Search for a story:

Nuwe minimumloon gaan werkgewers se beursies wurg

News - Date: 21 February 2021

Written by: Andries van Zyl / Viewed: 1105

 

Die nuut afgekondigde minimumlone tree op 1 Maart in werking en vir baie begin die “luuksheid” van ‘n huishulp onbekostigbaar word. Alhoewel mense begrip het vir die implementering van ‘n minimumloon, kon die tydsbeperking daarvan egter nie slegter gewees het nie, veral vir huishoudings wat reeds sukkel om kop bo water te hou vanweë die geweldige negatiewe ekonomiese impak van die Covid-19 pandemie.

Die nuwe minimumlone vir 2021/22 is in die Staatskoerant van 8 Februarie (nr. 44136) afgekondig. Die nasionale minimumloon verhoog met 4,5% van R20,76 per uur na R21,69 per uur, terwyl die minimumloon vir plaaswerkers met 16% styg vanaf R18,68 na R21,69. Die grootste styging was ten opsigte van huiswerkers, wie se minimumloon met sowat 23% styg vanaf R15,57 per uur na R19,09 per uur. Dit is sowat 88% van die nasionale minimumloon en die gedagte is dat hierdie loon volgende jaar dieselfde sal wees as die nasionale minimumloon per uur.

Tans het ‘n huiswerker wat agt ure per dag, vyf dae per week en vier weke per maand werk, net meer as R2 491 minimumloon verdien. Met die 23% verhoging skuif die minimumloon nou op na R3 054 per maand, ‘n verhoging van R563 per maand (die bedrag kan minder wees vir huiswerkers wat minder ure per maand werk).

Die realiteit van hierdie verhoging is dat werkgewers se salarisse nie met dieselfde persentasie gegroei het nie. Inteendeel, weens die geweldige negatiewe impak van die Covid-19 pandemie het baie huishoudings se besteebare inkomste gekrimp en vir baie het die tyd nou gekom om oor “luukshede” te besin. Vir baie gaan dit weliswaar ‘n geval wees van laat die huishulp gaan of (byvoorbeeld) kanselleer die DStv. Ander oorweeg dalk die kansellasie van polisse en versekering. Sommige sal doodeenvoudig hulle huiswerkers moet laat gaan want hulle kan hulle net nie meer bekostig nie. Vir riglyne oor wat werkgewers ten opsigte hiervan te doen staan, het die Zoutpansberger met arbeidsregskenner dr. Len van der Walt van Ronsen Labour op Louis Trichardt gepraat.

Van der Walt het gesê dat aflegging (retrenchment) altyd as laaste opsie oorweeg moet word. Hy het daarop gewys dat alhoewel die maksimum ure wat ‘n werknemer daagliks en maandeliks mag werk nie verander het nie, verligting wel vir die werkgewer bestaan deur sy werknemer vir minder ure te laat werk.

“Die regte prosedure sou wees, volgens Artikel 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge, dat jy vir die persoon ‘n brief sal skryf waarin jy hom/haar uitnooi (Invite to Consult) om met jou te kom praat. Dit is ‘n konsultasie, nie ‘n onderhandeling nie. Jy kan vir die persoon sê jy kan hom/haar nie meer vir vyf dae per week bekostig nie en die persoon moet nou net [byvoorbeeld] twee dae per week inkom. Dienooreenkomstig sal die persoon se salaris ook verminder word,” het Van der Walt gesê.

Maar wat doen jy as jou werker weier om verminderde ure te werk? “Dan het jy die reg om daardie persoon af te lê,” het Van der Walt gesê. Hy het bygevoeg dat dit nog makliker is onder die huidige Wet op Rampbestuur. Die wetgewing laat werkgewers toe om vanweë Covid-19 en moeilike ekonomiese omstandighede (onder sekere voorwaardes, natuurlik) van werknemers ontslae te raak deur onder meer aflegging. Alternatiewelik kan die werkgewer die werknemer skofte laat werk of verminderde ure. Die werkgewer kan selfs die werknemer tydelik aflê deur vir hom of haar vir byvoorbeeld ses maande huis toe te stuur sonder betaling. “Die persoon kry dan ‘n UI19-vorm wat gebruik kan word om teen die werkloosheidsversekeringsfonds te eis,” het hy gesê.

Van der Walt het egter gewaarsku dat persone eerder nie die proses van aflegging self moet probeer aanpak nie. “Die groot probleem is dat die een prosedure die hek oopmaak vir ‘n ander prosedure. Om ‘n persoon te ontslaan is altyd die laaste uitweg. Voordat so ‘n besluit geneem word, sal ek aanbeveel dat daar eers met ‘n arbeidskenner gepraat word. Vir ons wat daarmee werk, is dit ‘n maklike proses, maar dit kan in ‘n nagmerrie ontaard vir iemand wat nie weet wat hulle doen nie. As jy dit onkundig gaan doen, is dit ‘n proses wat jou duur te staan gaan kom,” het Van der Walt gewaarsku.

Plaaswerkers se minimumloon het ook ‘n merkbare verhoging gesien en afleggings kan ook in dié sektor verwag word. Tans verdien ‘n plaaswerker wat agt ure per dag, vyf dae ‘n week en vier weke per maand werk gemiddeld net meer as R3 100 per maand. Met die nuwe verhoging in minimumloon sal die gemiddelde bedrag opskuif na net meer as R3 640 per maand, ‘n verhoging van sowat R540 per werker. As jy net een of twee plaaswerkers het, kan die verhoging dalk geabsorbeer word, maar vir boere met 10 of meer plaaswerkers raak dit ‘n duur oefening. “In landbou werk ons op ‘n 45 ure werksweek. Wat belangrik is, ons kan ook minder ure laat werk. Ek werk op sewe-en-‘n-half ure maal vyf dae per week. Dit is egter iets wat jy met jou werkers moet onderhandel. Gelukkig het ek dit al vyf, ses jaar gelede geïmplementeer, tot voordeel van produktiwiteit, ensovoorts. Jy mag net nie vir minder as vier ure betaal nie. As die werker dus drie ure per dag werk, moet jy steeds vir vier ure betaal, en onthou, etenstye en tee breuke is nie deel van werksure nie,” het Louis Trichardt boer mnr. Fritz Ahrens gesê.

Ahrens het ook mense aangeraai om nie self die proses van afleggings of onderhandelinge oor verminderde ure aan te pak nie. “Mense moet asseblief raad vra by die regte mense of by hul landbou-unie, eerder as wat hulle op hul eie probeer aangaan en op hoorsê dinge probeer implementeer. Wat ook belangrik is om te sê, is dat dit wat die wet verbied, nie met ‘n kontrak verander kan word nie. ‘n Kontrak wat nie volgens die wet geskryf is nie, beteken absoluut niks nie. Ouens sê: Ja, maar ek het met hom onderhandel om vir minder te werk! Daardie kontrak is nie die papier werd waarop dit geskryf is nie. Jy mag nie. Enige iets buite die arbeidswet kan jy nie in ‘n kontrak probeer vasmaak nie. As dit nie in die arbeidswet staan nie, kan dit nie in die kontrak staan nie,” het Ahrens gewaarsku.

Gratis inligtingsessies is Woensdag in Louis Trichardt, Levubu en Alldays deur Rosen Labour vir werkgewers oor die nuwe minimumloon gehou. Die sprekers was dr. Len van der Walt, mnr. Ardu Theron, arbeidsregkenner en prokureur, en adv. Jandré Jansen, beide van Pretoria en ook van Ronsen Labour. Aspekte wat aangeraak is, was die nuwe minimumloon, alternatiewe oplossings, die implementering van alternatiewe oplossings, gevolge van nie-nakoming, die POPI-wetgewing, ensovoorts. Vir meer inligting hieroor en navrae kan Van der Walt geskakel word by tel. 0664 226 336. “Die reël by werkgewers moet wees: moenie aanneem nie, vind liewers uit,” het Van der Walt gesê.

 

Die realiteit van hierdie verhoging is dat werkgewers se salarisse nie met dieselfde persentasie gegroei het nie. Inteendeel, weens die geweldige negatiewe impak van die Covid-19 pandemie het baie huishoudings se besteebare inkomste gekrimp en vir baie het die tyd nou gekom om oor “luukshede” te besin.

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: andries@zoutnet.co.za

Recent Articles