ADVERTISEMENT:

 

Bykans ‘n maand nadat 'n massiewe waterlek op die hoek van Tshirululuni- en Olifantstraat onder die Vhembe Distriksmunisipaliteit se aandag gebring is, het tot en met die afgelope week nog niks gebeur nie. Intussen het die straatoppervlakte nou begin verbrokkel, wat meer skade aan die infrastruktuur tot gevolg het.

Vhembe sit handjies gevou te midde van waterlekke

 

Meer as twee weke nadat die Zoutpansberger berig het oor waterlekkasies in Louis Trichardt wat kommerwekkende afmetings aanneem, is nog niks daaraan gedoen nie. 

Mnr. Moses Shibambu, woordvoerder van die Vhembe Distriksmunisipaliteit, is weer hieroor gekontak. Volgens hom is die probleme wel aan hul hoof van tegniese dienste gerapporteer. Hy het onderneem om self weer – ná die gesprek vroeër vandeesweek - die saak met hierdie hoof op te neem.

Toe die Zoutpansberger op 15 Maart spesifiek die lekkasie op die hoek van Tshirululuni- en Olifantstraat onder Vhembe se aandag gebring het, het hulle “nie daarvan geweet nie”, terwyl ‘n inwoner dit reeds op 5 Maart gerapporteer het en selfs ‘n verwysingsnommer daaraan toegeken  is. Intussen het die konstante lekkende water al veroorsaak dat die straatoppervlak begin verkrummel. Hierdie aspek was nie aan Shibambu bekend  nie. Hy het saamgestem dat meer skade nou veroorsaak word.

Mnr. Brian du Plooy, wyksraadslid van die DA, sit self hande in die hare. “Ek is raadop. Ek stuur die inligting deur. Daar is net geen terugvoer van Vhembe se kant af nie. Boodskappe word gelees, maar daar is geen reaksie daarop nie. Dit is nag daarbuite. Daar is al hoe meer en groter lekkasies.” Hy het ook sy misnoeë te kenne gegee met die feit dat ‘n mens nie weet wat die probleem is nie, moontlik omdat fondse of ander hulpbronne nie beskikbaar is nie. “Ek weet nie hoe gaan ons hierdie beamptes van Vhembe verantwoordelik hou nie,” sê hy.

Op ‘n vraag aan Shibambu van hoe die rapportering eintlik werk, het hy gereageer deur te noem dat ‘n aantal werknemers van die Vhembe Distriksmunisipaliteit se tegniese afdeling toegewys is aan Makhado Munisipaliteit. Hierdie werknemers is, volgens hom, ook op die WhatsApp-groepe wat gestig is waarop inwoners hulle klagtes kan lug en die betrokke munisipale werknemers op hierdie manier van probleme bewus maak.

“Die heel beste protokol om te volg in die rapportering van probleme is egter deur middel van die wyksraadslede,” sê Shibambu. In antwoord op ‘n direkte vraag of geld beskikbaar is vir herstelwerk, was dit ‘n besliste ja.  “Vhembe Distriksmunisipaliteit beskik oor al die nodige hulpbronne,” sê Shibambu.

 

News - Date: 02 April 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Pétria de Vaal

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: