelange verbintenis tot die eertydse Soutpansberg Kommando waarvan hy vanaf 1976 tot 2006 lid was, onder andere as regiment-sersant-majoor (RSM).  Barries se laaste bevelvoerder by Soutpansberg Kommando, luitenant-kolonel Ben Wolff (afgetree), onthou hom as ‘n baie harde werker. “Hy was toegewyd in sy pligte as soldaat en altyd ontsettend betrokke by die kommando. Jy kon altyd op Barries staatmaak. Hy was veral lief vir parades en het dit baie geniet,” het Ben gesê. Hy het namens alle oud-kommandolede hulle meegevoel met Antoinette en familie uitgespreek.

“Hy was ‘n man met soveel talente,” onthou Antoinette haar man. As kerkman het Barries vir lank as aktiewe lid van die NG Kerk Soutpansberg se kerkraad gedien. Later sou hy ook aktief inskakel by die Louis Trichardt Moedergemeente.

“Sy gesondheid het die laaste paar weke geweldig agteruit gegaan. Hy het geen krag meer oorgehad nie. Dit was net te veel vir sy liggaam,” het Antoinette gesê. Hy is op 11 Januarie in die Medikliniek opgeneem.

‘n Roudiens vir wyle Barries vind eerskomende Vrydag, 22 Januarie, om 10:00 vanuit die NG Kerk Bethlehem Efrata-gemeente plaas. Plaaslik kan belangstellendes so 10 minute voor die tyd inskakel op die gemeente se Facebook-blad (NG Kerk Bethlehem Efrata) om na ‘n regstreekse uitsending van die diens te kyk.

Wyle Barries word oorleef deur sy vrou Antoinette, kinders Juanette Malan, seun Hercules, susters Estie en Sanmarie, aangetroude familie en vier kleinkinders. “Ek wil graag dankie sê aan almal vir hulle oproepe en SMS’e met woorde van vertroosting. Ek was regtig verstom daaroor. Wees verseker dat ons as familie dit uit ons harte waardeer,” het Antoinette gesê.

 

News - Date: 22 January 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: