ADVERTISEMENT:

 

Gerda Nagel (links) van Mosaïek Begrafnisdienste en Sylvester Maponyane (regs), bestuurder by AVBOB Begrafnisdienste op Louis Trichardt. Foto's verskaf.

Covid-19 sterftes 'n uitdaging vir begrafnisondernemers

 

Covid-19 hou ‘n groot bedreiging vir ons almal in. Mense van alle rasse en klasse loop die gevaar van blootstelling aan hierdie onsigbare massamoordenaar onder ons, en daarom is dit ‘n kwessie van lewe en dood om die nodige voorsorgmaatreëls te tref om onsself én ander daarteen te beskerm deur die dra van maskers, gereelde ontsmetting en die handhawing van veilige distansies.

Terwyl meeste van ons in staat is om ‘n leefwyse aan te kweek wat voorkomend teen die coronavirus mag wees, het sommige mense egter geen ander keuse as om hierdie gevaar in die gesig te staar nie - mediese personeel, die polisie, onderwysers, versorgers by ouetehuise en kinderhuise, om maar ‘n paar op te noem.

Begrafnisondernemers val ook onder dié groep. Hulle is immers die “herberg” vir die slagoffers wat die stryd teen hierdie gevreesde virus verloor het, en vir hulle is dan ook spesiale voorsorg- en gesondheidsmaatreëls ingestel wat gehandhaaf moet word.

Die Zoutpansberger het met ‘n paar begrafnisondernemers in Louis Trichardt gaan gesels om te hoor watter uitdagings die pandemie in sy mees onlangse gestalte vir húlle inhou.

Gerda Nagel van Mosaïek Begrafnisdienste sê dat hulle vanaf die begin van Januarie heelwat besiger is ná hierdie tweede golf van Covid-19 infeksies, in vergelyking met verlede jaar. Hulle kan ‘n maksimum van 10 lyke op ‘n slag akkommodeer, en om die dilemma van oorvol yskaste te vermy, probeer hulle om verassings so spoedig moontlik te reël.

“Meeste mense wat weens Covid-19 gesterf het en na ons gebring word, word veras,” verduidelik Nagel. “Wanneer ons die lyk ontvang, word dit in twee lyksakke toegemaak en onmiddellik in ‘n deeglik-ontsmette houtkis geplaas, wat dan verseël en in die yskas gebêre word. Die kis word nie weer oopgemaak nadat hy verseël is nie; geen besigtiging vind plaas nie. Hy word dan binne 2-3 dae - net soos hy is - na die krematorium gestuur vir verassing.”

Hulle uitdaging, sê Nagel, lê daarin wanneer families hul geliefdes eerder wil begrawe. Omdat die begrafnisprosedure langer neem (soms tot ‘n week), beteken dit dat ‘n lyk langer geakkommodeer moet word, wat nie net ‘n gebrek aan spasie mag veroorsaak nie, maar ook gesondheidsrisiko’s rondom die coronavirus inhou. Sy sê dat die huidige gesondheidsregulasies baie streng toegepas word en dat ontsmetting ‘n konstante oefening vir ‘n begrafnisonderneming is. Weggooibare oorpakke word gedra wanneer iemand weens Covid-19 gesterf het en na die onderneming gebring word.

AVBOB Begrafnisdienste op Louis Trichardt se bestuurder, Sylvester Maponyane, beaam dat besigheid aansienlik toegeneem het vanaf die begin van Januarie. Hy sê dat hulle tussen 7 en 16 Januarie altesaam 24 Covid-19 verwante lyke moes akkommodeer, en hoewel dit hierdie week stiller is in vergelyking met verlede week, hul yskaste steeds feitlik vol is. Die rede hiervoor, sê Maponyane, is vertragings as gevolg van begrafnisdienste. Volgens hom dring sommige families aan op ‘n datum vir ‘n begrafnis wat hulle pas, wat dikwels beteken dat die lyk vir langer geakkommodeer moet word. Intussen raak die yskaste oorvol. Hulle poog tans om elke dag ten minste vier tot vyf begrafnisse per dag te reël om spasie te skep.

Maponyane sê dat, ten spyte van streng voorsorgmaatreëls wat gehandhaaf word, hulle meeste van die tyd in vrees leef dat hulle die virus mag optel. Dis hoekom hulle seker maak dat hulle genoeg weggooibare oorpakke, handskoene, gesigmaskers, en ontsmettingsmiddels in voorraad het, en vertrekke op ‘n weeklikse basis deeglik ontsmet.

Makhado Begrafnisondernemers het dieselfde toename in besigheid ervaar vanaf die begin van die jaar. Hulle kan tot 20 lyke op ‘n slag akkommodeer en die bestuurder, Ronnie Mureri, sê dat spasie daar tans ook baie knap is. Volgens hom is hulle vinnig besig om uit kiste te hardloop.

Mureri sê dat hul grootste uitdaging nie is om ‘n lyk by die hospitaal te gaan haal en na die onderneming te vervoer nie. Wanneer iemand weens Covid-19 gesterf het, word die lyk dadelik deur hospitaalpersoneel in ‘n lyksak toegemaak. Hul bekommernis ontstaan wanneer ‘n lyk by ‘n residensiële huis gaan haal moet word, omdat hulle dan nie weet wat die oorsaak van dood was, en of die persoon moontlik aan die coronavirus beswyk het nie. Hierdie gevalle, sê hy, word (as voorsorgmaatreël) dan as ‘n Covid-19-geval hanteer.

 

News - Date: 24 January 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Denise van Bergen

Denise van Bergen joined the Zoutpansberger/Limpopo Mirror in November 2020. She has previous experience as a journalist working for Die Pos in Modimolle.

Email:

ADVERTISEMENT: