ADVERTISEMENT:

 

Volgens dogter Jeanette het ma Matilda daarop aangedring dat familiefoto’s gereeld geneem moes word. Hierdie is een van hul meer onlangse foto’s. Van links na regs is Jaco (skoonseun), Liezl (jongste dogter), Jeanette (oudste dogter), Casper (oud-vriend van Jeanette), wyle Matilda, David (eggenoot), Neil (oudste seun), Estelle (skoondogter) en Caitlyn (kleinkind). Foto verskaf.

Matilda sal onthou word vir haar deernis en liefde

 

Louis Trichardt se geliefde Matilda Craig (65) se skielike dood op 16 Maart, minder as 'n maand nadat sy met pankreaskanker gediagnoseer is, het vir almal as ‘n groot skok gekom. In lewe het sy diep spore in die harte van baie getrap en baie sal haar onthou as ‘n deernisvolle en onbaatsugtige persoon.

“Suster Matilda”, soos sy alombekend gestaan het, was welbekend in plaaslike gesondheidgeledere wat betref haar jarelange verbintenis tot die plaaslike munisipaliteit se gesondheidsafdeling en daarna die staatskliniek.

Matilda was die tweede oudste van vier susters. “Sy is in 1955 in Bloemfontein gebore en ons het feitlik al ons kinderjare in die Vrystaat deurgebring. Vir ons sussies, was sy ‘Tilla’.  Ons sal Tilla altyd onthou as ons stiller, kreatiewe sussie met die groot liefde vir musiek en interessante stokperdjies,” onthou haar susters Nellie, Wilma en Elbi haar. Hulle onthou ook haar suksesse op skool in naaldwerk, kuns, klaviereksamens en as leier. “Tilla sal altyd onthou word vir haar deursettingsvermoë in elke dimensie van haar lewe. Van haar verplegingsgraad, soms onder moeilike omstandighede, tot haar aandag en liefde vir pasiënte en ander mense se lyding en nood. Ander het altyd bo haar eie behoeftes en belange gekom. Troeteldiere en haar orgideë-tuin was soos haar kinders. Wanneer ons raserige klomp familie saam was, het sy op haar unieke manier ons dopgehou. Glimlaggend en aandagtig na elke woord geluister en soms gelag dat die trane loop. Haar onselfsugtige omgee-hart, vol liefde, passie en deernis vir almal om haar, ons familie en ma sal ons bybly. Altyd bereid om die tweede myl te stap! Tilla ... nederig, sag, bereidwillig, hulpvaardig...” het die susters gesê.

“Vandat ek haar op 'n blind date ontmoet het, het ek eers geleef. Noudat sy weg is, is die lewe vorentoe leeg, maar dan sien ek haar nalatenskap. Haar wonderlike drie kinders en twee kleinkinders,” het eggenoot David gesê. Vanaf die eerste oomblik wat David vir Matilda ontmoet het, het hy geweet sy is die een vir hom. Toe hulle mekaar ontmoet het, het al twee van hulle by Kovsies (Universiteit van die Vrystaat) gestudeer. Die egpaar se tweede kleinkind is ‘n week ná Matilda se dood gebore.

“My moeder en ek het ons liefde vir diere gedeel. In die huis het ek en sy saam gekoer oor worshonde se kleintjies. Sy het selfs my hamsters vertroetel. Die huis was vol honde en voëls en vir elkeen was sy lief. Later jare het sy my honde hanteer as haar kleinkinders en hulle het selfs Kersgeskenke gekry. Wanneer ons op die foon gepraat het, sou sy natuurlik ook vra oor haar honde kleinkinders,” onthou dogter Liezl haar ma. Sy het bygevoeg dat wanneer hulle in die dorp was, haar ma altyd tyd gehad om te stop en te luister na mense se kwale. “Of sy haastig was of nie, somtyds tot my frustrasie. Sy het altyd die beste van mense verwag en sou eers hul foute raaksien as hulle haar klaar teleurgestel het,” het Liezl gesê.

Haar seun Neil het gesê hulle was geseënd om iemand soos ma Matilda in hulle lewens te hê. “Al was sy saggesproke, was sy altyd kleurvol, nooit vaal in voorkoms nie, maar steeds nederig. Sy was die definisie van ‘n altruïs, haar oor almal en alle diere ontferm. Bedagsaamheid is een van die uitstaande eienskappe wat ons by haar geleer het. Sy sou help waar sy kon, te spyte van hoeveel dit haar sou kos. Sy’t haar volle lewe gespandeer as ‘n dienaar van mense, soos dit ‘n goeie Christen betaam,” het Neil gesê.

Skoonseun Jaco, Liezl se man, onthou ook sy skoonma met deernis. “Ek het vlerk gesleep by haar jongste dogter in 2013, en in 2014 is daar vir my ‘n jaarlikse griepinspuiting voorsien. Dit was vir my vreemd, maar ek het ingestem om die inspuiting te neem want ‘Ma’ het aangedring. Volgens haar dogter was dit ‘n teken dat Ma (of Tilla) jou aanvaar het as deel van die familie. In werklikheid het sy my laat deel voel van die familie van my eerste ontmoeting met haar,” het Jaco gesê.

Volgens Jaco het “Ma Tilla” verseker haar roeping uitgeleef in alles wat sy aangepak het in die lewe. “Die graad van omgee wat sy vir ander gehad het, vreemdeling of familie, is die een eienskap wat haar die beste beskryf. As ‘n buitestaander kon ek ook sien hoe daardie hardkoppige eienskap haar nadelig beïnvloed het by tye, maar dit sou haar nie stop om ander te help nie. Vandag is ek trots om te sê dat ek die voorreg gehad het om haar as my skoonma te kon gehad het,” het Jaco gesê.

“Ons het in ‘n huis groot geword waar ons ouers daarvan gehou het om kreatief te wees. Dit sou hierdie kreatiwiteit, veral vanaf my ma se kant af, wees wat my en my sussie later geïnspireer het om ons eie besigheid te begin,” het dogter Jeanette gesê. Sy onthou met ‘n glimlag hoe haar ma altyd vir haar pa se grappe gelag het. “My pa vertel altyd sulke regte ‘pa grappies’. So ‘n droë sin vir humor. Die een dag het hy vertel dat een van die grootste vreugdes om met my ma getroud te wees, was dat sy altyd vir sy grappe gelag het, al het hy dit al vertel. Haar verduideliking was dat alhoewel sy dit al gehoor het, sy dit weer snaaks vind,” het Jeanette gesê.

‘n Roudiens vir Matilda word op 12 April om 09:00 vanuit die Agapé-gemeente op Louis Trichardt gehou. Weens Covid-19 regulasies het die familie persone versoek om voor die tyd te registreer indien hulle die diens wil bywoon. Om te registreer, skakel 083 376 9919 of stuur ‘n e-pos aan [email protected]. Alternatiewelik kan belangstellendes ook ‘n stemboodskap los op tel. 083 376 9119. 

Wyle Matilda word oorleef deur haar man David, kinders Jeanette, Liezl en Neil, ma Bettie de Villiers, susters Elbi, Wilma en Nellie, twee kleinkinders en aangetroude familie.

 

News - Date: 03 April 2021

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: