ADVERTISEMENT:

 

Die klein krokodilletjie van ongeveer 30 cm wat die afgelope week vanuit ‘n swembad by ‘n huis in Louis Trichardt gered moes word. Waar die reptiel vandaan gekom het, bly steeds ‘n misterie. Foto’s verskaf.

Krokkie kom kuier

 

Stom van verbasing het ‘n inwoner van Louis Trichardt die afgelope week ná aanhoudende reën haar tuinman gevra om ‘n groot akkedis uit haar swembad te verwyder, net om uit te vind dat die groot akkedis al die tyd ‘n jong krokodilletjie blyk te wees.

Die inwoner, wat verkies het om anoniem te bly, het gesê sy het die gedierte sowat ‘n week vantevore vanaf haar balkon raakgesien, maar kon nie mooi uitmaak wat dit was nie. Groot bome het ook haar uitsig belemmer. Die reën het sake bemoeilik, en boonop het die swembadwater begin vuil word. Met die naderstap merk die tuinman toe op dat hierdie beslis geen gewone akkedis is nie, maar ‘n klein krokodil van ongeveer 30cm lank. Met die hulp van bure is die regte persone gekontak, wat die krokodilletjie kom vang en gaan hervestig het.

Die vraag op almal se lippe is nou: Hoe is dit moontlik dat ‘n krokodil in die Skuldbult-omgewing in ‘n swembad kon beland? Is hy dalk as gevolg van die baie reën iewers deur vloedwaters meegesleur?

Die Zoutpansberger het by kenners van krokodille gaan kers opsteek. Sandra Boshoff van Ratho Bushcamps langs die Limpopo in Alldays se wêreld boer met krokodille. Volgens haar kan krokodille baie ver loop, klein of groot. Haar eerste vraag was waar die naaste dam is. In hierdie geval, die ou dorpsdammetjie in Rivierstraat. ‘n Krokodil sal egter nie sommer opdraand, weg van die dam af, loop nie. 

Om die raaisel te probeer oplos, is nog ‘n kenner genader, wat nie ‘n naam genoem wou hê nie.  Hierdie persoon sê dat dit heelwaarskynlik ‘n krokodil is wat gevange gehou was in die omgewing en uit 'n hokkie ontsnap het of andersins deur reënwater verspoel het. Hulle sal wel altyd na 'n waterbron toe gaan en weet op 'n manier altyd waar water is, al is hul baie ver daarvandaan. Die reseptore in hul vel, wat soos barometers baie fyn ingestel is, lei hulle na water. Hulle eetgewoontes reageer op die verwagting van wat die weer gaan doen, omdat hulle konstant reageer op wat in die atmosfeer aangaan. “Die moontlikheid van 'n krokkie wat iewers kon ontsnap het, is goed aangesien hulle verbasend hoog kan spring. Die kleintjies spring vertikaal op om insekte te vang, en menige klein krokodil het al uit aanhouding ontsnap omdat die omheining te laag was,” sê die anonieme kenner.  Die vloede en baie reëns word ook as 'n rede genoem dat krokodille op vreemde plekke beland.

Die swembad was minstens vir ‘n week lank die krokodil se tuiste. Net voordat hy opgemerk is vir die eerste keer, is die swembad se water vervang, dus kon hy nie baie lank daar gebly het nie. ‘n Mens wonder wat hy geëet het om aan die lewe te bly. By nadere ondersoek is bronne dit eens dat pasgebore krokodille beperk is tot voeding op klein diere, byvoorbeeld klein visse, paddas, insekte en klein ongewerweldes in water. Wanneer krokodille 'n lengte van 1 tot 1,5 meter bereik, is klein ongewerweldes nie meer ‘n belangrike voedselbron nie.

Ons kan dus aanvaar dat die krokodilletjie oorleef het op byvoorbeeld insekte en paddas – laasgenoemde is ook volop ná die goeie reëns.

Op ‘n vraag of die swembadchloor nie skadelik vir die krokodil sou wees nie, antwoord Sandra dat dit “sy velletjie eerder sou skoonmaak. Dit is nie giftig vir hom nie. Ons maak self daagliks ons krokodille skoon om van bakterieë ontslae te raak”.

Hoe hierdie krokodil van ‘n swembad in ‘n woongebied sy tuiste gemaak het, is en bly ‘n misterie!

News - Date: 05 March 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Pétria de Vaal

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: