Search for a story:

Oom WAS was 'n man wat naby sy God gelewe het

News - Date: 18 February 2021

Written by: Pétria de Vaal / Viewed: 1039

 

“Hier gaan ‘n groot, Godvresende man verby.” Só sal menige inwoner van die Soutpansberg-omgewing met Willem Nel, seun van oorlede oom WAS Nel, saamstem. Oom WAS (Willem Andries Stephanus) is op Woensdag, 10 Februarie, in die rype ouderdom van 90 jaar ná ‘n kort siekbed oorlede. 

Oom WAS is op 22 April 1930 op Vaalwater in die Waterberge gebore. Hy het in Nylstroom grootgeword en in 1948 daar gematrikuleer. Nadat hy aanvanklik in Pretoria begin werk het, is hy na Nylstroom verplaas. Daarvandaan is hy na Nelspruit, waar hy vir die Departement van Gesondheid gewerk het. “Hy het daar geleer rugby speel en saam met die groot name soos Ernst Dinkelmann en Boet Wilkens gespeel en geoefen saam met Salty Durand,” sê Willem.

Willem vervolg dat sy pa in 1955 Pietersburg toe is, waar hy sy vrou, Berdina, in 1956 ontmoet het by die KJV van Pietersburg-Noord. “Toe my pa begin vlerksleep by my ma het sy hom duidelik laat verstaan dat sy ná afloop van haar verpleeg-opleiding op pad was na Sentraal-Afrika as sendeling. Dus, as hy in haar belangstel, moet hy bereid wees om die sendingveld te betree. Die verhouding het opgevlam en hy moes op ‘n keer ‘n Sondagskoolklas, wat sy begin het in die swart woonbuurt, waarneem. Min het hy geweet dat hy later oor ‘n periode van ongeveer 20 jaar duisende Venda-kinders in sy Sondagskole sou hê! Deur sy amp as KJV Ringsekretaris het hy ds. Nico Smit, die voorsitter, ontmoet. Hy sou hulle in Augustus 1958 vra om na Tshilidzini NG Sendinghospitaal te kom om hulle te help. Hulle het slegs vyf minute gehad om hul antwoord te gee,” sê Willem.

Oom WAS en tannie Berdina is op 20 April 1957 in die “Haantjiekerk” getroud en vir hulle wittebrood na Tshipise.  Op 1 November 1958 is hulle na Tshilidzini - ‘n geloofstap, want die sending kon geen salaris waarborg nie. Hy was die eerste sekretaris van die Tshilidzini Sendinghospitaal, wat op 31 Mei 1958 geopen het. Oom WAS was die visiedraer en konstante faktor, soos wat leraars en dokters gekom en gegaan het. Hy het selfs ‘n sleutelrol gespeel toe die hospitaal vergroot is en het boonop die argitek se planne laat verander om groot bome behoue te laat bly - ‘n bewys van sy liefde vir die natuur.

Oom WAS se presiese aanslag ten opsigte van sy werk het ook vir hom naam gemaak met die liasseerstelsel wat hy vir die hospitaal ontwerp het - ‘n stelsel wat later deur ‘n hele aantal ander hospitale geïmplementeer is. Hy was ook op die bestuur van die Louis Trichardt Gedenkhospitaal – nou die Provinsiale Hospitaal.

Hy was ook ‘n dryfveer agter die begin van die Shayandima Skool vir Dowes en Blindes in die Venda-taal, asook die Verplegingskollege. Ná 25 jaar het hy sy verantwoordelikheid oorgedra as hoof administratiewe beampte (vandag direkteur) aan wyle mnr. Tshikovhi, wat hy opgelei het en wat later die direkteur-generaal van die Gesondheidsdepartement in Limpopo geword het.

Oom WAS het ook ‘n sleutelrol gespeel in die verskaffing van elektrisiteit aan die hele Venda toe hy vir mnr. Rogers van die Venda Electricity Corporation (VEC) begin help het in die ondersteuningsdienste. Hy was ook die langsdienende lid van die Soutpansberg Kommando. Behalwe dat hy lede opgelei en gemotiveer het, het hy ook gedurig vrywilligers gewerf. Elke opleidingsessie is met ‘n geestelike boodskap en gebed begin en afgesluit. Hy was vir ‘n aantal jare die tweede in bevel. As waarnemende bevelvoerder het hy ‘n trust opgerig om na die bates om te sien.

“Ons pa was ouderling en diaken van NG Gemeente Soutpansberg en deel van die afstigting van Levubu Gemeente. Hy en my ma sou later terugkeer na Soutpansberg-gemeente, voordat hulle in 1983 aangesluit het by die gemeente wat later Emmanuel Lighuis Kerk in Louis Trichardt sou word,” sê Willem.

Op baie ander gebiede in die gemeenskap het oom WAS sy gewig ingegooi. Hy was byvoorbeeld vir baie jare in die 1970’s onder-voorsitter van Hoërskool Louis Trichardt se bestuursliggaam. Ongeveer 30 jaar gelede het hy ook bestuurslid en toe voorsitter geword van Ons Tuiste se bestuursraad en dit ook later omskep in ‘n trust om die ouetehuis te beskerm. Tydens stakings het hy dikwels (selfs in sy laat tagtigs) ingespring en vloere gemop of skottelgoed gewas omdat hy voorsitter was en verantwoordelik gevoel het. Hy het nooit gedink dat hy die laaste maande van sy lewe daar sou deurbring nie. “Na my moeder se afsterwe op 1 November 2012, het hy die Woensdag ná haar begrafnis die bediening wat sy in die ouetehuis gehad het, voortgesit - tot enkele jare gelede,” sê Willem.

Willem vertel ook die volgende: “In 1995 was daar ‘n uitnodigingsbrief aan my om lid te word van die Gideons Bybelgenootskap. Ek en pa het dieselfde name en het dieselfde posbus gebruik. Ek het pas verhuis en my vader bel toe die Gideons om hulle van my verhuising te verwittig. Die President vra my vader om aan te sluit en gewoon dieselfde brief te gebruik, aangesien ons dieselfde name het. Dit sou vir 25 jaar sy bediening wees, wat hy met groot passie sou uitleef tot en met die grendeltydperk. As ek reg is, was hy nog President tot 2019 en sekretaris tot met sy afsterwe. Elke jaar het hy die plasing van meer as 40 000 Bybels en Nuwe Testamente georganiseer vir afgeleë skole in Venda. Sondag vir Sondag het hy in kerke opgetree om mense aan te spoor om ‘Bible Poverty’ te beëindig. Geen moeite en tyd was te veel vir hom nie. Hiervoor het hy wyd gery.”

Oom WAS  het altyd gesê dat dit maklik is om te vra, want hy vra vir God en nie vir homself nie! Hy het ook in die maksimum sekuriteitsgevangenis gaan Bybels uitdeel en opvolg-gesprekke gaan doen.

Van 1983 af het die egpaar vyf kilometer buite die dorp op hulle plot “Aandgloed” op Southdown gewoon. Aan die einde van 2018 het sy kleinseun Tiaan die plot van hom gekoop en hy het daar aangebly tot ná die eerste grendeltydperk verlede jaar, waarna hy sy intrek in Ons Tuiste geneem het. “Vandat ons moeder op 1 November 2012 oorlede is, totdat hy die plot verkoop het, het my suster Loretta by hom op die plot gewoon en hom tot hulp gewees,” sê Willem.

Gedurende 2015 het die Zoutpansberger berig dat oom WAS besig was om sy herinneringe en verhale neer te pen. Hy het dit in sy aktetas rondgedra en daaraan gewerk wanneer hy kans gehad het. Hy het ook ‘n paar keer van hierdie verhale vertel tydens die Afrikaanse tydgleuf by Makhado FM. Landmeter Schalk Corbett, ‘n goeie vriend van oom WAS asook mede-lid van die Gideons, het onderneem om dit te laat tik. Madrie Barnard het die tikwerk voltooi en dit is aan die familie terugbesorg. “Ek sal Oom WAS onthou as iemand wat sy Christenskap uitgeleef het en nooit 'n kans laat verbygaan het om die Evangelie te verkondig nie. Hy en Tannie Berdina het ook die gemeenskap gedien waar hulle kon,” sê Schalk.

‘n Oud-inwoner van Louis Trichardt laat weet uit Nieu-Seeland: “Hy was die dierbaarste, mees God-liewende mens wat ek ooit ontmoet het. Hy het altyd aan almal gedink – nie aan homself nie. Hy was ‘n legende en het nooit iemand se verjaardag vergeet nie.”

“Ons pa het met almal oor die weg gekom. Hy het altyd alle mense met waardigheid hanteer, omdat elkeen na Gods beeld geskape is. Hy het bowenal altyd met gesag en integriteit opgetree,” sluit Willem af.

Oom WAS word oorleef deur vyf kinders Lourens (seun) en Ria Nel (Burgersfort), Willem (seun) en Marina Nel  (Kaïro, Egipte), Loretta Mynhardt (dogter) in Louis Trichardt, Nico (seun) en Mart-Mari Nel (Hawera, Nieu-Seeland), Annelie (dogter) en Derek Buitendag, 12 kleinkinders en 11 agterkleinkinders.

Oom WAS se gedenkdiens vind om 12:00 op 21 Februarie plaas by Emmanuel Gemeente. Slegs naby familie sal dit kan bywoon, maar enigiemand kan inskakel vir die lewendige uitsending op Emmanuel se Facebook-blad.

Die familie vra dat indien enigiemand ‘n donasie wil maak, dit wel gedoen kan word aan die Gideons vir Bybelverspreiding. Kontak vir Loretta Mynhardt by 0828096904 of Lourens Nel by 0824643900 in hierdie verband.

 

Wyle oom WAS Nel (90). Foto verskaf.

 

 
 

Pétria de Vaal

Email: petria@devaalanddevaal.co.za

Recent Articles