ADVERTISEMENT:

 

Van die leerders en skoolhoofde waarmee daar gepraat is. Foto's verskaf.

Leerders gretig dat skooljaar aan die gang kom

 

Die heropening van skole is steeds ‘n tameletjie en veroorsaak onsekerheid onder ouers en leerders. Die Zoutpansberger het gaan opvolgwerk doen en ook ‘n paar leerders se gevoel getoets.

Volgens me. Irene Adendorff, waarnemende hoof by Laerskool Louis Trichardt, stuur die Departement Vrydag direktiewe uit ten opsigte van die terugkeer na skole. Sy benadruk die feit dat, saam met die gemeenskap, die skole in baie onseker tye met verskeie uitdagings verkeer. Om weldeurdagte besluite te neem is dus van kardinale belang.

“Soos sake tans staan, moet die bestuurspan op Maandag, 25 Januarie, aanmeld vir diens en sal ook dan vergader oor die pad vorentoe. Die direktiewe van die Departement van Basiese Onderwys wat Vrydag ontvang word, behoort duidelikheid te gee oor hoe skole te werk moet gaan,” sê Adendorff.

Sake wat bespreek gaan word in die vergadering is onder meer hoe om handboeke en skrifte beskikbaar te stel, die moontlike maniere hoe om onderrig vroeër op aanlynplatforms aan te bied asook die bespreking en besluitneming van die hersiene Covid-19 protokol (Standard Operating Procedure).

Adendorff verseker die gemeenskap dat alle moontlikhede ondersoek word. “Ons poog om ons ouers ingelig te hou en so gou as moontlik antwoorde te hê. Sodra ons die nuwe direktiewe ontvang, sal ons ons werksprosedure met die ouers deel,” sê sy.

Mnr. Theo Muller, waarnemende hoof van Hoërskool Louis Trichardt, noem dat die bestuur ook op 25 Januarie vergader, waarna hulle die besonderhede vir die opening sal finaliseer.

Ekhard Dreyer en Caitlynn Crafford, hoofleiers van Laerskool Louis Trichardt, het gewaag om een en ander oor hulle skool te sê. “Alhoewel ons almal weet hoe gevaarlik Covid-19 is, is dit nog steeds teleurstellend dat ons nóg twee weke moet wag om skool toe te gaan. Laerskool Louis Trichardt se regulasies word streng gehandhaaf, en meer druk word nou op ons geplaas om ons akademiese jaar suksesvol te voltooi. Tog is ek positief dat ons ook hierdie struikelblok sal oorkom,” sê Ekhard.

Caitlynn voeg by dat die meeste kinders van vakansies hou. “Gewoonlik kan ons nie wag dat die vakansie begin nie, maar wat nou te lank is, is te lank of sal ek sê, wat te erg is, is te erg. Ek het myself voorberei vir 'n heerlike lang Desember-/Januarievakansie, maar om nou te hoor die vakansie is met nog twee weke verleng, is nou een te veel!  Dit is egter  baie belangrik dat ons ons gesondheid eerste stel. Daarom wil ek vir elke Triegie by Laerskool Louis Trichardt sê: ‘hou moed, wees veilig en geniet die vakansie, want as ons eers gaan begin werk, gaan daar beslis nie meer sulke lekker lang vakansies wees nie’,” sê Caitlynn.

Vir Ettienne Wolmarans, Graad 12-leerder by ZCVO, is die gedagte vreemd, aangesien hy nuut in die omgewing en skool is.  “Ek het verlede jaar vanaf Randfontein na Louis Trichardt getrek.  Ek het reeds einde verlede jaar deel van die Zoutpansberg CVO-skoolgemeenskap geword,” sê hy. Die skool het reeds op Maandag, 18 Januarie, met aanlynklasse begin. “Ek is sover baie tevrede daarmee. Dit is te danke aan die onderwysers wat die werk onverbeterlik verduidelik. Dit is baie makliker as wat ek verwag het. Ek is bekommerd oor my matriekjaar wat begin met aanlynklasse, maar met die Here aan ons kant en die moeite wat ZCVO insit, glo en vertrou ek dat ons almal, nie net die matrieks nie, ‘n uitstekende jaar sal hê,” sê Ettienne.

Dede Bessong, hoofmeisie van Ridgeway Kollege, was ietwat teleurgesteld toe sy verneem dat sy Graad 12 aanlyn moes begin. Gelukkig het sy besef dat dit nie veel anders as die aanlynklasse van 2020 sou wees nie. “Ek is reeds vertroud met Google Classrooms en Zoom en ook hoe om myself te dissiplineer sodat ek nie opstaan en gaan TV kyk nie!” sê sy. Dede is egter van mening dat sy baie graag eerder by die skool sou wou wees, omdat dit ‘n baie beter leer-omgewing is. “Tuis is dit byvoorbeeld onvanpas as ‘n driehoeksmeting-probleem opgelos moet word en iemand is besig om na NCIS ‘n paar meter verder weg te kyk! Ek weet egter dat dit vir ons eie beswil is om tuis te bly. As dit is wat ek moet doen om te help keer dat die virus verder versprei, dan is ek gewillig.” Dede voeg by dat sy effens onrustig daaroor is dat die grendeltyd selfs verder verleng kan word, wat kan beteken dat skoliere langer tuis sal moet bly. Sy is dankbaar dat hulle onderwysers die ekstra myl loop om seker te maak dat hulle gereed is vir aanlyn-onderrig wat Woensdag, 20 Januarie, ‘n aanvang geneem het. “Ek bid dat die aantal gevalle en sterftes afneem. Behalwe hiervoor het ek nie regtig enige ander bekommernisse nie,” sluit Dede af.

Lee-Ann Bothma, Graad 9-leerder van Hoërskool Louis Trichardt, is van mening dat dit onnodig is dat die skole eers later gaan oopmaak. “ ‘n Nuwe jaar, nuwe graad en nuwe werk vereis dat kinders meer aandag gaan nodig hê en dit plaas onnodige druk op hulle. Werk, take en toetse moet nou in ‘n beperkte tyd gedoen word. Ek dink dat skole Zoom en ander aanlynklasse moet inbring. Aan die ander kant moet ons ook in gedagte hou dat Covid-19 nou baie erg is in ons provinsie, en moet ons die veiligheid van studente en onderwysers in ag neem,” sê sy.

Nog twee matriekleerlinge van ZCVO het openhartig oor die situasie gesels. “Soos verlede jaar is ons weereens uit die normaal - of altans dit wat soos normaal voel - geruk. Die skole heropen, maar tog nie.” Só sê Jonél Wepener. Sy sê dat sy sekerlik namens elke matriekleerling dié jaar praat. “Daar is tóg wel ‘n bekommernis dat dit ons toekoms kan beïnvloed. Die aanlynskool is beslis beter as geen skool, maar niks vervang kontakklasse/-skool nie. Die beste wat enige leerling nou kan doen, is om hoopvol te bly en net hul beste te gee. Ons gaan beslis ‘n interessante matriekjaar beleef en geskiedenis maak,” sê Jonél.

Jonél se klasmaat, Christiaan de Jager, stem saam dat hierdie ‘n belangrike en moeilike jaar is. “Ek glo dat die Here ons veilig in sy hand sal dra. Die aanlynklasse is goed, maar ek verkies om liewer skool toe te gaan. Dit was ‘n goeie besluit dat die skole eerder later begin, want dit beskerm ons leerders teen die groot pandemie,” sê Christiaan.

 

News - Date: 23 January 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Pétria de Vaal

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: