ADVERTISEMENT:

 

Geen toegang! Swaar vragmotors sal nou maar êrens anders moet gaan parkeer, nadat die park in Baobastraat oorkant Soutpansberg Spar uiteindelik die afgelope week ordentlik met pale toegespan is. Die park is die laaste paar jaar as ‘n onwettige taxi-staanplek en truck stop vir swaar vragmotors gebruik.

Toegang verbode!

 

Nie net mnr. Luke Enslin, eienaar van Soutpansberg Spar, slaak ‘n sug van verligting nadat die Makhado Munisipaliteit uiteindelik gehoor gegee het aan pleidooie om die park oorkant dié winkelkompleks af te sper nie.

Die park het die afgelope paar jaar ontaard in ‘n onwettige staanplek vir minibus-taxi’s en swaar vragmotors wat dit is ‘n truck stop begin gebruik het. Nodeloos om te sê, die swaar verkeer het sy merk gelos op strate in die omgewing, wat nooit ontwerp is om hierdie tipe verkeer te dra nie.

Buiten kopsere met verkeersopeenhopings weens swaar vragmotors wat vroegoggend en laatmiddag wou ry of bly, was dit gedurende die droë maande veral die stof wat Enslin teen die mure uitgedryf het. So een of twee keer het die Stadsraad probeer om die park af te sper, maar die pale is bloot weer uitgehaal of omgery deur die vragmotorbestuurders. Die onlangse swaar reën oor die hele Soutpansberg het weer ‘n ander probleem tot gevolg gehad – modder! Tot en met ‘n week of twee gelede was die hele straat voor die winkelkompleks een reuse modder gemors soos wat vragmotors uit die park modder die strate ingery het. Dit was vir Enslin die laaste strooi gewees.

“Ek het die Stadsraad herhaaldelik gesmeek om ‘n plan te maak. Elke keer het hulle vir my net gesê: ‘All in good time’. Toe begin ek maar self die pale plant,” het Luke gesê.

Volgens Luke was hy so twee dae besig gewees, toe daag die munisipaliteit se kontrakteur daar op en sê dat hulle sal aangaan met die plant van pale. “Dit was nadat iemand op ‘n munisipale WhatsApp groep die munisipaliteit bedank het dat hulle nou uiteindelik begin het met die toespan van die park. Iemand anders het hulle egter daarop gewys het dat dit nie die munisipaliteit is nie, maar Spar self is wat die pale begin plant het. Die volgende dag was die munisipale kontrakteur daar,” het Enslin gesê.

Volgens Enslin pla dit hom glad nie dat die munisipaliteit die projek oorgevat en klaargemaak het nie. Die hele park is die afgelope twee weke toegespan met houtpale. “Dit lyk my jy moet maar net ‘n ding begin en dan druk jy hulle in ‘n hoek in,” het Enslin gesê. Die storie het egter ietwat van ‘n nadraai. Vragmotorbestuurders wat te laat besef die park is nou toegespan is nou besig om sypaadjies in die area flenters te ry in hulle pogings om om te draai. “Ek het in elk geval ‘n paar ekstra pale gekoop vir wanneer van die trokke weer die pale omry,” het Enslin gesê.

Motoriste wat gereeld die pad gebruik is tans deeglik bewus van Baobabstraat (om die park en voor Soutpansberg Spar) se haglike toestand. Die straat het feitlik totaal verbrokkel en die enigste rede waarom mense steeds die straat kan gebruik is danksy ‘n man en sy kruiwa wat deurlopend die slaggate toegooi die afgelope week. Die goeie nuus is egter dat munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi in Januarie reeds bevestig het dat hulle ‘n konsultant aangestel het om die straat heeltemal te herontwerp. Die afgelope paar weke was daar op die onderskeie straathoeke rondom die park personeel wat daagliks die hoeveelheid voertuie getel het wat van die pad gebruik gemaak het. Wanneer die opgradering van die pad gaan plaasvind, is egter onseker.

Nog goeie nuus is dat dit blyk dat die Makhado Munisipaliteit eindelik begin het met die herstel van slaggate in die dorp se strate. Bewys hiervan is te sien in Joubertstraat, waar slaggate gereedgemaak is om weer met teer herstel te word. Tans is slaggate ‘n groot kopseer vir motoriste. Die probleem is dramaties vererger deur die swaar reënneerslae oor die streek – iets wat buite die munisipaliteit se beheer was.

 

News - Date: 12 March 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: